Huisgenoot

Baba no 3 vir Lee-Ann Liebenberg

Ná die teleurstel­ling van ’n miskraam is Lee-Ann Liebenberg en Nicky van der Walt kalm en rustig met ’n nuwe seuntjie, nuwe restaurant en nuwe huis

- Deur JANA VAN DER MERWE Foto’s: SHARON SERETLO

KORT voor die inperking het Lee-Ann Liebenberg en haar donkerkopm­an middagete geëet by die einste plek in die hartjie van Sandton waar ons hulle vandag ontmoet. Hoe anders het die lewe nie toe gelyk nie. Hoe min het hulle geweet van wat voorlê: benewens die covidpande­mie ook ’n miskraam, ’n nuwe baba, ’n nuwe sakeondern­eming en ’n nuwe huis.

Vir dié ouers van twee beeldskone dogters was hul laatlamseu­ntjie, wat intussen gebore is, destyds nog net ’n vonkel in sy pa,

Nicky van der Walt, se oog.

Daardie dag is hul gemoed deur hartseer oorheers omdat dié Thaise eetplek, hul jare lange gunsteling­restaurant met sy uitsig op Nelson Mandela Square, binnekort sy deure moes sluit.

Lee-Ann het met haar restaurate­ur-man gespot: “Hoekom sit jy nie ’n aanbod vir die perseel in nie?” Sandton se Nelson Mandela Square is immers van die duurste eiendom op die vasteland.

“Ek was nie ernstig nie, maar duidelik het hy my ernstig opgeneem,” vertel Lee-Ann nou met ’n groot wit glimlag.

“Ek het die aanbod ingesit die Vrydag voor pres. Cyril Ramaphosa die inperking aangekondi­g het,” vertel Nicky met groot oë. Die egpaar se drome en bouplanne om hul eie Oosterse spogrestau­rant hier oop te maak was weens die inperking dadelik op ys.

Planne om ’n derde keer ouers te word was daar nie, maar toe raak Lee-Ann (38) wel swanger. Ná net ’n paar weke het sy ’n miskraam gehad. Met planne vir die restaurant in die weegskaal en die vooruitsig van ’n baba in ’n oomblik verpletter, kon hulle maklik moed verloor.

Maar hulle het besluit om deur te druk met sowel hul planne vir die restaurant as hul planne om ’n derde kind te kry. En Lee-Ann hét toe weer swanger geraak.

“My derde baba is vir my spesiaal omdat ek voor hom ’n miskraam gehad het. Ek het net twee weke ná die miskraam met hom swanger geraak; vir my is hy ’n wonderwerk,” vertel sy.

“Ja, en toe kry ek twee babas in twee maande!” vertel Nicky oor sy nuwe restaurant én baba. In sy vrou se arms is hul bondeltjie van net drie maande, Jagger, wat in Maart sy opwagting gemaak het – net twee maande voor die luukse restaurant Tang se opening op 13 Mei.

TOE ons in die elegante restaurant met sy geurige Japannese en Kantonese spyskaart instap, omvou die hitte van die gasverwarm­ers ons. Nicky verwelkom ons met eg Afrikaanse gasvryheid en is kort-kort daar terwyl ons smul aan die izakayas – klein bordjies met teriyaki-hoender, tuna-tataki en garnale.

“Verstaan julle nou hoekom dit so moeilik is om maer te bly!” spot LeeAnn. Maar in haar sagte roomkleuri­ge bloes, noupassend­e kunsleerbr­oek en hoë spyker

‘EN TOE KRY EK TWEE BABAS IN TWEE MAANDE – ’N RESTAURANT ÉN BABA’

hakke lyk sy gemaklik én fantasties. “Dit was baie moeilik om weer my figuur terug te kry. My hormone is steeds deurmekaar. Ek is nie meer so gedissipli­neerd soos wat ek met ons dogters se geboorte was nie.

“Ek gun myself nou meer tyd. Met hulle was dit net dadelik go-go-go. Dié keer vat ek dit baie rustiger. Ek is ook nie meer 20 nie. Ek wil my tyd vat; ek wil emosioneel net eers weer oukei word voor ek weer hard aan my lyf werk.”

Nicky vertel Lee-Ann se bietjie ekstra gewig skeel hom min. Hy vee ’n lang lok uit haar gesig voor hy haar in die oë kyk en sê: “Vir my is Lee-Ann mooier as ooit.”

Lee-Ann sus die kwylende mannetjie in haar arms: “Hy gaan ons jonk hou! Ons was gemaklik in ons lewe en ewe skielik begin jy weer van voor af !”

Gia (10) en Bella (7) kloek om hul bababoetie nadat hulle kort tevore van die skool af gekom het. Die sussies is baie erg oor die nuwe toevoeging en baklei letterlik om hom vas te hou.

“Ek maak altyd vir hom ’n warm melkbottel,” vertel Gia. “Ek sus hom ook aan die slaap. Ek is lief vir wiskunde, en eendag wil ek ook ’n restaurate­ur soos my pa wees.”

Nicky, ’n sakeman wat al meer as twee dekades in die restaurant­bedryf werk, lyk fiks en lenig in sy formele en noupassend­e langbroek en blink swart skoene.

Daar is ’n kalmte om hulle.

“As ouers is ons nou baie meer volwasse. Met Gia was dit die eerste keer dat jy ’n doek ruil, en met Bella het jy so half skuldig gevoel, want jy het vir Gia ook en jy probeer alles balanseer.

“Maar toe ons eers die balans regkry, was die derde een net natuurlik en gemaklik.”

Nicky vertel Jagger lyk nes sy ma en Gia: “Dis beslis nie die ergste begin in die lewe om soos Lee-Ann Liebenberg te lyk nie!”

Lee-Ann kom uit ’n goue era voor die sosiale media toe sy nog op die voorblaaie van tydskrifte soos FHM, Cosmopolit­an en Women’s Health gepryk het. Maar ná die geboorte van hul dogters het sy haar modelwerk afgeskaal en vandag is sy heeltyds ma en tuisteskep­per.

Toe hulle verlede jaar tydens die inperking uitvind sy is swanger, was dit aanvanklik ’n groot skok.

“Maar toe ons vir die meisies daarvan sê, was hulle so gelukkig.”

Maar die ouerpaar het ook die moeilike taak gehad om hul dogters te vertel toe hulle die baba verloor.

“Hulle was verpletter,” sê Lee-Ann. Twee weke later was sy swanger met Jagger.

Hy is op sy pa se 41ste verjaardag op 4 Maart vanjaar gebore.

“God het ons met ’n seuntjie geseën. Ek het nou iemand saam met wie ek eendag polo kan speel,” sê die trotse pa.

Lee-Ann vertel sy het die miskraam intussen verwerk.

“Ek het net gedink as die ma van dogters moet ek deur hierdie dinge gaan, vir as hulle ooit deur so iets moet gaan. Alles kom nie altyd maklik nie.”

IN DIE twee weke voor Tang se opening moes hulle na ’n nuwe huis in Sandton trek, want skielik het hulle ’n babakamer nodig gehad. Lee-Ann vertel: “Ons het al die ou babagoed weggegee. Onthou, alles was pienk!” In hul nuwe huis het hulle vir Jagger ’n swart-en-grys babakamer ingerig “met ’n getekende foto van Mick Jagger bo sy kop”, vertel Nicky, ’n groot Rolling Stonesaanh­anger.

“Dit was altyd so,” beaam Lee-Ann. “As ons ’n seuntjie moes hê, sou sy naam Jagger wees. Dis ’n mooi naam.”

Die egpaar maak soggens tyd vir mekaar. Hulle eet saam ontbyt, en Nicky probeer Gia en Bella so gereeld moontlik by die skool aflaai, waarna hy en Lee-Ann in die gimnasium gaan oefen.

Die twee is al 11 jaar saam en het op 20 Maart hul 10de huwelikshe­rdenking gevier. “Gia was daar met ons troue, so Bella wil weet hoekom sy nie daar was nie. Sy wil hê ons moet iets hou om ons huweliksbe­lofte te hernu,” sê Lee-Ann.

Hulle maak ’n gedugte span, en ná al die jare is hulle nog dolverlief op mekaar. Hulle is toegewyd aan alles wat hulle deel – hul gesin én die nuwe restaurant.

Ingenome kyk Nicky na Lee-Ann en laat val sommerso net tussen hulle: “My skat, ons eet vanaand ná die oueraand by die skool weer hier.”

 ??  ?? Lee-Ann Liebenberg en haar man, Nicky van der Walt, is ’n babaseun ryker en Nicky bedryf ’n spogrestau­rant.
Lee-Ann Liebenberg en haar man, Nicky van der Walt, is ’n babaseun ryker en Nicky bedryf ’n spogrestau­rant.
 ??  ?? Nicky en Lee-Ann vertel hulle is nou albei meer volwasse met die geboorte van hul kleinding, Jagger.
Nicky en Lee-Ann vertel hulle is nou albei meer volwasse met die geboorte van hul kleinding, Jagger.
 ??  ?? Ná ’n dekade van getroud wees is die paartjie nog so verlief soos met hul ontmoeting.
Ná ’n dekade van getroud wees is die paartjie nog so verlief soos met hul ontmoeting.
 ??  ?? Lee-Ann straal ná die geboorte van haar derde kind, al was dit dié keer moeiliker om haar figuur terug te kry, vertel sy.
Lee-Ann straal ná die geboorte van haar derde kind, al was dit dié keer moeiliker om haar figuur terug te kry, vertel sy.
 ??  ?? Nicky se nuwe luukse restaurant, Tang, is in Nelson Mandela Square in Sandton.
Nicky se nuwe luukse restaurant, Tang, is in Nelson Mandela Square in Sandton.
 ??  ?? Die mooi gesin is van links Gabriella, Nicky met klein Jagger, Lee-Ann en hul oudste, Gia.
Die mooi gesin is van links Gabriella, Nicky met klein Jagger, Lee-Ann en hul oudste, Gia.
 ??  ?? BO: Gia met haar kleinboet, Jagger. ONDER: Nicky is versot op die kleinman.
BO: Gia met haar kleinboet, Jagger. ONDER: Nicky is versot op die kleinman.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa