Nuut op die rakke
Stap die hardepad vir ’n spirituele reis
ZARINE Roodt besluit om op haar eie die Camino Portugués te stap op die vooraand van haar 60ste verjaardag. Dis helaas nie heelpad die spirituele ervaring waarop sy gehoop het nie, veral nie as ’n mens jou lewe lank nog weggeskram het van fisieke aktiwiteit nie.
Vier jaar het al verloop sedert sy die Camino gestap het en een ding staan soos ’n paal bo water.
“Van die insigte waartoe ek tydens die Camino gekom het, het vastrapplek in my psige gekry: veral een, en dit is dat ek my eie manier van doen moet vertrou. Ek beskryf dit as ‘own way’ – en dit is nie ’n hardkoppige, egotistiese manier nie, maar ’n sagte, intuïtiewe aanvoeling. Ek moet my oordeel vertrou oor wat vir my reg is. En ek moes letterlik honderde kilometers ver stap om by dié insig uit te kom.”
Sy is ’n aanhanger van die Jungiaanse idee van ’n sogenaamde “second half of life”. Sy vertel dis die deel van ’n mens se lewe waar jy binnewaarts keer en nie soseer meer ingestel is op die dinge wat in die eerste helfte van jou lewe belangrik is nie, soos studeer, werk kry, trou, ’n huis en kinders kry, aan jou loopbaan bou, ensovoorts. “Die tweede helfte van die lewe gaan gepaard met ’n soeke na betekenis en ’n outentieke lewe. Skryf, spesifiek memoires, en die aanbied van retraites en werksessies wat hierdie gedagte oordra, is hoe ek my besig hou. Ek is al meer as 10 jaar deel van ’n klein Jungiaanse studiegroep, en van ’n droomsirkel waar ons aktief met ons drome werk.”
Zarine se huislewe is kreatief. Haar man, Anton, is ’n argitek wat ook ’n skrywer is. Sy debuutroman, Weerlose meganika, het in 2020 verskyn. Sy vertel hoekom en vir wie sy ’n Dagreis ver geskryf het.
“Ek het jare gelede begin skryf om my persoonlike verlede uit te pluis. Die eerste poging het ek ‘Die storie van Piet en Susan’ (my ouers) genoem. Hierdie waardevolle ervaring het eindelik tot ’n meestersgraad met die titel Writing as Therapy gelei. Ek skryf omdat dit my help om my psigiese prosesse te verstaan – ek skryf dus hoofsaaklik vir myself. Maar ek skryf ook vir ander mense, spesifiek vroue, omdat ek hoop dat my insigte ook vir ander van waarde sal wees, want ’n vrou se sielkundige ontwikkeling rondom die sogenaamde ‘midlife transition’ is uniek. En ek wil graag deel wat ek op die harde manier hieroor geleer het.
“Die boek is opgedra aan my ma wat lewenslank deur haar drome betower is en wie se dood tot die slothoofstuk van die boek gelei het.”
Sy het ook begin navorsing doen oor labirinte en opleiding as ’n labirintfasiliteerder by Veriditas, ’n internasionale organisasie, gekry.
“Vandag waag ek selfs my hand aan die bou van labirinte, onder meer een vir my 60ste verjaardag by die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein en ’n labirint wat deur Hospies Bloemfontein geïnspireer is.
“En ek tree as konsultant op, soos vir ’n vrou op ’n plaas in die Smithfield-distrik wat self haar labirint aangepak en uitgepak het, en vir die Kindergedenklabirint by die Oorlogsmuseum hier in ons stad.