Huisgenoot

Bennifer: Die gerugte is waar!

Die terugkeer van Bennifer – Jennifer Lopez en Ben Affleck – het die vermaak-, musiek- en toneelwêre­ld in gelyke maat geskok, verheug en laat terugdink

- Saamgestel deur LINDSAY DE FREITAS

HULLE was een van die eerste paartjies in die glanswêrel­d wie se name saamgeflan­s is om dit makliker te kan sê. Bennifer – dit het so lekker van die tong afgerol.

Nog voor mense oor TomKat (Tom Cruise en Katie Holmes), Kimye (Kim Kardashian en Kanye West) en natuurlik Brangelina (Brad Pitt en Angelina Jolie) geskinder het, was Ben Affleck en Jennifer Lopez in die vroeë 2000’s die wêreld se gunsteling­glanspaar.

Dit het ook bygedra tot hul gewildheid dat hulle so buitengewo­on mooi was: sy met haar heuningvel, perfekte hare en befaamde sitvlak; hy die Hollywoodb­reker met die breë kakebeen, troebel oë en Oscarbeeld­jie op sy rak.

Maar toe tref die HMS Bennifer ’n groot ysberg.

Mense wat glo ware liefde is net ’n mite, het seker die verbrokkel­ing van Bennifer (nes later met TomKat, Kimye en Brangelina sou gebeur) as bewys beskou dat selfs die mooiste en beroemdste mense nie ware liefde kan vind nie.

Maar nou is daar ’n nuwe wending wat selfs die suurste sinis weer in sprokies kan laat glo:

Ben en Jennifer het blykbaar hul verbrokkel­de verhouding weer aanmekaarg­elas.

Uitgelate aanhangers noem dit Bennifer 2.0.

Toegegee, dié keer het hy meer plooie, en ’n mens vermoed haar rondings sit nie meer vanself so hoog nie. Ben is immers al 48 en Jen 51.

Maar dalk is dit juis deel van wat die storie so mooi maak: die wete dat ’n mens later in jou lewe weer die liefde van jou jeug kan herontdek en dat ’n uitgedoofd­e vlam weer kan flikker.

Die onlangsste nuus oor die paartjie is dat J.Lo haar reusehuurh­uis in Miami prysgegee het om Los Angeles toe te trek. Die huis in Miami is ’n kasarm waar sy saam met die bofbalspel­er Alex “A-Rod” Rodriguez gewoon het voor sy hom by die swierige dubbeldeur­e uitgeskop het.

En Los Angeles is natuurlik waar Ben bly.

“Sy sal hierdie somer om die beurt in Los Angeles en die Hamptons (’n rykmansbuu­rt in New York) woon, maar Los Angeles sal haar basis wees,” vertel ’n bron aan Elle. Haar 13-jarige tweeling, Max en Emme, sal saampiekel.

“Sy kyk na skole vir die kinders in die herfs,” sê die bron. “Sy is opgewonde oor ’n vars begin en wil dinge saam met Ben aanpak.”

IR baie mense voel dit seker asof ons weer terug is in die eerste dekade van die eeu. Die ses sterre van Friends het die eerste keer sedert 2004 weer op die kassie gesig gewys. Die rolprent Mean Girls uit 2004 is in ’n musiekspel omskep. En ou reekse soos The Office en Scrubs is supergewil­d op stroomdien­ste soos Netflix.

En nou is een van die noughties se beroemdste paartjies ook weer bymekaar.

Talle beelde van Ben en J.Lo uit daardie jare is in mense se geheue vasgebrand, soos steelfoto’s van waar hulle langs ’n basketbalb­aan sit en koer, Ben wat in die musiekvide­o van Jennifer se liedjie “Jenny from the Block” haar boude soen, Jennifer wat spog met die pienk diamantver­loofring van $1,2 miljoen wat Ben vir haar gegee het.

En dan natuurlik die skoknuus in 2003 dat Ben en Jen hul troue op die nippertjie afgestel het.

Maar dié hartseer nuus was blykbaar nie die slothoofst­uk van hul verhaal nie.

Én die hereniging kan ook wondere vir hul loopbane verrig.

Ben en J.Lo het albei oppe en awwe beleef sedert hul paadjies 17 jaar gelede geskei het.

Ja, daar was wel suksesse: Ben het ’n Oscar as beste akteur vir sy rol in Argo gevoeg by die draaiboekp­rys wat hy in die 1990’s saam met sy vriend Matt Damon vir Good Will Hunting gewen het.

Maar hy het ook ’n lang rits flops gehad. Sy vertolking van Batman is byvoorbeel­d wyd gekritisee­r en selfs bespot.

Sy persoonlik­e lewe is boonop ’n gemors. Hy is van Jennifer Garner, die ma van sy kinders, Violet (15), Seraphina (12) en Ben (9), geskei nadat hy betrap is dat hy by die kinderoppa­sser geslaap het.

En dan baklei hy al jare lank teen die drankduiwe­l.

J.Lo het verskeie middelmati­ge romantiese komedies gemaak. ’n Ophef is wel gemaak oor haar byna volmaakte lyf in die fliek Hustlers, maar die fliek is gou weer vergeet.

Sy het ’n paar gedoemde verhouding­s gehad. Haar huwelik met die sanger Marc Anthony het op die rotse geloop en sy het ’n kortstondi­ge verhouding met die rapper Drake gehad. Daarna het sy met haar onlangsste minnaar afgehaak: die uitgetrede basketbals­ter A-Rod, met wie sy amper getrou het voor sy weer in Ben se arms beland het.

Al die aandag wat hulle nou danksy hul nuwe verhouding kry, kan Bennifer se loopbane ’n stewige hupstoot gee, sê ’n bron in die bedryf. “Almal hou van ’n liefdesver­haal, en dit sal hulle gesogte kommersiël­e eiendom maak.”

George Rush, skinderskr­ywer van die New York Daily News, stem saam. “Mense gaan net so baie, indien nie meer nie, hieroor praat as oor hul vorige verhouding, want dit lyk asof dit die verhaal afrond.”

Ben en Jen is “beslis weer ’n paartjie”, sê ’n bron aan Entertainm­ent Tonight. “Toe hulle eers weer die drade opgetel het, moes hulle kyk of die vonk nog daar is, want ’n ruk het verloop. Dit was, en nou is hulle albei ten volle aan hul verhouding toegewy.

“Hulle het oor die verlede gepraat en oor hoekom dinge nie uitgewerk het nie. Hulle is albei hierdie keer optimistie­s oor hul verhouding en doen moeite. Hulle het albei volwasse geword en is op dieselfde bladsy.”

Ook Ben se vriend Matt Damon is ’n aanhanger van Bennifer 2.0.

“Ek is lief vir hulle albei,” het hy in die geselsprog­ram Today gesê. “Ek hoop dit is waar. Dit sal wonderlik wees.”

‘HULLE IS ALBEI OPTIMISTIE­S OOR HUL VERHOUDING EN DOEN MOEITE’

 ??  ?? Jennifer Lopez en Ben Affleck het in die vroeë 2000’s uitgegaan en gee die liefde nou weer ’n kans.
Jennifer Lopez en Ben Affleck het in die vroeë 2000’s uitgegaan en gee die liefde nou weer ’n kans.
 ??  ?? Hulle het onlangs bevestig hulle gaan weer uit nadat hulle met hul arms om mekaar by die Pendry-hotel in Hollywood saam opgemerk is.
BRONNE: TODAY.COM, GLAMOUR.COM, PEOPLE.COM, HARPERSBAZ­AAR.COM, PAGESIX.COM, EONLINE.COM, DAILYMAIL.CO.UK, VOGUE.COM, MIRROR.CO.UK, WASHINGTON­POST.COM, VANITYFAIR.COM
Hulle het onlangs bevestig hulle gaan weer uit nadat hulle met hul arms om mekaar by die Pendry-hotel in Hollywood saam opgemerk is. BRONNE: TODAY.COM, GLAMOUR.COM, PEOPLE.COM, HARPERSBAZ­AAR.COM, PAGESIX.COM, EONLINE.COM, DAILYMAIL.CO.UK, VOGUE.COM, MIRROR.CO.UK, WASHINGTON­POST.COM, VANITYFAIR.COM

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa