Huisgenoot

SIESTOG, DAAR IS SOVEEL DRUK OP MANS

- RONEL

Daar word baie geskryf oor vroue en ma’s wat baie balle in die lug moet hou en nie genoeg erkenning kry nie. Heeltemal tereg ook en hulle verdien al die krediet, lofgesange en begrip.

Maar vandag wil ek ook ’n lansie breek vir die mans, pa’s en broers in ons lewe. En met Vadersdag om die draai wil ek spesifiek krediet gee aan die pa’s.

Dit kan ook nie altyd maklik wees om ’n man en pa te wees nie. Hulle word in baie gevalle steeds beskou as die primêre voorsiener in die huis. Hulle moet hard werk om vir hul gesin te voorsien, en veral in die huidige ekonomiese klimaat raak dit by die dag moeiliker.

Hulle mag nie mislik of moeg, moedeloos of bang wees nie, want in die wêreld se oë word sulkes as swakkeling­e gesien. Pa’s moet altyd sterk en slim wees en ’n plan hê, maak nie saak of hulle ook soms ’n “af dag” beleef nie. Hulle mag nie in trane uitbars of ’n emosionele uitbarstin­g hê nie, want dan word hulle skeef aangekyk deur ’n samelewing wat te dikwels nog geslagsrol­le stereotipe­er.

Ek dink nie vroue en kinders besef aldag onder hoeveel druk die mans en pa’s in ons lewe verkeer nie.

Statistiek­e bewys ook dat mans vroeër sterf as vroue. Kan dit wees as gevolg van al hierdie druk wat hulle beleef – sonder ’n gesonde emosionele uitlaatkle­p? Is dit waarom baie mans alkohol misbruik; laat dit hulle vir ’n kort rukkie vergeet van hul probleme? Terwyl dit helaas nooit ’n oplossing is nie.

Vandag wil ek dankie sê aan al die mans en pa’s in ons lewe wat, ten spyte van hul eie moegwees, seerkry, bekommerni­s en moedeloosh­eid, altyd probeer sterk wees en rolmodelle wees.

Die ma’s en kinders salueer julle.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa