Huisgenoot

LIAM BOSMAN

-

HY KAN swem, ja, maar dis nou nie asof sy naam Chad le Clos is nie.

Dié dat Liam (19) gevoel het hy’s by die diep kant ingegooi met die vervaardig­ing van kykNET se nuwe reeks Diepe waters. Sy karakter, Johan Swarts, is sommer baie tuis in die swembad en het Olimpiese drome.

Maar kyk jy so na Liam se spel, lyk hy soos ’n vis in water. Hy is mos al voor die kameras vandat hy 11 jaar was.

Oor sy karakter vertel hy: “Daar word baie druk op hom gesit om die beste te wees, maar hy het ook sy eie goed waarmee hy sukkel, want sy suster is ’n baie beter swemmer en almal glo meer in haar.”

BIBBEREND OP DIE STEL

Liam vertel hy moes hard werk om Johan te word. “Ons is twee maande lank vir harde swemoefeni­nge gestuur voor ons begin skiet het. Ons het vier keer per week twee uur lank geoefen.”

Hy het 8 kg verloor nog voor die skietwerk aan Diepe waters begin het.

Nogtans was die eerste dag op die stel “baie stresvol”, erken die Johannesbu­rgse akteur. “Omdat ek nog nooit in ’n ateljee geskiet het nie, was dit iets om aan gewoond te raak. Dis ’n baie ander omgewing as om iewers buite op regte plekke te skiet.”

En dan was daar die weer .

“Hier is dit middel van die winter en ons is besig om ’n swemreeks te skiet! Die swembad is verhit, maar ook partykeer nie, en soms is daar wind. Dit was definitief koud.”

KLEIN BEGIN MET HUISGENOOT

In 2016 was Liam te sien in die gewilde Huisgenoot-fliek Vir die voëls. “Ek was die klein Sampie.”

Francois Jacobs was in die hoofrol as die volwasse Sampie de Klerk, en die twee is vandag nog goeie pelle. As kind en tiener was Liam ook “in ’n paar ander goedjies”, vertel hy.

In 2017 was hy Anton in die Duitse fliek Das Kindermädc­hen (Die kinderoppa­sser), en in 2020 was hy Calix in die tweede seisoen van die HBO-reeks Raised by Wolves.

Liam het gedink dit sal baie vat om die Raised by Wolves-rolverdeli­ng te haal. Dis immers ’n reeks deur Ridley Scott, wat bekend is vir flieks soos Gladiator (2000) en meer onlangs se House of Gucci. “Maar ek’t letterlik ’n selfoudisi­evideo van 15 sekondes lank ingestuur, en toe kry ek die rol. Ek was soos in wow. Ek was baie gelukkig.”

DIE LAAITIE MET DIE GROOT DROME

As kind wou hy eers ’n argitek wees. “Ek het goed gebou soos ’n aartappelg­eweer, ’n magneet wat ’n halwe ton kon hou, en buskruit gemaak. Die mense by Builders Warehouse was baie bekommerd oor my,” lag hy.

Maar op 10 het hy besluit hy wil akteur word, “want my gunsteling­ding was TV kyk”.

Op skool was hy glad nie sportief nie. “Al my vriende het ná skool rugbyoefen­ing gehad, maar ek het huis toe gekom en die TV aangesit.”

Later het hy na Brümilda van Rensburg se akademie gegaan en ’n agent gekry. “Met my eerste oudisie wat ek gedoen het, het ek die rol gekry. Dit was vir ’n Cell C-advertensi­e, en dit was net die beste dag!”

DIS TONEELSPEE­L OF NIKS

Toneelspel maak vir hom soveel wêrelde oop.

“As jy ’n kind is, wil jy kitaar speel en ’n argitek wees, of jy wil gaan duik of ’n vlieënier wees.

Maar as jy ’n akteur is, kan jy al daai goed doen,” sê hy. “Ek’s nie net ’n ou wat woorde sê nie.

“Ek moes al leer perdry, binne twee maande moes ek flippen vinnig leer swem, en ek moes al met leeus in tonele speel. En jy moet natuurlik jou navorsing doen oor die rolle en dis hoe jy ook jou kennis uitbou.”

Hy wil graag eendag ook as regisseur werk. Maar wat ook al gebeur, hy wil in die toneelwêre­ld wees.

“Ek sal niks anders wil doen nie. As ek nie in dié bedryf werk nie, sal ek waarskynli­k al my goed in ’n sak gooi en op ’n strand iewers gaan bly.”

KUNSTE EN DIE BOSMANS

Liam se ma, Ilse, was in haar jonger dae in dieselfde kunsskool as Suid-Afrika se Hollywood-ster Charlize Theron. “My ma was ’n balletdans­er, maar Charlize was ná my ma by daardie skool.”

Sy pa, George, is ’n rekenmeest­er. Maar sy sussie, Danielle, is ook kreatief.

“Sy swot by die musiekteat­erskool in die Kaap. Ek het nie nog gaan studeer nie; ek het sommer net begin werk,” lag hy.

‘MY FAMILIE, MY YSTERPERD, EN EK’

Hy geniet dit om saam met sy familie uit te hang. “Ek kort beslis daagliks my dosis daarvan,” sê Liam.

“Ek ry motorfiets saam met my pa; ek en hy gaan op trips. En ons ry ook saam met Altus Theart en Werner Coetser wat ook in Diepe waters is. Ons het ons eie groepie begin, en ry soms Sondae motorfiets.”

Hy sit ook voor die TV en kyk flieks, want “dis baie maklik om te vergeet hoekom jy in die bedryf is. So, ek het goed nodig om my te laat onthou hoekom ek dit doen; vir my is dit flieks. Dit inspireer my, en herinner my net weer hoekom ek dit doen.”

En vir Liam is sy vriende net so belangrik. “Ek’s altyd stout vir

’n kuiertjie!

 ?? ?? DIEPE WATERS
Liam Bosman speel Nadia Valvekens (Sanet) en Altus Theart (Rossouw) se seun, Johan, in Diepe
Waters. Danielle Swanepoel speel sy suster, Karla.
Liam het hard gewerk om Johan se swemmerlyf te kry. Hy het 8 kg afgeskud met sy voorbereid­ing vir dié rol.
DIEPE WATERS Liam Bosman speel Nadia Valvekens (Sanet) en Altus Theart (Rossouw) se seun, Johan, in Diepe Waters. Danielle Swanepoel speel sy suster, Karla. Liam het hard gewerk om Johan se swemmerlyf te kry. Hy het 8 kg afgeskud met sy voorbereid­ing vir dié rol.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa