DIE SLAG VAN DEN HAAG
Ons verduidelik hoekom Suid-Afrika in ’n internasionale hofsaak oor Israel se oorlog in Gasa betrokke geraak het
DIE beelde skok – geboue in puin, gehawende hospitale wat oorloop van die beseerdes, chaos en ellende oral. Israel se bombardering van Gasa is só intens dat satellietfoto’s wys elke vierkante sentimenter van die gebied is oortrek met ’n laag as wat die grond heeltemal grys verkleur het.
Die oorlog in die Gasastrook oorheers tans die nuus, en dit verdeel ook gemeenskappe en veroorsaak massabetogings oor die hele wêreld.
En toe tree Suid-Afrika toe tot die stryd. ’n Topregspan van ons land het Israel van volksmoord beskuldig en gevra vir internasionale ingryping om ’n onmiddellike einde te maak aan die verwoesting in Gasa.
Twee dae lank was die oë van die wêreld op ons regsgeleerdes in Den Haag toe hulle die saak aan die Internasionale Geregshof, ook bekend as die Wêreldhof, voorgelê het, waarna Israel die kans gekry het om te reageer.
Maar hoekom raak Suid-Afrika by die oorlog betrokke? En wat is die Internasionale Geregshof?
Meer as 23 000 Palestyne, meestal vroue en kinders, is reeds dood in die oorlog wat Israel teen die Hamas-groep in Gasa voer.
Die oorlog het gevolg op ’n aanval van dié militantegroep, wat sedert 2007 oor Gasa regeer, op Israel op 7 Oktober verlede jaar.
In die aanval op Israel is sowat 1 300 mense dood en 240 mense gyselaar geneem en na Gasa ontvoer.
Sedertdien reën Israel se bomme neer op Gasa, waar sowat 2,3 miljoen mense woon, en gewone burgers krepeer in ellende in dié streek waar dinge soos water, kos en elektrisiteit ál skaarser raak.
Suid-Afrika se regspan vra die Wêreldhof vir ’n noodbevel om die konflik te beëindig en humanitêre hulp in die streek toe te laat.
Een van Suid-Afrika se advokate, Tembeka Ngcukaitobi, het in die hof aangevoer Israel se politieke en militêre leiers het “stelselmatig en in eksplisiete terme hul voorneme van volksmoord verklaar”.
Hy het die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, aangehaal. Op 28 Oktober het hy die troepe wat Gasa ingeval het, toegespreek. “Onthou wat die Amalekiete aan julle gedoen het.” In die Bybel was die Amalekiete ’n nomadiese stam wat gesien is as die ewige aartsvyande van antieke Israel en vervolgers van die Israeliete.
Een van Israel se regsadviseurs, Tal Becker, het die beskuldiging van volksmoord verwerp en gesê die land het die reg om homself te verdedig.
Sy oorlog is met Hamas, nie die Palestynse volk nie, het die land se regspan aangevoer.
“Israel voer ’n oorlog wat hy nie begin het nie en nie wou hê nie,” het hy gesê. “In hierdie omstandighede kan daar kwalik ’n aanklag wees wat meer kwaadwillig en vals is as die aantyging teen Israel van volksmoord.”
Ná die verhoor het die hof verdaag, en teen Huisgenoot se druktyd was die uitspraak nog hangende.
Hulle belowe wel ’n spoedige uitslag.
Selfs al beslis die Wêreldhof in Suid-Afrika se guns, is dit moeilik om die hof se bevele af te dwing, sê Victor Kattan, ’n Britse professor in publiekreg.
Die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad van 15 lede is verantwoordelik vir die afdwing van die Wêreldhof se uitsprake.
Vyf van sy lede – China, Frankryk, Rusland, Brittanje en Amerika – is permanente lede van die raad en het die reg om enige stem te veto.
Dit beteken dis byna onmoontlik om teen enige van