BRIEF UIT BERLYN
Dis my eie skuld, dié verslawing. Voor ek my kan kry, soek my duim na my foon soos ’n knaende kleuter na ’n fopspeen. Ontsluit, nuus, maak koffie, ontsluit, nuus, e-pos, ontsluit, nuus, vergadering, ontsluit, nuus, refresh. Ek is MerriamWebster se 2020 woord-van-die-jaar, drie jaar later. Ek doomscroll tot in ewigheid.
Deesdae word my nuusdieet as babakos vir my aangebied. Alles is eers saggemaak, soos Purity. Sensitive content, jy sien. Maar ek leer nie, ek wil mos. Self. Dan kliek ek: swipe to see photo. Só gebeur dit dat ek tydens ’n onskuldige middagetebreek ’n lewelose baba onder bourommel sien. Ouers wat ween met lewelose kinders in hul arms. ’n Dogtertjie, verblind deur die ontploffing, wat na haar ma soek. Dokters wat fetusse uit bewustelose buike trek. Pasgeborenes met een identiteitsdokument: ’n doodsertifikaat.
My digitale dieet is ’n weerspieëling van mense wat ek ontmoet het op die vele plekke waar ek al wortel geskiet het. Ek is eintlik trots daarop: ek, fynproewer van diverse menings. Die visuele kunstenaar uit die Bo-Kaap, die suksesvolle entrepreneur uit Tel Aviv, die dominee uit Pretoria, ’n hele klompie verregse SAW-veterane, Christen-bloggers, fopdossers uit Sirië . . .
Daarom kry ek ook Bybelverse wat die ontstaan van Israel regverdig, ’n daaglikse Shabbat Shalom-wens, foto’s van onverskrokke Israeli-soldate.
Ek sien ’n update van Adam: “MUST WATCH: IDF attack dogs go after Hamas terrorists. Hear the terrorists scream.” En dan: “Dogs saving lives.”
Ek sien die gedig van Omar Sakr: A palace in hell is still in hell. Freedom of movement in hell is still – listen, hell is any place where someone is being tortured. And we have been here for the longest time.
Ek sien plakkate in Kaapstad met Madiba se woorde: “Our freedom is incomplete without the freedom of the Palestinians.”
Ek hoor Danny, wie se oupa die enkele oorlewende in sy familie van die Holocaust was, se rympie: “Go protest. Show solidarity. But when you chant ‘from the river to the sea’, you have to understand how much that scares me.”
Daar is die digitale wêreld met sy beelde en opskrifte, en die fisieke een.
“Die verlede is ’n ander land,” sê Karel Schoeman. Dié stelling is toepaslik op Berlyn, die hedonistiese eiland van verdraagsaamheid waar jy selde ver hoef te reis om aan te hou reis. Op 9 November is die 85ste herdenking van Kristallnacht gevier. Oral het kerse die “stolpersteine” verlig: die klein bronsteëltjies by voordeure om die Jode te herdenk wat voor hul vervolging en dood daar gewoon het.
Dis dalk vals hoop, maar ek is opnuut dankbaar vir Suid-Afrika se storie van ’n onderhandelde revolusie, hoe onvergenoegd ook al. Dit maak van ons ’n land van heilige grond.
My man kom huis toe en haal sy foon uit. “Jissie, ek het die hele dag net video’s van die Bokke se segetoer in Suid-Afrika gekyk. Jy moet sien!” Dan lag hy met opgewondenheid.
ANELIA HEESE