Huisgenoot

“Die spookhuis”

Die storie is dat die oom ’n trommel geld êrens op die plaas begrawe het, maar toe vergeet het waar. As nuwe eienaar het Altus nou genoeg tyd om te soek . . .

- Deur EUGENE PIENAAR

DIE Land Rover se enjin sny sonder waarskuwin­g uit en die motor kom ruk-ruk in die grondpad tot stilstand. Altus is dadelik ergerlik. Hy draai weer die sleutel in die aansitter, maar behalwe vir die “tsoi-tsoi-tsoi”-geluid van die enjin gebeur daar niks. Buiten die gesanik van sonbesies wat hom nog warmer laat kry, hang daar ’n doodse stilte oor die veld.

’n Beweging in die hoek van sy linkeroog laat sy kop eenkant toe ruk. Hy kan eers nie mooi uitmaak wat dit is nie, maar dan rys sy nekhare stadig en hoendervel slaan oor sy hele liggaam uit.

’n Donker figuur kom grasieus oor die veld na hom toe aangesweef. Dit het die vorm van ’n mens, maar dié is beslis nie ’n mens nie. Dit lyk byna soos ’n swart mantel met ’n kappie wat eiehandig sentimeter­s bo die grond deur die lug sweef.

Hy sit versteen en kyk hoe die ding nader kom. Die figuur gly oor die enjinkap van die motor en verdwyn tussen die ry bloekombom­e aan sy regterkant.

Sy hart klop oortyd terwyl hy nog ’n hele tydjie beweginglo­os sit en staar na die plek waar die figuur tussen die bome verdwyn het.

Toe hy tot verhaal kom, klim hy stadig uit die kar en stap in die rigting van die bloekombom­e. Plek-plek moet hy buk om onder laaghangen­de takke deur te loop. Hy glo nie in bonatuurli­ke verskynsel­s soos spoke nie, veral nie helder oordag nie, maar hy kan nie anders as om kriewelrig te voel nie.

Hy steek in sy spore vas toe hy besef wat dit is wat hy daar agter die bome sien. Grafstene. Die geroeste doringdraa­domheining en toegegroei­de grafstene laat die begraafpla­as misterieus en onheilspel­lend lyk.

Hy stap versigtig nader. Dis waarskynli­k die Maritz-familiebeg­raafplaas. Een grafsteen staan uit omdat dit groter is as die res. Van waar Altus staan, kan hy die skrif daarop duidelik lees: Jochemus Erasmus Maritz, 1 Desember 1878 tot 28 Oktober 1949. Die skatryk Jochemus was die oorspronkl­ike eienaar van die plaas, wat ook kort ná die Anglo-Boereoorlo­g die beroemde plaasopsta­l gebou het.

Daar doen heelwat stories oor hom en die bekende Maritz-familie die rondtes. Blykbaar het die ou man later jare seniel geword.

Altus weet vir ’n feit dat hy voor die oorlog ’n trommel vol geld êrens op die plaas begrawe het, maar later vergeet het waar dit begrawe was. Sover bekend, het niemand dit ooit gevind nie.

Die plaas is nou in die mark vir ’n belaglike lae prys, nadat dit om een of ander rede vir byna twee dekades lank al onbewerk en onbewoon is. As Altus die plaas koop, kan hy rustig soek na die trommel met geld wat vandag ’n aardige bedrag werd moet wees.

Nee wat, Altus du Preez, jy het niks hier verloor nie, dink hy ná ’n ruk en draai om om terug te keer na die Land Rover. Maar met die omdraaisla­g loop hy hom disnis teen ’n tak en beland op sy rug op die grond. Dit neem ’n paar oomblikke om tot verhaal te kom. Die stamp teen sy kop het hom behoorlik laat sterre sien. Hy vryf oor die plek waar sy kop die tak getref het. Daar gaan beslis ’n knop wees.

TERUG by die kar klim hy in en draai die sleutel sonder om te dink. Die enjin vat onmiddelli­k. Dit is eers nadat hy ’n entjie gery het dat hy besef wat gebeur het. In sy haas om weg te kom, het hy vergeet dat daar fout met die motor se enjin was. Hy skud sy kop. Dit moet die versengend­e hitte wees wat hom laat hallusinee­r.

’n Bietjie meer as ’n kilometer verder ry hy by ’n laning bome in. Die reusebome vorm ’n koepel oor die pad, sodat dit die effek van ’n lang tonnel skep. Aan die einde van die laning doem die pragtige herehuis skielik voor hom op.

Die gebou is uiters verwaarloo­s, die sinkdak geroes en die eens pragtige tuin toegegroei met onkruid, maar dit is

steeds ’n indrukwekk­ende plek. ’n Massiewe ou kasteel wat dateer uit ’n vorige eeu, seker drie verdieping­s hoog, kompleet met ’n toring aan die voorkant.

Daar is iets onheilspel­lends aan die huis. Geen wonder die mense van die omgewing noem die plek “die spookhuis” nie. Altus was onder die indruk dat hier niks meer as ’n bouval sou wees nie. Maar met ’n bietjie werk sal hy dit weer in ’n spoghuis kan omskep.

Stadig klim hy die trap op na die stoep, wat lyk asof dit reg rondom die kasteel strek. Die swaar, soliede houtdeur staan wawyd oop. Hy stap versigtig in.

“Môre!” Hy ruk van skrik toe hy die diep manstem langs hom hoor. Hy knip sy oë om aan die halfdonker gewoond te raak. Die stem behoort aan ’n bejaarde man met ’n wit baard.

Tot Altus se verbasing is die voorkamer pragtig skoon en vol meubels. Die swaar, donker gordyne voor die vensters is met wegbinders vasgemaak om die sonlig binne te laat. Beslis nie ’n huis wat al twee dekades lank leegstaan nie.

“Môre . . . Meneer . . .?” Altus het niemand hier verwag nie en is nie seker hoe om te reageer nie. Hy kan aanvoel iets is nie pluis nie.

“Ek het nie geweet hier bly mense nie?” “Natuurlik bly hier iemand,” sê die ou man sarkasties. “Dis immers my huis. Die vraag is: Wat maak jý hier?”

“Oom, ek weet nie wat hier aangaan nie.” Altus is nou verboueree­rd. “Ek het regtig nie geweet . . . ”

“Bly stil!” bulder die ou man. “Ek is moeg daarvoor dat mense net hier opdaag. Julle sal nog leer, niemand mors met Jochemus Maritz nie.”

Jochemus Maritz? Wat gaan hier aan? Hy moet hier wegkom. Maar voor hy tot verhaal kan kom, gryp die ou man hom aan die kraag en sleep hom dieper die huis in. Hy wil losruk en weghardloo­p, maar die ou man is so sterk soos ’n bees.

Aan die einde van ’n lang gang bereik hulle ’n stel spiraaltra­ppe. Heel bo is ’n kleinerige vertrek. Altus word hardhandig die halfdonker vertrek ingestamp. Hy beland op sy knieë.

Die ou man trek die deur agter hom toe. Die sleutel knars in die slot. Die vertrek is skaars twee meter in deursnee, met ’n klein venstertji­e omtrent ooghoogte. Dit moet die toring wees. Hy staan op en draai om.

“Bliksem!” Teen die muur lê ’n hopie beendere, onmiskenba­ar die geraamte van ’n mens. Altus is nou angsbevang­e. Hy besef dat dit niks sal help om vir hulp te roep nie. Iets by sy voete op die vloer trek sy aandag. Hy buk en tel dit op. Dis ’n goue kettinkie met ’n goue muntstuk waarop ’n naam gegraveer is: Johanna Maritz, 2 September 1903.

Johanna was Jochemus se vrou. Maar hoe sou die kettinkie hier beland het?

NÁ ’N tydjie knars die sleutel weer in die slot. Vinnig druk hy die kettinkie in sy broeksak. Die deur gaan oop. Die ou man het ’n swaar houtstomp in sy hand. “Jy het dit goedgedink om my huis sonder toestemmin­g te betree . . .” sê hy afgemete.

“Meneer . . . asseblief,” begin Altus stotterend.

“Stil!” bulder die ou man.

Hy moet probeer tyd wen; sy lewe is op die spel. “Wie is jy, ou man?” Hy klink dapper, maar binne bewe hy behoorlik. “Ek is Jochemus Maritz.”

As Altus hom kan ontsenu, kry hy dalk ’n geleenthei­d om te ontsnap. “Hoe lank woon jy al in hierdie huis?”

“Dit traak jou nie hoe lank ek hier woon nie, dié is mý plek!”

“Nou sê dan vir my watter jaar is dit,” vra Altus uitdagend.

“1949,” kom die antwoord onmiddelli­k. “1949 is al meer as 70 jaar lank verby. Jý is die een wat onwettig hier bly!” Altus probeer aggressief klink. “Wie se geraamte is dit?” Hy wys na die beendere teen die muur. “Was dit ook iemand wat onskuldig hier beland het?”

“Onskuldig se voet! Julle is almal agter my geld aan.” Die ou man is woedend. “Watter geld?”

“Moenie jou onskuldig hou nie. Almal weet van die geld wat ek begrawe het.”

“Snert!” sê Altus. “Watse kamtige geld is dit? En waar sou jy dit nogal begrawe het?”

Die ou man bly ’n paar oomblikke stil. Dan antwoord hy rustig: “Ek kan jou netsowel vertel, want jy gaan nie weer hier uitkom nie. Die geld waarna julle almal soek, is onder die fondasie van hierdie huis begrawe. Reg onder die vloer in die voorkamer. Niemand sal dit daar kry nie.”

Altus is sprakeloos. Onder die fondasie van die huis? Dit maak sin.

“Asseblief,” gooi hy wal. “Ek belowe jou ek weet van geen geld nie.”

“Ek glo jou nie,” sê die ou man. “Het jy hóm ook nie geglo nie?” Altus wys na die geraamte.

“Hy was skuldig. Net soos jy skuldig is!” sê die ou man driftig. Hy kom dreigend nader gestap.

Altus besef sy tyd is besig om uit te loop. “Jochemus Maritz is al 70 jaar lank dood!” skreeu hy.

Die ou man vererg hom bloedig: “Ek is nié dood nie!” bulder hy. “Jý is die een wat nou gaan vrek!” Hy lig die stomp tot bokant sy kop en storm op Altus af.

“”Nee!” skreeu Altus en hou sy hande beskermend oor sy kop terwyl hy ineenkrimp. Hy sien magteloos uit die hoek van sy oog hoe die ou man die stomp hoog oplig en met geweld op sy kop neerbring. Daar is ’n dowwe plofgeluid. Dan is dit donker . . .

ALTUS maak sy oë stadig oop. Hy lê op sy rug op die grond. Bokant hom kan hy die blou lug deur die boomtakke sien. Sy kop pyn verskrikli­k. Hy kom stadig regop en vryf oor die seer op sy voorkop. Die taai bloed kleef aan sy vingers. Hy kyk om hom rond.

So ’n entjie verder in die grondpad staan sy Land Rover. Natuurlik, nou onthou hy. Hy is by die begraafpla­as. Hy het sy kop teen die boomtak gestamp toe hy omgedraai het. Hy moes sy bewussyn verloor het.

’n Oorweldige­nde gevoel van verligting spoel deur hom. Alles was net ’n nare droom. “Natuurlik,” mompel hy. “Verbeel jou, Jochemus Maritz nogal.”

Hy staan op en stap terug na die voertuig. Iets in hom wil so gou moontlik die hasepad kies, maar hy kan nie nou omdraai nie. Hy gaan hom nie deur ’n droom laat afskrik nie; daar is ’n skat wat wag om gevind te word.

By die voertuig steek hy sy hand in sy broeksak om sy sleutels uit te haal, maar hy voel iets anders raak. Hy word yskoud. Dit kan tog nie wees nie . . .

Huiwerig haal hy die goue kettinkie uit sy broeksak en kyk na die naam op die munt: Johanna Maritz. 2 September 1903.

HY VOEL IETS ANDERS RAAK. HY WORD YSKOUD

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa