’n Mens mág maar droom
ONLANGS ry ons op ’n Sondagmiddag deur ons stad op ’n besigtigingstoer. En daar kom ons op ’n huis af: in ’n antieke boustyl, groot en majestueus. Dadelik begin ons toe droom.
Die huis bly die onderwerp van bespreking, en ek besluit om ’n stap verder te gaan en vir ons ’n afspraak te reël. Die kinders was nog nooit aan so iets blootgestel nie. Ons praat mekaar altyd soveel moed in oor “droom groot”, en “jou drome moet jou bang maak”. En nou’s dit tyd om daad by die woord te voeg.
Ons praat positief en begin beplan. Ons seun wonder hoe ons meubels daar gaan kom, en bekommer hom oor die roete wat die meubelwa moet volg. Ek dink aan ons nuwe adres en hoeveel kennisgewings ek sal moet uitstuur. Ons dogtertjie dink aan die skole, want die naaste skool is nie húlle skool nie.
Die opgewondenheid is tasbaar ten spyte van die koopprys wat (behalwe in ons drome) ver buite ons bereik is. Die kinders besluit ons moet lyk soos mense met geld en trek “Sondagklere” aan.
Dis goed om betyds te wees vir afsprake, en ’n hele kwartier voor die afgespreekte tyd is ons daar.
Eindelik daag ons agent op en kan ons die droom binnestap. Die leefvertrek is sprokiesmooi, die uitsig asemrowend, en dis tog interessant om deur iemand anders se leefwêreld te stap. By die kombuis steek ek vas. Ek sien in my binneoog hoe my dogtertjie my breekgoed uitpak, en ons droom oor die baie borde kos wat gemaak kan word. Buite “bou” die manne swembad.
In daardie oomblik is ons die trotse eienaars van ’n kasteel, want ’n mens mag maar droom.
LYNETTE STRYDOM