Leef jou lewe voluit
ELKE jaar maak ek doelgerigte en positiewe voornemens. Ongelukkig misluk ek dikwels as dit kom by die uitvoering daarvan en die regte besluite.
Dit voel soms vir my ek stel te dikwels ander se belange bo my eie. Ek het nog nooit geleer om “nee” te sê vir ander nie. Hierdie jaar wil ek egter al my kragte en energie inspan en hard aan my voornemens bly werk.
Ek wil myself elke oomblik koester. Die gesegde “’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees” bevat baie waarheid. Jou innerlike en uiterlike beïnvloed mekaar; die een kan nie sonder die ander nie. Wanneer jy goed lyk, voel jy ook goed en sal die positiwiteit uit jou straal.
Ek wil my liggaam versorg deur reg te eet en genoeg oefening te doen. Ek wil pragtig lyk vir my man. Ek gaan nie toelaat dat die badkamerskaal my gemoed bepaal nie. Ek gaan ’n gesonde leefstyl kweek. Ek gaan ophou om myself ongelukkig te maak deur ’n onrealistiese gewig na te streef. Ek gaan leer om myself te sien soos God my sien: as sy kunswerk.
Ek glo en vertrou dat ek op hierdie pad sal volhard en op die ou end daarin sal slaag om ’n nuwe ek te word. Ek gaan al die tyd wat ek kan aan myself bestee, en nog meer doelwitte stel waarby ek sal baat vind. Jy het nie ’n groot huis, ’n bank vol geld, ’n klomp plastiekkaarte of die bewondering van ander mense nodig om ’n sterker mens te word nie.
Leef in die nou en leef jou lewe voluit, is die regte keuse. Maak gebruik van al die uitdagings wat oor jou pad kom, gryp dit met albei hande aan en maak die beste daarvan.
ANTOINETTE SCHOEMAN, RIEBEECKSTAD