Covid-variante en entstof wat werk
Ons vra die kenners oor die covid-19-variante en hoe entstowwe jou daarteen sal beskerm
ONS land is nou al sowat 18 maande in die greep van die coronakrisis – maar nou met die gevreesde derde vlaag van covid-infeksies in volle swang reg oor die land is die gevaar en dodetal groter as ooit tevore. Die hoogs aansteeklike deltavariant van die virus, met die kode B.1.617.2, is die dodelike stormwind wat infeksies soos wegholbrande aandryf. Einde Junie is sowat 18 000 nuwe covid-gevalle per dag in die land aangemeld. Ons totale covid-sterftesyfer is al oor die 63 000.
In Gauteng – kort voor Huisgenoot se druktyd nog die hardste getref deur die derde vlaag – is daar al ’n hele ruk te min hospitaalbeddens en sal baie siekes in die voorsienbare toekoms steeds tuis teen covid moet stry.
Die een ligpunt in hierdie duisternis is dat Suid-Afrika se inentingsveldtog, wat so pynlik stadig uit die wegspringblokke gekom het, blykbaar eindelik besig is om spoed op te tel. Hoewel nog heeltemal te min Suid-Afrikaners reeds die prik van hoop aan hul arm gevoel het, begin die wiele vinniger draai.
Een rede is “instapinentings” wat nou ook toegelaat word, eerder as die frustrerende gewag op die SMS van die gesondheidsdepartement wat jou ontbied. Maar elkeen van ons moet ons kant bring: Kry jouself so gou moontlik by die naaste inentingsplek, en wees maar geduldig as die tou lank is – dit kan jou lewe red.
Maar presies hoe sal die entstof jou teen die nuwe deltavariant beskerm? En sal jy steeds beskerm wees as die virus weer muteer?
Ons het al jou brandende vrae aan die kenners gaan stel.
DIE VIRUS SE VELE GEDAANTES: ALFA, BETA, DELTA . . .
Tot nou toe is verskeie SARS-CoV-2-variante al aangeteken. Gelukkig verdwyn sommige variante weer kort nadat hulle opduik, sê prof. Hannelie Meyer, hoof van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering (Savic).
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kategoriseer daarom alle gedokumenteerde variante as “variante van belang” of “variante van kommer”. En dit is laasgenoemde kategorie wat gesondheidsgevare inhou.
Wêreldwyd is daar tans vyf covid-variante van kommer: alfa (in Brittanje geïdentifiseer), beta (in Suid-Afrika gevind), gamma (eerste in Japan waarge
neem), delta (uit Indië) en lambda (eerste in Peru bespeur).
“Die jongste variant van kommer is die delta, want dit word vinnig dominant in baie lande in die wêreld – insluitend Suid-Afrika,” sê Hannelie.
Prof. Barry Schoub, internasionaal bekende viroloog en hoof van die ministeriële advieskomitee oor covid-19, sê die alfavariant is hoofsaaklik in die WesKaap aktief.
“Sover ons weet, het ons nie gamma in die land nie,” sê Barry.
Terwyl Suid-Afrika sukkel om die verspreiding van die deltavariant te hanteer, het die lambda-stam begin kop uitsteek. Teen 14 Junie het die WGO dit tot ’n “variant van belang” verklaar nadat lambda in 31 lande – onder meer Chili, Argentinië, Ecuador en Australië – gevind is.
Die lambdavariant, wat ook C.37 genoem word, is verantwoordelik vir sowat 81% van die gevalle wat in Suid-Amerika aangemeld word, maar dit is nog nie in Suid-Afrika bespeur nie.
IS ALLE SIMPTOME DIESELFDE?
Sedert die uitbreek van die pandemie is daar ’n openbare veldtog om mense bewus te maak van die algemeenste simptome van covid: ’n droë hoes, koors, verlies van smaak en reuk, borspyn en asemhalingsprobleme.
Maar soos wat die virus muteer, wissel die simptome ook. Hoe dan nou?
■ Dis byvoorbeeld moeilik om die simptome van die alfavariant duidelik te omskryf, erken Angelique Coetzee, voorsitter van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika: “Ons het nie daardie inligting nie, want dit versprei nie vinnig in Suid-Afrika nie.”
■ Die betavariant – tot onlangs die oorheersende variant in Suid-Afrika – verklap sy teenwoordigheid in jou lyf met ’n seer keel, smaak- en reukverlies, hoë koors en liggaamspyn.
■ Wat die verwoestende nuwe deltavariant betref, is daar nog hopeloos te min inligting oor die simptome, bevestig Hannelie. Die vroeë simptome van infeksie blyk soortgelyk te wees aan dié van ’n gewone verkoue. “Dit sluit in ’n toe neus of ‘snuffels’, krapperige, jeukerige of seer keel, matige hoofpyn en moegheid.”
Moenie dit sommer net as ’n verkoue wegpraat nie, want jy het moontlik covid. Laat jou toets as die simptome nie gou verdwyn nie.
HOEKOM IS DIE DELTAVARIANT SO AANSTEEKLIK?
Die deltavariant is volgens die WGO die “vinnigste en sterkste” variant en is 60% aansteekliker as die ander. “Voorlopige data raam dit is 30% tot 60% aansteekliker as Suid-Afrika se betavariant,” sê Hannelie. Omdat dit so uiters aansteeklik is, versprei dit vinnig onder die oningeënte bevolking.
Volgens Ravindra Gupta, professor in kliniese mikrobiologie aan die Instituut vir Terapeutiese Immunologie en Aansteeklike Siektes aan die Universiteit van Cambridge, oorweeg wetenskaplikes twee komponente wanneer hulle na die oordraagbaarheid van enige virus kyk.
Eerstens bestudeer hulle wat die vinniger aanwas en aansteeklikheid van ’n virus kan veroorsaak. Maar daar is ook ’n “teenliggaam-ontsnappingskomponent” wat kyk na hoe die virus muteer om ons teenliggame te omseil. Dis hoekom mense wat voorheen met die betavariant besmet was, dalk nie teen die deltavariant immuun sal wees nie, en moontlik vatbaar sal wees vir herbesmetting,” sê Hannelie.
IN VERGELYKING MET DIE ALFAVARIANT IS DAAR ’N VERHOOGDE RISIKO VIR HOSPITALISERING BINNE 14 DAE NADAT JY POSITIEF GETOETS HET
HOE MOET JY DIT BEHANDEL?
Aangesien die simptome van die deltavariant dié van ’n gewone verkoue naboots, bestaan die gevaar dat mense dit kan ignoreer en hulle daarom nie sal afsonder of vir covid-19 laat toets nie.
Die meeste pasiënte het ’n matige infeksie, veral diegene in die jonger en gesonder ouderdomsgroepe.
“Ons het nog bewyse uit Suid-Afrika nodig, maar vroeë bewyse uit Brittanje dui daar is ’n verhoogde risiko vir hospitalisering binne 14 dae nadat jy vir covid-19 positief getoets het,” sê Hannelie.
Terwyl daar geen klinkklare bewys is dat die deltavariant jou sieker as die ander sal maak nie, sê Barry dit is steeds belangrik om die simptome te behandel en die nodige voorsorg te tref as jy covid-19 het.
“As jy in kontak was met iemand wat positief is, en jy toon enige simptome drie tot vyf dae later, moet jy jou laat toets,” beveel hy aan.
WANNEER SAL DIT EINDIG?
Die kenners vermoed covid is hier om te bly. Net wanneer hulle dit onder beheer begin kry, muteer die virus weer en vind dit nuwe maniere om deur jou lyf se verdediging te dring.
“Die virus sal altyd daar wees,” sê Barry. “Maar ek dink die wetenskap sal later die variante oorwin.” Die eerste stap in hierdie teenaanslag deur wetenskaplikes is om seker te maak dat die virus nie soveel ernstige siektegevalle veroorsaak nie – en dis waar entstof so ’n kritieke wapen teen die virus is.
“As daar genoeg mense is wat teen die virus immuun is, hetsy deur besmetting of danksy die entstof, sal dit ophou sirkuleer. Hopelik sal dit later ’n geringe siekte wees.”
Terwyl die kenners aanhou leer oor die virus en sy variante, sal hulle ook mettertyd leer hoe om dit beter te bestuur, sê hy.
DIE ENTSTOWWE HOE DOELTREFFEND IS DIE J&J-ENTSTOF TEEN DIE VARIANTE?
Die goeie nuus, sê Hannelie, is dat die covid-19-entstowwe wat in Suid-Afrika versprei word, wel teen die ontwikkeling van ernstige siekte, hospitaalopname en dood weens die deltavariant beskerm.
Daar is nog nie kliniese toetsdata oor die doeltreffendheid van die Johnson & Johnson-entstof teen die deltavariant in Suid-Afrika nie, sê sy. Tog dui studies daarop dat die entstof dalk selfs doeltreffender is teen delta as teen ons ou opponent, beta.
Die J&J-entstof bied ’n geskatte 64% beskerming teen matige tot ernstige siekte en 82% beskerming teen kritieke covid-19.
“Nog goeie nuus is dat data ook daarop dui die entstof is doeltreffend vir tot min
stens agt maande ná inenting, wat beteken ’n versterkingsdosis is nie in hierdie stadium nodig nie.”
WAT VAN PFIZER SE DUBBELDOSIS?
Op grond van data uit Brittanje gee die Pfizer-entstof ná die tweede dosis hoë vlakke van beskerming teen hospitaalopname met die deltavariant. Die Pfizerentstof bied 96% beskerming – effens beter as teen die alfavariant (95%).
“Wat beskerming teen matige simptome van die alfavariant vergeleke met die nuwe deltavariant betref, toon die Pfizerentstof ’n effense vermindering in doeltreffendheid ná twee dosisse: van 93% tot 88%,” sê Hannelie.
WORD ANDER ENTSTOWWE OORWEEG?
Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het goedkeuring toegestaan vir die noodgebruik van die CoronaVac-entstof wat deur Sinovac Life Sciences in China vervaardig word.
Maar medeprofessor Kenneth Mak van Singapoer sê daar is “min data” oor die doeltreffendheid van die Sinovac-entstof teen die deltavariant. Omdat dit baie lank vat om medisyne in Suid-Afrika te registreer, sal Sahpra nie die entstof registreer tensy hulle voldoende data daaroor het nie.
Daar is ook voorwaardes verbonde aan die noodgebruik van die CoronaVacentstof. “Hulle moet periodiek verslae oor entstofveiligheid en die jongste toetsresultate verskaf vir die gebruik, of noodgebruik, om goedgekeur te kan word,” sê Hannelie.
Prof. Rose Burnett, ook van Savic, wys daarop dat Sahpra besig is met ’n “deurlopende oorsig” van die aansoek vir die Sputnik V-entstof wat in Rusland gemaak word. Dit beteken Sahpra sal die maatskappy se data deurlopend hersien tot genoeg bewyse oor doeltreffendheid en veiligheid verskaf is.
Aangesien Sahpra nie enige aansoeke vir die registrasie van die entstowwe ontvang het wat deur Moderna en Novavax vervaardig word nie, kan hierdie entstowwe nie vir gebruik in Suid-Afrika oorweeg word nie.
KAN JY JOU ENTSTOF KIES?
Jy het nie ’n keuse van entstowwe nie, want die regering kies watter entstowwe na die onderskeie inentingsplekke reg oor die land gestuur word.
Hannelie sê die verskillende entstowwe word gelykop deur die provinsies versprei. “Die regering oorweeg verskeie faktore, byvoorbeeld die beskikbaarheid van entstowwe en die logistiek wat benodig sal word.
“As dit byvoorbeeld ’n mobiele kliniek is, is die enkeldosis-J&J-entstof makliker om toe te dien,” sê sy.
Die J&J-entstof word hoofsaaklik vir onderwysers gebruik, terwyl die Pfizerentstof op al die ander plekke beskikbaar is. As jy ’n allergiese toestand het wat jou verhoed om die entstof te kry by die plek waar jy aangemeld het, sal jy verwys word na ’n plek waar ’n geskikte entstof wel toegedien kan word.
“Maar as jy nie ’n allergieprobleem het nie, raai ek jou aan om die entstof te aanvaar wat daar en dan vir jou beskikbaar is, aangesien hulle almal min of meer dieselfde doeltreffendheid en beskerming bied.”
HOE MUTEER DIE VIRUS?
Lewendige selle muteer voortdurend. Maar dit is veral waar van virusse wat ribonukleïensuur (RNS) as hul genetiese materiaal bevat, soos die corona- en griepvirus.
Volgens Rose muteer virusse weens ongekorrigeerde foute wat tydens kopiëring gebeur. “Die kopiëring van virusse met RNS-genome is besonder geneig tot foute, dus muteer hulle selfs meer as virusse met DNS-genome.”
Die deltavariant is eenvoudig ’n suksesvolle SARS-CoV-2-mutant wat kan repliseer en baie goed aan vatbare gasheerselle heg. Dit is hoekom dit so baie muteer.
Barry sê die meeste mutasies het geen belang of betekenis nie, maar af en toe sal die mutasie die virus sekere eienskappe laat ontwikkel wat dit meer problematies maak.
“Dit kan ernstiger siekte veroorsaak, aansteekliker wees of maak dat entstowwe nie so goed werk nie.”