Nuwe treffers
’n Ou liedjie kry nuwe lewe – en word nes destyds ’n kitstreffer. En ’n wilde vete word die inspirasie vir ’n rapliedjie
NUWE BAADJIE VIR ’N OU TREFFER
Dis 35 jaar sedert Tracy Chapman se “Fast Car” wêreldwyd geliefd geraak het – en vandag, soveel jaar later, is die liedjie opnuut ’n internasionale treffer. Hoe? vra jy.
Wel, dis alles te danke aan die countrysanger Luke Combs wat die liedjie afgestof en ’n spesiale weergawe daarvan uitgereik het.
Dié weergawe van “Fast Car” is pas met ’n prys vir enkelsnit van die jaar by die Country Music Awards (CMA) bekroon.
Tracy kon die geleentheid nie self bywoon nie, maar het in ’n boodskap gesê: “Dit is werklik so ’n groot eer dat my liedjie nou opnuut erken word 35 jaar sedert sy debuut. Dankie aan die CMA’s, en ’n spesiale dankie aan Luke.”
Luke se countryweergawe van “Fast Car” pronk al weke lank op trefferlyste reg oor die wêreld. Die snit is teen einde Oktober al meer as 23 miljoen keer op stroomplatforms geluister.
“Dit is wonderlik om te sien n hoe almal die liedjie oor die afgelope paar maande geluister en geniet het,” sê Luke. “Of dit nou mense is wat die liedjie die eerste keer hoor of dié vir wie die liedjie spesiale herinneringe aan Tracy se tydlose opname terugbring.”
Dit was nog altyd een van sý gunstelingliedjies. “Al sedert ek vier jaar oud was,” sê hy.
“Ek het dit opgeneem om die e eenvoudige rede dat ek dol is daaraaroor.”
Die sukses van die liedjie het t nie net aan Luke sterstatus besorg nie; ook Tracy het daaruit munt geslaan – sy het reeds sowat $500 000 (sowat R9,1 miljoen) se tantième daaruit verdien.
Luke se volgende mikpunt is om ’n Grammy-musiekprys te wen. “Fast Car” is in die kategorie beste country-solo-optrede benoem – en van oraloor word gegis dat hy ook met dié beeldjie sal wegstap.
Die oorspronklike weergawe van die liedjie is in 1989 vir drie Grammys benoem. Tracy het toe die prys vir die beste vrouepopsanger gewen.