Huisgenoot

Natasha se Mej Heelal-teleurstel­ling

Natasha Joubert maak hart oop oor haar teleurstel­ling by vanjaar se Mej. Heelal-kompetisie

- Deur JODY-LYNN TAYLOR Foto: LUBABALO LESOLLE

DIE vlam van hoop moes sterk in haar bors gebrand het. Almal het immers bespiegel sy is ’n gunsteling om die Mej. Heelal-kompetisie te wen, en sy beskik boonop oor al die kenmerke van ’n skoonheids­koningin. Maar toe breek die groot oomblik aan. Die name van die top-21-finaliste word uitgeroep – en Suid-Afrika is nie onder die 21 lande nie.

Natasha Joubert (23) onthou die skok, teleurstel­ling en verwarring wat sy in Mei daar in Amerika op die verhoog van die Mej. Heelal-kompetisie ervaar het toe sy hoor sy dring nie deur na die volgende ronde van die kompetisie nie.

“Waar het iets skeefgeloo­p? Wat kon ek anders gedoen het?” het dit deur die skoonheid van Centurion se kop gemaal, erken sy vandag.

Sy het moedig bly glimlag, maar toe sy die verhoog verlaat, het sy dadelik die foon opgetel en Werner Wessels, die stilis en kreatiewe hoof van Mej. Suid-Afrika, en Stephanie Weil, die uitvoerend­e hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasi­e, gebel. “Hulle was natuurlik besig om te kyk. Ek het so sleg gevoel, want hulle het nes ek gedink ek sou goed vaar,” vertel Natasha.

Ook Werner het geen woorde gehad nie – hy kon dit skaars glo. Stephanie het haar moed ingepraat, en albei was steeds so trots op haar.

Natasha erken sy het lang trane gehuil toe sy gedink het aan al die Suid-Afrikaners wat tweeuur die oggend opgestaan het om na die televisieu­itsending van die kompetisie te kyk. Ook hul hoop is verydel toe sy in die Seminole Hard Rock Hotel & Casinokomp­leks in Hollywood, Florida, moes toekyk hoe ander lande se deelnemers as finaliste pronk en Mej. Mexiko, Andrea Meza (26), eindelik die kompetisie wen.

Maar daarna het sy steun vanuit alle oorde ontvang, vertel Natasha noudat sy terug op eie bodem is.

“Baie mense het na my toe gekom en vir my ’n drukkie gegee en gesê hulle kan dit nie glo nie. Hulle

het geweet dit was moeilik vir my omdat Suid-Afrika die afgelope drie jaar so goed gevaar het; hulle het geweet ek wou baie graag ook goed doen.”

Ná ses maande se voorbereid­ing het sy gehoop sy sou die vierde Suid-Afrikaner wees wat die kroon dra. Die vorige SuidAfrika­anse wenners was Margaret Gardiner in 1978, Demi-Leigh Tebow in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019. Tamaryn Green het in 2018 as die naaswenner van die kompetisie weggestap.

Dit was Natasha toe nie beskore nie, maar sy gaan nie toelaat dat dit haar drome kelder nie.

DIS ’n dag ná haar terugkeer na Suid-Afrika toe Natasha met Huisgenoot gesels oor haar ervaring. Sy was ’n maand lank in Amerika en erken sy voel ’n bietjie vlugvoos. Die skoonheid met die spierwit glimlag, donker lokke en heldergroe­n oë sê dis vir haar lekker om nou ’n slag nie grimering te dra nie.

“Dit was moeilik om te aanvaar dat ek nie verder aan die kompetisie kon deelneem nie,” erken sy openlik.

In vorige jare moes ’n vereiste vier finaliste uit elke vasteland na die volgende ronde deurdring, maar dié vereiste is vanjaar afgeskaf, met die gevolg dat daar nie ’n enkele verteenwoo­rdiger van Afrika in die top-21 was nie. “Dit het my hart seergemaak, want jy voel jy laat nie net SuidAfrika in die steek nie; jy laat die hele Afrika in die steek.”

Maar sy kan nie uitgepraat raak oor die ondersteun­ing wat sy van die voormalige Mejj. Heelal Demi-Leigh en Zozibini ontvang het nie.

“Zozi kon dit nie so baie wys soos Demi nie, want sy was die huidige Mej. Heelal.” Tog het sy Natasha soms aangemoedi­g: “Jy doen fantasties.” Sy het selfs voor die eindronde vir haar ’n boodskap gestuur om haar sterkte toe te wens.

Demi-Leigh (25), wat met die Amerikaans­e

Nbofbalspe­ler Tim Tebow (33) getroud is en deesdae in Jacksonvil­le, Florida, woon, het haar oor Natasha ontferm. “Sy het ná die tyd na my toe gekom en vir my ’n drukkie gegee en my net regtig ondersteun.

“Sy was as ’n ouer sussie daar vir my. Ek dink altyd dis wat jy in ’n vriendin soek. Iemand wat daar is deur die moeilike tye en nie net die goeie tye nie.”

Sy het na afloop van die kompetisie vir Demi gaan kuier en kon ’n bietjie van Amerika sien.

Die twee vroue is al vriendinne sedert Natasha 17 en Demi 19 was. “Toe ons mekaar destyds ontmoet het, het ons net dadelik gekliek. Demi het gesê ek kan kom kuier, en ek het ná die kompetisie kaartjies bespreek en gegaan.”

Tydens haar kuier in Jacksonvil­le het hulle see toe gegaan en gebraai. “Dit was my heel eerste keer in Amerika, en so lekker om te ontspan.”

ATASHA neem al sedert 10jarige ouderdom aan skoonheids­kompetisie­s deel. Sy moes later modelwerk om ander redes doen nadat haar pa, Willem, sy werk in 2009 verloor het.

“As ek geweet het die kompetisie het prysgeld, het ek deelgeneem. Dit was ’n manier waarop ek snoepiegel­d gehad het of hokkietoks­e kon koop,” het sy in ’n vroeëre onderhoud vertel.

Haar ma, Ninette (51), het later self haar rokke begin maak, en sy het later ook haar aandrokke vir ’n ekstra inkomste begin verhuur. So is die saadjie geplant vir haar ontwerpond­erneming, Natalia Jefferys, wat nou reeds vyf jaar oud is. Natasha het 43 uitrusting­s na Amerika saamgeneem en ook tydens die kompetisie ’n skepping gedra wat deur ma Ninette gemaak is.

Ook pa Willem was daar in die vreemde in haar hart, want sy het haar deelname aan die kompetisie aan hom opgedra. Hy is op 1 Augustus 2013, op sy 49ste verjaardag, weens septisemie oorlede.

Kort voor die kompetisie het sy in ’n sosialemed­ia-inskrywing geskryf: “Ek weet dat jy die beste uitsig saam met die engele sal hê wanneer jy my op daardie verhoog sien.”

Haar broer, Reinier (26), en suster, Danielle (28), is albei prokureurs en woon nes Natasha en ma Ninette in Gauteng.

Sy is bly om nou tuis te wees by haar gesin, en ook by haar diere, die Maltese hondjies Cody en Bailey, sê sy.

En noudat Mej. Heelal agter haar lê, waarheen mik sy volgende?

Sy wil haar eie klerereeks bekendstel en droom daarvan om in die toekoms die uitrusting­s te maak vir Suid-Afrika se verteenwoo­rdigers by toekomstig­e Mej. Heelal-kompetisie­s.

“Ek was baie positief en optimistie­s oor Mej. Heelal, en ek weet vir seker dit gaan deure vir my oopmaak,” vertel sy. “Ek is trots op myself.”

En al sal sy die Mej. Heelal-kroon nou nie self kan dra nie, sal een van haar opvolgers dalk nog eendag daardie kroon dra in ’n rok wat sý ontwerp het.

Ná die kompetisie het Natasha ’n blaaskans geneem en Amerika verken, waar sy ’n ruk gekuier het by DemiLeigh, wat in Jacksonvil­le, Florida, woon. LINKS en ONDER: Sy verken die stad St. Louis in Missouri.

 ??  ?? Natasha Joubert, Suid-Afrika se verteenwoo­rdiger by vanjaar se Mej. Heelalkomp­etisie.
LINKS: Sketse deur kinders het haar nasionale kostuum versier. Natasha was ’n gunsteling onder aanhangers om die Mej. Heelal-kompetisie te wen. BO: Die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Tebow het Natasha geweldig ondersteun.
Natasha Joubert, Suid-Afrika se verteenwoo­rdiger by vanjaar se Mej. Heelalkomp­etisie. LINKS: Sketse deur kinders het haar nasionale kostuum versier. Natasha was ’n gunsteling onder aanhangers om die Mej. Heelal-kompetisie te wen. BO: Die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Tebow het Natasha geweldig ondersteun.
 ??  ?? ONDER: Natasha sê die vorige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, is ’n rolmodel en was ook vir haar ’n steunpilaa­r.
ONDER: Natasha sê die vorige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, is ’n rolmodel en was ook vir haar ’n steunpilaa­r.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Die skoonheid se familie is haar grootste ondersteun­ers. Van links is haar broer, Reinier, Natasha, haar suster, Danielle, en ma, Ninette. BO: Natasha en haar pa, Willem, wat in 2013 oorlede is.
LINKS: Die skoonheid se familie is haar grootste ondersteun­ers. Van links is haar broer, Reinier, Natasha, haar suster, Danielle, en ma, Ninette. BO: Natasha en haar pa, Willem, wat in 2013 oorlede is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa