KANSELLEER SÓ JOU FOONKONTRAK
JY WIL ’n nuwe selfoon hê, of jou huidige kontrak beëindig omdat dit te duur is. Maar kan jy dit doen sonder om geld te verloor? Hier is wat jy moet weet.
1 SAL EK ’N BOETE MOET BETAAL?
Daar is gewoonlik ’n klein venstertydperk aan die begin van ’n kontrak waarbinne jy kan kanselleer sonder om geld te verloor.
Die voorwaardes kan verskil na gelang van die maatskappy of soort kontrak. So byvoorbeeld sal enige toestelle, soos die foon en bykomstighede, nog in die oorspronklike verpakking moet wees. Hou altyd die kwitansie as bewys van betaling.
2 HOE WERK ’N KENNISGEWINGSTYDPERK?
As jy jou kontrak wil kanselleer, moet jy gewoonlik minstens 20 werkdae kennis gee.
■ Vroeë kansellasies: Selfoonkontrakte tussen jou en die diensverskaffer geld gewoonlik vir ’n wetlik bindende tydperk soos 24 maande. Wanneer jy kennis gee, moet dit skriftelik gedoen word – verkieslik per e-pos eerder as ’n teksboodskap. Jy hoef nie redes te verskaf nie.
■ Naby die vervaldatum: Die diensverskaffer moet jou 80 tot 40 dae vóór die vervaldatum herinner wanneer jou kontrak gaan verstryk en wat jou opsies is – soos dat jy moet kanselleer as jy nie die kontrak wil hernu nie.
Baie verbruikers besef nie dat die kontrak van maand tot maand sal voortduur as hulle nie op bogenoemde kennisgewing reageer nie. Selfs al verstryk die kontrak, moet jy dit steeds amptelik kanselleer. Die diensverskaffer mag ook nie die kontrak vir nog ’n vaste tydperk sonder jou toestemming hernu nie, maar dit sal van maand tot maand oorrol tot jy jou opsies uitoefen.
3 IS KANSELLASIEFOOIE WETTIG?
Ja, maar wetlik mag dit “nie ’n redelike bedrag oorskry nie”.
Dit beteken diensverskaffers kan nie die wins van jou eis wat hulle vir die res van die kontraktydperk sou gemaak het nie.
4 HOEVEEL KAN GEHEF WORD?
Die berekening van die kansellasiefooi moet skriftelik uiteengesit en aan jou verduidelik word. Elke diensverskaffer het hul eie kriteria na gelang van jou kontrak. Faktore wat die eindelike fooi sal bepaal, is byvoorbeeld:
■ Die prys van die produk, soos jou selfoon of tablet.
■ Die bedrag waarvoor jy steeds aanspreeklik is tot en met die kansellasiedatum.
■ Die waarde van die produkte soos die foon en bykomstighede in jou besit ná kansellasie. Jy behoort die balans te betaal van wat jy skuld.
■ Die waarde van die produkte wat jy volgens kontrak aan die verskaffer kan terugbesorg.
■ Die afslag wat jy gekry het (soos ’n goedkoper prys vir die foon). Die diensverskaffer kan ’n verlies eis weens jou vroeë kansellasie.
■ Alle uitstaande bedrae tot en met die kansellasiedatum, soos vir lugtyd, SMS’e en databondels, wat jy reeds gebruik het.
■ Die kontraktyd wat oor is.
Onthou Gewoonlik is dit goedkoper om te kanselleer hoe nader aan die vervaldatum jy kom. Dis omdat jy reeds ’n groot deel van die produk afbetaal het. Maar soms kan dit goedkoper uitwerk om die kontrak te voltooi eerder as om die boete te betaal.
5 KAN JY DATAKONTRAKTE KANSELLEER?
Ja, jy behoort dataplanne te kan kanselleer sonder kansellasiefooie. Maar jy moet binne die vereiste kennistydperk kanselleer. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak jy het die beskikbare data of lugtyd opgebruik – jy kan nie die diensverskaffer laat weet dat jy nie al die data gebruik het en dit dan wil eis nie. Maak ook seker dat die debietorder gekanselleer is.
6 KAN JY TYDENS DIE KONTRAK AFGRADEER OF OPGRADEER NA ’N ANDER PRYSPLAN?
Dit sal afhang van die diensverskaffer en jou kontrak, maar meestal kan jy. Daar is gewoonlik geen koste as jy opgradeer na ’n duurder plan nie, maar jy kan ’n “migrasiefooi” betaal wanneer jy afgradeer voor kontrakbeëindiging.
7 WAT GEBEUR MET DIE KONTRAK AS JY ONDER SKULDHERSIENING GAAN?
Sekere netwerkverskaffers sal die kontrak as deel van jou skuldherskeduleringsplan hanteer om jou te help om dit makliker terug te betaal. Hulle kan dit byvoorbeeld oor ’n langer tydperk skeduleer. Jou skuldberader moet hulle kontak.
8 WAAR KAN JY KLA OOR ’N ONBILLIKE KANSELLASIEFOOI?
Neem dit eers met die maatskappy se kliëntediensspan op. As dit nie opgelos kan word nie, kan jy dan ook die ombud vir verbruikersgoedere en -dienste kontak.