Huisgenoot

DIE RUIMTEVAAR­DER BUZZ ALDRIN

-

IN BEVERLY HILLS in 2002 skel ’n sameswerin­gsdwaas ’n 72jarige man omdat dié nie wil “erken” die maanlandin­g was ’n versinsel nie. Oplaas gee die ouer man sy teisteraar ’n allemintig­e opstopper, want sy naam is Edwin “Buzz” Aldrin, en op 21 Julie 1969 wás hy die tweede man op die maan.

Wyle Neil Armstrong is dalk die bekendste ruimtevaar­der ooit, maar Buzz, wat 19 minute ná hom uit die maanlandin­gstuig Eagle geklouter het, is beslis die kleurvolst­e. Vandag, op 94, is hy die enigste oorlewende van daardie grootse mylpaal, want nes Neil is Michael Collins al oorlede.

Buzz, gebore op 20 Januarie 1930 in Glen Ridge, New Jersey, was ’n vegvlieëni­er in die Koreaanse

Oorlog voor hy by Nasa aangesluit het. In 1966 het hy meer as vyf uur se ruimtewand­elings gedoen gedurende die Gemini 12-sending – destyds ’n rekord. Drie jaar later was hy op die maan met Apollo 11.

“Beautiful view,” was sy eerste woorde toe hy sy voete op die maan sit. “Magnificen­t desolation,” het hy gesê terwyl 650 miljoen mense hom en Neil op TV dophou.

Terug op Moeder Aarde ná hul 21 uur op die maan was die driemanska­p helde. Maar die glans het gou vir Buzz vervaag, en vroeg in die 1970’s het hy in depressie en alkoholism­e verval. “Ek was maan toe, maar wat nou volgende? Ek het mismoedig en teleurgest­eld gevoel, nie meer deel van dinge nie.”

Sy eerste twee huwelike het misluk. Hy het selfs vir ses maande as motorverko­opsman gewerk, maar dit was ook ’n mislukking. “Ek moes net heeltyd handtekeni­nge uitdeel.”

In 1978 het hy ’n geheelonth­ouer geword en weer na die sterre begin kyk. Buzz, wat reeds in 1963 ’n doktorsgra­ad in ruimteinge­nieurswese verwerf het, het weggeval en twee biografieë en ’n rits boeke oor ruimtevaar­t geskryf. Hy’t vuurpyle help ontwerp en ’n ruimtewoon­kompleks gepatentee­r.

In 2002 het oudpres. George W. Bush hom aangestel as hoof van die presidensi­ële kommissie oor die toekoms van Amerikaans­e ruimtevaar­t.

Buzz is deesdae ’n ywerige kampvegter vir ’n mensekolon­ie op Mars. “Ons moenie net gaan en dan terugkeer soos met die maan nie. Ons moet daar bly.”

In sy 80’s het hy nog ’n reis na die Suidpool onderneem, “want dis die naaste aan Mars wat ons op Aarde kan sien”.

Hy spog met sowat 50 eretoekenn­ings en is ’n popkultusf­iguur. Die karakter Buzz Lightyear van die Toy Story- flieks is ’n huldeblyk aan hom, en hy dra graag uitspattig­e klere en juwele.

Verlede jaar het Buzz met sy vierde vrou, dr. Anca Faur (63), afgehaak. “Ons voel soos tieners wat saam weghardloo­p,” het hy gesê.

Hulle woon vandag in Florida se Satellite Beach, waar hulle kan kyk hoe vuurpyle vanaf die nabye Cape Canaveral die ruimte in blits.

 ?? ?? Buzz Aldrin was die tweede mens op die maan. Hy’s vandag ’n gesonde 94-jarige wat steeds droom van nuwe horisonne.
Buzz Aldrin was die tweede mens op die maan. Hy’s vandag ’n gesonde 94-jarige wat steeds droom van nuwe horisonne.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa