Huisgenoot

MY MAN STEEK SY VERHOUDING MET SY DOGTER WEG

-

V Ek en my man is meer as 25 jaar getroud. Dit is sy tweede huwelik. Sy dogter uit die vorige huwelik het ná sy egskeiding van haar ma alle kontak met hom verbreek. Ons eie kinders is uit die huis uit.

Ek is ’n huisvrou omdat ons finansieel sterk genoeg is, maar die afgelope klompie maande het my man ál minder geld vir ons huishoudin­g begroot, en ek moes redelik drasties sny met uitgawes.

Ná ’n bietjie speurwerk het ek ’n ontstellen­de ontdekking gemaak: Sy dogter is geskei en hy dra haar finansieel. Haar kinders is amper klaar met skool.

Toe ek hom daaroor uitvra, het hy behoorlik ontplof. Hy het gesê ek moenie in sy sake inmeng nie, en as ek ongelukkig is, kan ek maar gaan.

Ek is finansieel van hom afhanklik, en hy het my nog nooit so onwelkom laat voel nie. Ek weet glad nie wat om te doen nie.

Waarheen nou?

A Die kwessie wat jy aanroer, is ’n baie algemener probleem in tweede huwelike as wat ’n mens dink. Terapeute verwys daarna as “grenslynkw­essies”. Dit is wanneer die grense oorskry word wat paartjies in plek het om hul verhouding gesond te hou.

In ’n ideale huishoudin­g funksionee­r die paartjie as ’n geïntegree­rde eenheid. Hulle maak beleid saam en praat met een stem wat hul waardestel­sel betref. Hulle laat nie toe dat enige kind die ouers teenoor mekaar afspeel nie. Ook word grootmens-sake tussen mekaar privaat gehou; dis nie oop vir bespreking met die kinders nie.

As daar nie sulke reëls in plek is nie, is dit baie sleg vir jou huwelik.

Wanneer ’n kind ’n invloed op hul verhouding het, ly die paartjie daaronder. In jou geval het die dogter ’n invloed op haar pa, nou dans hy na haar pype, en as vrou voel jy ongeliefd. Almal verloor op die ou end respek vir mekaar.

Dit moes vir jou man baie seer gewees het toe sy dogter hom destyds verwerp het. Haar kontak nou met hom is vir hom emosioneel vervullend. Jy gaan nie daarby verby kom nie, aanvaar dit.

Die vraag is hoekom voel hy dis nodig om dit vir jou weg te steek, en hoekom reageer hy so teenoor jou?

Dit is altyd baie moeilik om met iemand ’n sinvolle gesprek te voer wanneer hulle in aggressie oorgaan. Dis ’n verdedigin­gsmeganism­e.

Daar is ’n opsie vir jou wat gaan vereis dat jy opoffering­s maak, maar ek glo dit sal werk.

Vra hom om sy dogter vir ’n kuier te nooi sodat jy haar kan leer ken en julle albei die kleinkinde­rs kan ontmoet. Dit sal nie net die wind uit sy seile neem nie; dit sal ook vir jou die grondslag lê om hom later met vrymoedigh­eid te betrek by jou pogings om te werk aan die dinge wat aan jul verhouding haper.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa