Huisgenoot

SY BEURT IN DIE KOLLIG

-

In die laaste jare van haar lewe het die koningin Charles gaandeweg toegelaat om van haar pligte oor te neem. Sodoende het sy die publiek ’n kans gegee om daaraan gewoond te raak om Charles in die rol van ’n monarg te sien. Met die parlements­opening vroeër vanjaar het hy die eerste keer vir sy ma ingestaan omdat sy te oud was.

Koningin Elizabeth was nog aan die stuur van sake, maar sy wou vir haar onderdane ’n blik gee op wat ná haar heengaan sou wag, sê Sally Bedell Smith, een van Elizabeth se biograwe.

Charles het sy hele lewe lank in die skadu van vroue gestaan. Eers was dit sy ma, daarna sy eerste vrou wat die volk se liefling was. Die laaste jare kry sy skoondogte­rs, die sjarmante Kate en die uitgesprok­e Meghan, heelwat aandag.

“Maar nou is dit eindelik Charles se beurt,” sê iemand in die binnekring. “Almal se oë is op hom, en dit wil lyk asof hy dit gaan regkry om aan die mense se verwagting­s te voldoen.”

In die dae ná sy ma se afsterwe het hy die Verenigde Koninkryk deurkruis en met die publiek bladgeskud. Hy was vriendelik en toeganklik.

Tog het een of twee voorvalle mense laat wonder of daar ’n skadusy aan Charles is wat wag om van agter die sluier na voorskyn te kom.

So het hy hom by die opvolgings­raad, waar hy tot koning verklaar is, uit die bloute vererg omdat daar ’n stel penne op sy lessenaar was waar hy dit nie wou hê nie. En in ’n ander video sien ’n mens hoe hy woedend hap na niemand in besonder nie toe hy op ’n seremonie in Ierland besef sy pen se ink lek. “Ek kan nie die blerrie ding verdra nie. Hoekom gebeur dit elke verdomde keer?” grom hy voor Camilla nader staan.

En in ’n onthutsend­e wending berig The Guardian 100 werknemers van Charles se ampswoning, Clarence House, het gehoor hulle gaan afgedank word, ten spyte daarvan dat hulle die laaste weke hard gewerk het om Charles se bestyging tot die troon glad te laat verloop.

Charles se amptelike setel gaan voortaan Buckingham­paleis wees, terwyl Clarence House net ’n gemaksness­ie sal wees.

“Almal is die josie in,” verklap ’n bron. “Al die personeel het elke aand laat gewerk sedert die koningin dood is. Dis nou die dank wat hulle kry!”

Die koning se grootste uitdaging sal volgens Richard Kay, ’n kenner van die koningshui­s, wees om te sorg dat sy familie gewild bly noudat sy ma nie meer daar is nie. “Hy moet dit nou beveilig vir die dag dat hy die leisels aan William oorgee.”

 ?? ?? LINKS: Hy onderteken die proklamasi­e wat hom amptelik die monarg maak. REGS: In Mei vanjaar met die parlements­opening het hy die eerste keer vir die koningin ingestaan.
LINKS: Hy onderteken die proklamasi­e wat hom amptelik die monarg maak. REGS: In Mei vanjaar met die parlements­opening het hy die eerste keer vir die koningin ingestaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa