RIGTINGNAALD SNOOZE NAG IN DIE NAMIB
Ray Dylan
Met bekende liedjies soos “Jessica” en “Hokaai Stoppie Lorrie” in sy arsenaal, is die sanger Ray Dylan lank reeds ’n gevierde kunstenaar. Sy jongste snit, “Rigtingnaald”, is uit die pen van die liedjieskrywer Werner Beukes en vat jou op ’n nostalgiese reis – een van iemand wat sy pad in die lewe wil vind en terselfdertyd sy drome volg. Die ritmiese klanke van die kitaar en die tromme is eie aan Ray se musiek en laat jou voete jeuk.
SZA en Justin Bieber
Die hiphop- en R&B-sangeres Solána Imani Rowe, beter bekend as SZA, se enkelsnit “Snooze” het danksy die musiekvideo onlangs weer die trefferlyste geklim. Die liedjie was nou onlangs in die nr. 2-posisie op die Billboard Hot 100-trefferslys en verskyn op haar album SOS van 2022.
Die stem van Justin Bieber saam met dié van SZA is op die akoestiese weergawe te hoor, en Justin verskyn selfs in die musiekvideo.
Wat beteken “Snooze”, vra jy? Wel, die twee sing hulle sal alles vir die liefde gee – en dat niemand kan bekostig om te slaap en iets mis te loop nie.
Jannie Moolman en Helenè Bester
Die veteraankunstenaars Helenè Bester en Jannie Moolman betower luisteraars met die suiwer klanke van hul duet “Nag in die Namib”.
Die moderne weergawe van ’n Afrikaanse folkliedjie, geskryf deur Jannie en Dewald Gouws, vertel oor die skoonheid van die Namibwoestyn.
Die liedjie se boodskap is een van hoop en beklemtoon die verbintenis tussen die mens en die natuur.
“Ons stemme klink harmonieus en die liedjie is positief en inspirerend,” sê Jannie. En Helenè: “Dis iets nuuts en unieks in Afrikaans.”