WENKE VIR AS JY WINKEL TOE GAAN
HET jy al ooit by ’n supermark met ’n kort lysie ingestap en met ’n stampvol trollie uitgestap met goed wat jy nie geweet het jy nodig het nie? Hier is wenke om jou tyd en geld te spaar wanneer jy weer inkopies doen.
NEEM DIT AF
Neem ’n foto van die inhoud van jou ys- en koskas op jou foon voor jy winkels toe gaan. Op dié manier sal jy presies weet wat jy het en wat jy nodig het, wat jou minder geneig sal maak om iets te vergeet – of iets ekstra te koop.
DOEN DIT ALLEEN
Sowat 65% van die items wat ons in die winkeltrollie pak wanneer ons saam met ons gesin inkopies doen, is onbeplan of eintlik onnodig. Los jou kinders eerder tuis wanneer jy kruideniersware gaan koop.
GEBRUIK KONTANT
Gaan maak ’n draai by die OTM en trek kontant vir jou inkopies eerder as om jou bankkaart in te span. In ’n studie wat in die Journal of Consumer Research gepubliseer is, is oor ses maande na die inkopiegewoontes van 1 000 huishoudings gekyk en bevind kopers wat kontant betaal het, het minder verwerkte kosse en meer voedsame items gekoop as dié wat met die kaart betaal het. Kaartgebruikers het nie net meer gemorskos gekoop nie; hulle het ook gemiddeld tot 78% meer aan kruideniersware bestee. Omdat krediet- en debietkaarte meer abstrakte vorme van betaling is, gebruik ons dit nie so versigtig soos kontant nie.
HOU BY DIE BUITENSTE RAKKE
Kruidenierswinkels plaas noodsaaklike items soos suiwelprodukte, vleis en vars produkte op ’n strategiese wyse aan teenoorgestelde punte van die winkel sodat jy gedwing word om deur al die middelste winkelrakke te loop en in die versoeking kan wees om goed te koop wat jy nie nodig het nie. Wanneer jy in die supermark instap, loop eers om die rand daarvan en maak net ’n draai by die binneste winkelrakke as jy regtig iets van daar af benodig.
EET VOOR JY KOOP
Dis algemene kennis dat ’n leë maag jou lus maak vir allerlei soorte kos, maar in navorsing is bevind honger kan ook jou besluitnemingsvermoë aantas. In 2010 is in ’n studie aan die University College London bevind honger deelnemers het dobbelbesluite met ’n hoër risiko geneem as dié wat versadig was. Navorsers glo die hormone wat jou liggaam afskei wanneer jy honger is, beïnvloed jou vermoë om rasioneel te dink.
VIND JOU EIE RITME
Talle winkels speel musiek met ’n ritme wat stadiger as die gemiddelde hartklop is, wat jou meer tyd in die winkel laat deurbring en tot 29% meer dinge laat koop, volgens Martin Lindstrom, skrywer van Brandwashed: Tricks Companies Use to Manipulate Our Minds and Persuade Us to Buy. Dra oorfone en luister na opgewekte liedjies om vinnig in en uit te beweeg en geld te spaar.
KIES ’N MANDJIE
Winkeltrollies is die eerste keer in 1936 deur die Amerikaanse sakeman Sylvan Goldman bedink en ingespan om klante meer kruideniersware te laat koop – en dit flous ’n mens inderdaad om meer te koop. Hoe groter die trollie, hoe gemakliker voel ons om dit vol te maak. Martin en sy span het as deel van ’n eksperiment die grootte van trollies verdubbel, en niksvermoedende klante het 19% meer kruideniersware as gewoonlik gekoop.
KYK OP, KYK AF
Supermarkte plaas die items wat hulle wil hê jy moet koop op oogvlak. Op die rak met ontbytkosse sal grootmaatontbytkos dalk op die onderste rak geplaas word, terwyl die gesonder opsies bo is. Die duurder handelsname word op oogvlak gepak. Maak dus seker jy kyk op en af wanneer jy deur die rakke wandel.
SNUFFEL BEHOORLIK
Om agter op die rak of in die yskas vir versteekte items te snuffel kan beteken jy vind die varsste produk met ’n later verkoopdatum. As jy lui is en net voorlangs vat, sal jy dalk die produkte met die kortste rakleeftyd kry. Dié eenvoudige wenk kan baie help om die kos te beperk wat in jou huishouding vermors word.
VERMY PEUSELHAPPIES
Enigiets wat in kleiner boksies of as stringe kleiner pakkies verkoop word, is dikwels duurder as die groot bokse of verpakkings. Jy bespaar dalk ’n paar rand en het minder rommel op jou gewete.
KYK NA DIE WATERINHOUD
As jy gedink het bevrore hoender is goedkoper as vars hoender, moet jy weer dink. Tot 43% van ’n bevrore hoenderstuk se gewig kan uit water bestaan, sê Ann Goslin, uitvoerende hoof van die SA Nasionale Verbruikersunie. Dis omdat baie bevrore hoenderstukke met pekelwater ingespuit word. Vars hoender kos dalk 50% meer per kilogram, maar dit lewer ewe veel vleis as bevrore hoender teen dieselfde prys – en dit smaak lekkerder, sê Ann. Dieselfde kan ook met maalvleis en wors gebeur, veral wanneer dit as ’n spesiale aanbieding gesmous word. Kyk wat die waterinhoud op die etiket van bevrore vleisprodukte is.
KIES SELF UIT
Dis goedkoper om self jou groente en vrugte van die rak te kies en per kilogram te betaal as om dit klaar verpak in ’n houer of sakkie te koop. Dis ’n bietjie meer moeite, maar jy bespaar geld en jy kan seker maak elke aartappel of appel wat jy koop, is in ’n uitmuntende toestand. Dieselfde geld vir deliprodukte soos ham, sê Anton Viljoen van die DMC-groep, ’n maatskappy wat Suid-Afrikaners met dienste soos Consumer Assist help om finansieel kop bo water te hou. Laat liewer jou ham sny as om ’n klaargesnyde pakkie te koop.
KOOP ’N HEEL HOENDER EERDER AS PORSIES
Dit is goedkoper per kilogram en ’n mens kan meer daarmee doen, soos om die bene agterna te gebruik om sop of aftreksel mee te kook.
HOU DIE EENHEIDPRYS DOP
Lees die eenheidsprys op verpakkings, is Ann se raad. Produkte soos kaas is in ’n verskeidenheid verpakkings te kry. Harde kaas word dikwels in blokkies van 900 g en selfs 800 g gesny en verpak, maar op die oog af lyk dit ewe groot. Dieselfde geld vir produkte in bakkies, soos maaskaas: Die houertjie kan enigiets van 175 tot 250 g weeg. Moet dus nie sommer aanneem die een van 175 g is die goedkoopste nie. Kyk hoeveel die produk per gram kos.
KIES GOEDKOPER VLEISSNITTE
Ja, jy kan steeds vleis eet, al is jou begroting knap; kies net goedkoper snitte. Dit moet soms langer gaar word om sag te wees, maar daarom is dit gewoonlik ook geuriger. Goedkoper snitte werk veral goed vir bredies, oondstoofgeregte en potjies, sê Ray-Anne Cahill, wat spaargeheime deel op haar blog, frugality-for-today.com. Lamsnek werk uitstekend in bredies, beesborsstuk, beeswang en stowevleis in oondbakgeregte, en ’n gerolde varklies saam met uie. Maalvleis is goedkoper per kilogram as biefstuk en tjops en ’n mens kan dit met lensies, bone of groente nog verder rek, sê Jessica Byrne, ’n dieetkundige by die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika.