’N UITTREKSEL UIT GEBEENTE
“Hy’t nie witpyp ingeasem daar by die smokkelhuis nie?” Altydoopvygie skud haar kop woes. “Waar’s die pa? Wat’s sy naam?” Altydoopvygie vat die maklikste opsie: “Verbygaande.”
“Vir wat?”
“Gaande.”
“Gemaak en laat staan?” Altydoopvygie knik haar kop. ’n Skaamte tog, hierdie pa-lose kind. “Ja,” antwoord sy. “Hy’t gemaak en toe net so gelaat staan en hy’s vort.” “Jy was gaande oor hom?” Altydoopvygie knik. “Maar dis nou verby.”
“Ja, tog, nè. Das weh.” Frau Kwaai moet eers die dorings uit sy vel trek. “Verbygaande,” sê sy. “Kyk, selfs hier in sy kopvel.” Die dorings het meestal afgebreek, maar hul punte sit diep en suig hulself vas in die vleis in soos pendorings mos maak. Die kind sit ’n kabaal op en brul van die pyn, sodat Frau Kwaai hom eers met ’n suikerwatertjie en ’n ietsie daarby uitklits. Toe raak die lyfie lam en hy lê salig daar terwyl sy die dorings uitgrawe.
“Is jy seker die vlamkop waarvan jy praat, is nie net ’n swerm vuurvlieë wat op sy kop kom sit nie?”
“Sy kop vlam dan helder oordag ook.”
“Jy smeer nie iets aan sy hare nie, dalk heuning of enigiets wat soet ruik en insekte lok?”
“Nee. Ruik self. Die ene swawel.” Frau Kwaai swyg. “Wel, hopelik leer hy nou ’n les,” sê sy.
Jy ken nog nie my kind nie, dink Altydoopvygie. Gewone kindersiektes slaat hom nie. Ook nie stuipe nie. Kroep draf hy kaf. Masels kom verby en tref al die kinders ongenaakbaar, maar kyk: Die masels val van hom af. Pampoentjies vreet hy vir konfyt. Geen kalbassies vir hóm nie.
“Wat’s fout met hom?” fluister Altydoopvygie.
Die heler skud haar kop. “Entschuldigung.” Sy gaan blaai in ’n boek. Versigtig nou, wys haar tydsame bewegings. “Miskien ’n soort outisme,” sê sy oplaas. Wanneer Frau Kwaai sien dat Altydoopvygie onbegrypend na haar staar, sê sy: “Toemaar, dis net ’n ingewikkelde woord vir inkennigheid.” Sy dink verder: “Dalk is dit iets ergers. Maar dis te vroeg om te sê. Wat seker staan, is: Hy leer te vroeg dagdroom.”
En dis Frau Kwaai se eerste diagnose. Dagdromery. Dis waarmee Altydoopvygie die seuntjie nou-nou op die heup gaan gooi en uitstap. Dagdromery.
Maar eers: “Hier is geen teken van brandwonde aan dié kop wat jy sê vol vlamme was nie,” bestraf Frau Kwaai haar.
“Maar . . .” Verder kom Altydoopvygie nie. Sy begin haar naels kou. Sy’s skaars agtien. Hoe moet sy van dié dinge weet? ’n Kind wie se kop in vlamme uitbars?
“Moment bitte.” Frau Kwaai werk voort met ’n soort afgemete stilte, en oplaas sê sy: “’n Slim man, so’t ek iewers gelees, hy’t gesê dis makliker om oor algebra te praat as oor vuur.” Sy sit haar hand op Altydoopvygie se arm. “Kyk na jouself alleen daar op die vlakte, mevrou Losper. Opkyk is darem baie alleenstaande.”