Daggafirma verbeter lewe in Lesotho
Sy onderneming is die eerste in Afrika wat medisinale dagga na Europa uitvoer – én dit verbeter die swaar lewe plaaslik
DIE bergkoninkryk van Lesotho is al dekades lank bekend vir sy dagga – asook vir polisieklopjagte op onwettige plantasies. Helikopters daal uit die lug neer, daggaplantjies word uit die vrugbare grond gepluk en in enorme hope verbrand . . . Met sulke dinge wou Andre Bothma (53), ’n boerseun wie se familie al drie geslagte in Lesotho woon, voorheen niks te doen hê nie. Hy was dus skepties toe die wêreld oor die wettige kweek van kannabis vir mediese gebruik begin opgewonde raak. Dagga bly dagga, het hy gedink.
Maar hoe meer dié bou- en eiendomsondernemer oor die nuwe gier gehoor het, hoe nuuskieriger het hy geraak. Hy het sy eie navorsing gedoen en besef mense in die wettige daggabedryf rook nie sommer net twak nie – en praat dit ook nie. En toe sluit hy by die wêreldwye kanna bis revolusie aan.
Kannabidiol- of KBD-olie word uit kannabisplante onttrek en by ’n verskeidenheid gesondheids- en welstandprodukte gevoeg: van tee tot lekkers en gekonsentreerde kruie-ekstrakte. Pynverligting, anti-in f lam ma tor i es een teen veroudering s eienskappe word daaraan toegeskryf. Dit bevat nie die verslawende of bedwelmende element van die daggaplant nie omdat dié uit die eindproduk verwyder word.
En waar Andre voorheen net daggawalms gesien het, sien hy nou ’n geleentheid om ’n verskil te maak.
In 2008 het Lesotho sy voorheen onwettige uitvoerproduk ’n respektabele nuwe baadjie gegee deur die kweek en gebruik van mediese kannabis te wettig. Die land se hoogte bo seevlak, lae humiditeit en oorvloed bewerkbare grond is ideaal daarvoor.
Andre en sy sakevennote het toe ’n aanleg gebou om die kannabisplante te kweek en die verwante produkte te vervaardig. En hul onderneming het pas ’n multimiljoen dollar kontrak losgeslaan om mediese kannabis na Europa uit te voer. Dit maak van hulle die eerste en enigste maatskappy in Afrika en een van net sowat 20 produsente wêreldwyd wat EU-sertifisering verwerf het.
Maar vir hom gaan dit eintlik oor die mense van Lesotho, vertel Andre.
Een uit vier mense in die land is werkloos, en hy hoop sy kannabisonderneming, wat verlede maand met uitvoer begin het, sal binnekort werk aan meer as 3 000 mense gee.
“Ons sit in ’n landelike gebied waar daar skaars enige inkomste is,” sê Andre. “Meer besigheid sal ’n rimpeleffek skep, want ’n toename in die werkmag beteken ook ’n toename in die dorpsbewoners se inkomste.”
En dit sonder die gevaar van polisiehelikopter s wat uit die lug neerdaal om hul oeste en inkomste te vernietig.
A NDRE en sy vennote se belegging om hul onderneming, MG Health, te laat wortelskiet, was tot dusver enorm. Hulle moes onder meer ’n deeglike omgewingsimpakstudie laat doen. “Dit het ons vier jaar en net meer as R400 miljoen gekos om by hierdie punt te kom,” vertel hy.
Om groot plante wat welig blom te kan kweek, moes hulle ’n ongerepte omgewing ver van bestaande kommersiële plase vind, met skoon lopende water en elektrisiteit. “Omdat ons die kannabisblom droog, die olie onttrek en dit konsentreer, kan selfs ’n milligram plaagdoder dit besmet.” Hul keuse? Die heuwels van die dorpie Marakabei. Die onderneming verskaf reeds werk aan 300 mense.
Rye plante word in die kweekhuis van 5 000 m2 gehuisves, waar die beligting, temperatuur en humiditeit streng gekontroleer word.
Die kannabis gedy in temperature tussen 20 °C en 28 °C, en voldoende lugsirkulasie verhoed skimmel. In blomtyd word ’n siklus van 12 uur lig en 12 uur donkerte gehandhaaf.
Omdat dit ’n mediese produk is, moet die olie wat hulle vervaardig gestandaardiseer en onbesmet wees. Om gehaltebeheer te verseker, moet werkers by die werk stort en beskermende klere dra. MG Health huur tans verblyf by plaaslike inwoners om hul werkers te huisves. Maar danksy die winsgewende EU-kontrak word nog uitbreidings beoog, wat aan nog 3 000 mense werk kan verskaf.
Met dít in gedagte wil Andre en sy span ’n personeeldorp ontwikkel, maar hulle nooi die bestaande eiendomseienaars van die omgewing om die verblyf op te rig sodat almal daarby kan baat vind. Danksy dié klem op maatskaplike verantwoordelikheid het hulle ook paaie en toilette in die gebied gebou.
Die florerende onderneming het reeds die lewe van die gemeenskap en die werkers ten goede verander, glo hulle.
Kekeletso Lekaota het ’n advertensie vir ’n kweker in haar plaaslike koerant gesien en aansoek gedoen. “Ek het toe nie geweet wat kannabis is nie,” sê sy. Nou lei sy werkers op om die plante te kweek, te oes en vir produksie voor te berei.
Mampho Thulo het al tuinhande gehad nog voor sy vir MG Health begin werk het. Sy het voorheen dagga op klein skaal by haar huis gekweek, erken sy. Maar sy was uitgelewer aan die genade van die smokkelbendes wat haar net ’n fraksie van die markwaarde van die dagga betaal het.
Om ’n ordentlike salaris te kry om haar vaardighede wettig in te span het haar lewe verander, vertel sy. “Nou het ek geld om my kinders se skoolgeld te betaal.” M G HEALTH se kweek- en vervaardigingslisensie is streng vir medisinale gebruik. Hulle sal na Duitsland toe uitvoer. Kannabisprodukte benodig ’n kombinasie van tetrahidrokannabinol (THK) en KBD om doeltreffende pynverligters te wees. Om aan EU-regulasies te voldoen, oes die maatskappy ’n kannabisstam met hoë vlakke van die verbinding THK, wat die bedwelmende invloed het.
Andre verwag die bedryf sal vinnig groei namate meer lande wette rondom die gebruik van kannabis verander. Om met die verwagte vraag en internasionale standaarde tred te hou, het hulle reeds 32 plaaslike mense met grade in sake en aptekerswese aangestel.
“Dit was fantasties om ’n nuwe onderneming te begin en die beste mense in die land te kon uitsoek om dit te laat gebeur,” sê Andre.
Kannabis is Lesotho se belangrikste kontantgewas. Dit verdien vir die piepklein bergkoninkryk wat deur SuidAfrika omring word elke jaar sowat R2 miljard.
Die land het ook aan verskeie ander internasionale maatskappye lisensies toegeken om daggaprodukte te kweek, te versprei en uit te voer.
Ander Afrikalande volg Lesotho se voorbeeld. In Zimbabwe – eens een van die wêreld se voorste tabakprodusente – is mediese kannabiskwekery ook reeds gewettig. En kenners meen die wettige kannabisbedryf in Suid-Afrika kan teen 2023 al R27 miljard werd wees.
Andre hoop sy maatskappy se kontrak – waarvolgens hulle in die eerste jaar twee ton kannabis na Duitsland sal uitvoer – sal die deure na ander internasionale markte oopmaak.
“Ons sal die lewensgehalte van mense oral in die wêreld kan verbeter. En ons sal buitelandse valuta in Lesotho inbring, wat meer werk sal skep en dus ook hier mense se lewens sal verbeter.”
‘ONS SAL DIE LEWENSGEHALTE VAN MENSE ORAL IN DIE WÊRELD KAN VERBETER’