VEELSYDIGE TERTDOPPIES
LEWER 6-8 TERTDOPPIES OF 10-12 MINI-TERTDOPPIES / BEREIDING: 30 MIN. / VERKOEL: 45 MIN. / BAK: 15-20 MIN. PER BAKSEL
Hierdie deeg kan gebruik word as die basis vir ’n verskeidenheid soet tertjies. Jy kan dit ook as koekiedeeg inspan en na smaak geur.
TERTDOPPIES
500 ml (2 k) koekmeel, plus ekstra soos nodig
250 ml (1 k) versiersuiker
’n knippie sout 150 g koue botter, in blokkies gesny 1 ekstragroot eier, geklits
AFRONDING
geklopte versoete room vars vrugte mentblare
Bespuit 6-8 tertpannetjies of 10-12 mini-tertpannetjies goed met kossproei. Hou kleefplastiek, bakpapier, kossproei en droë bone of rou rys byderhand.
1 Tertdoppies Pols die koekmeel, versiersuiker en sout saam in ’n voedselverwerker tot goed gemeng. Voeg die botter by en pols tot die mengsel sanderig lyk.
2 Voeg die eier by en pols tot die deeg om die lem begin vaskleef. Keer die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en druk saam in ’n deegbal. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rus 15 min. in die yskas. 3 Rol die deeg sowat 5 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak uit en voer die tertpannetjies daarmee uit. Plaas die pannetjies in die yskas en verkoel nog 30 min.
4 Verhit die lugbraaier tot 180 °C. Knip die bakpapier dieselfde groottes as die tertpannetjies en bespuit aan die een kant met kossproei.
5 Plaas die bakpapier met die gespuite kant na onder op die deeg en vul met die bone of rys. Bak 10 min. in die lugbraaier.
6 Haal die bakpapier en bone of rys uit die doppies en bak nog 5-10 min. of tot ligbruin en bros.
7 Laat die doppies 5 min. in die pannetjies afkoel. Keer versigtig uit en pak op ’n draadrakkie om heeltemal af te koel. Die doppies kan tot ’n week in ’n lugdigte houer op ’n droë plek gebêre word.
8 Afronding Vul die doppies met die room, vars vrugte en mentblare en sit dadelik voor.