Huisgenoot

HY SAL SUUTJIES TRAP

-

Die verwagting was nog altyd dat die Britse koningshui­s neutraal bly wat politiek en ander sake betref. Koningin Elizabeth II het nooit kant gekies tussen die politieke partye in die Statebonds­lande waaroor sy regeer het nie.

En tog het Charles dikwels nie ’n geheim van sy sienings oor aktuele sake gemaak nie. Lank voor dit op almal se lippe was, was Charles ’n kampvegter teen aardverhit­ting en vir organiese boerdery. Eers het mense gedink dis net weer ’n eksentriek­e belangstel­ling wat bewys hy raak obsessief oor sake van sy keuse, sê die historikus en skrywer Anthony Seldon. Maar namate die res van die wêreld ook begin besef het hoe skadelik aardverhit­ting kan wees en dat die klimaatskr­isis werklik op hande is, het mense begin besef ou Charles het ’n punt beet.

Hy het ook dikwels sy mond uitgespoel oor moderne argitektuu­r. Hy haat groot geboue van glas en staal, en het eens gesê hipermoder­ne verbouings wat aan Londen se statige ou National Gallery aangebring is, lyk soos “’n vet puisie op die gesig van ’n geliefde vriend”.

Hy is ook al daarvan beskuldig dat hy in die politiek inmeng. In 2015 is die “black spider memos” uitgelek – privaat briewe in Charles se handskrif aan ministers waarin hy oor die jare sy menings oor landsake met hulle gedeel het.

Maar noudat hy koning geword het, sal die dae dat hy sy gevoelens op sy bors dra en sy gedagtes openlik deel tot ’n einde moet kom, sê prof. Vernon Bogdanor, ’n kenner van Britse konstitusi­onele reg. “Charles weet sedert sy jong dae dat sy styl sal moet verander. Die publiek wil nie ’n kampvegter vir ’n koning hê nie.”

Die Britse monargie neem immers nooit standpunt in nie en bly neutraal oor aktuele kwessies en politieke sienings.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa