Huisgenoot

HELP, MY KIND IS IN ’N ONGESONDE VRIENDSKAP

-

KINDERS tree nie altyd vriendelik teenoor mekaar op nie – soms knou hulle mekaar af. Maar daar is ’n groot verskil tussen maats wat soms ongevoelig optree en maats wat in ongesonde patrone verval en boeliegedr­ag toon. As jou kind se maat soms iets onsensitie­fs sê, is dit heeltemal anders as wanneer ’n maat gereeld venynig teenoor jou kind is.

Dis byvoorbeel­d een ding vir ’n maatjie om skielik nie met jou kind te wil speel nie, maar iets heel anders as die maat aanhoudend jou kind afkraak.

En wanneer jou kind vasgevang is in ’n ongesonde vriendskap waarin hulle geboelie word, raak dit tyd om in te gryp.

Hier is raad vir hoe jy toksiese gedrag kan herken en hanteer.

WANNEER IS ’N VRIENDSKAP TOKSIES?

’n Toksiese maat is iemand wat herhaaldel­ik jou kind uitsluit of verkleinee­r, sê Carol Surya, ’n sielkundig­e van Plettenber­gbaai.

Die maatjie kan dalk ook in sommige omstandigh­ede vriendelik wees – soos wanneer ’n grootmens naby is of die maatjie in beheer is.

Die toksiese maat het dalk self ’n swak selfbeeld en voel onseker oor hulself, sê dr. Erin Leonard, skrywer van How to Raise a Secure Child – Parenting with Empathy.

Die toksiese maat kan ook nadat hulle jou kind afgebreek het manipulere­nd optree om jou kind weer emosioneel in te katrol, sê dr. Tania Holz, ’n opvoedkund­ige sielkundig­e van Benoni. “Wanneer ’n maat lelik is met jou kind, oorlaai hulle kort daarna jou kind met geskenke of nooi hulle na hul huis,” beskryf Tania hierdie soort gedrag.

HOEKOM TREE KINDERS SO OP?

Net omdat jou kind se maat sulke gedrag toon, beteken nie daar is iets fout net hom of haar nie. “Uit my eie ervaring raak kinders se gedrag toksies wanneer hul emosionele behoeftes nie voldoende deur hul ouers bevredig word nie,” sê Tania. “Ouers moet onthou kinders boots hul gedrag na en hoe hulle met ander is.”

Carol voeg by dat die maat dalk met ander uitdagings worstel en daarom teen jou kind uitvaar.

Moet dus nie aannames maak oor die maat en hom of haar net as ’n boelie uitkryt nie.

Dis belangrik om jou kind se belange te beskerm en hulle te leer om in ongesonde situasies gepas op te tree. Fokus daarop om jou kind te bemagtig eerder as om die ander kind sleg te sê.

KYK UIT VIR DIÉ TEKENS

◗ As jou kind skielik teruggetro­kke of angstig raak in die teenwoordi­gheid van ’n maatjie.

◗ Die maat het ’n slegte invloed op jou kind en plaas pal druk op jou kind.

◗ Die maat oorlaai jou kind met aandag, en sluit jou kind dan weer heeltemal uit.

◗ Die vriendskap het voorwaarde­s: “Ek sal met jou speel as . . . ”

◗ Die maat dreig of verneder gereeld jou kind.

LEER JOU KIND SÓ MAAK

◗ Ignoreer dit As jou kind die gedrag net ignoreer, sal die maat hul gedrag moontlik begin verander.

◗ Stel grense Jou kind kan sê: “Jy moet ophou lelike goed sê of my spot, of los my uit.” Of: “Ek kan sien jy voel nie lekker nie, wil jy dalk met die juffrou gaan praat?”

◗ Gee dit ’n naam As die maat ’n grens oorsteek, moet jou kind presies sê hoe hulle dan voel: “Jy is onbeskof en maak my gevoelens seer.” Jy bemagtig jou kind deur hulle te leer om hul gevoelens te verwoord.

◗ Kry ’n veiligheid­swoord Besluit saam op ’n woord wat jou kind kan gebruik as die maat teenwoordi­g is en met jou wil praat. Wanneer jou kind dan die woord gebruik, weet jy dis tyd vir jou om in te gryp.

◗ Praat Moedig jou kind aan om met jou of ’n ander volwassene of onderwyser te praat as die maatjie lelik optree.

WANNEER OM PROFESSION­ELE HULP TE KRY

As jy die gedrag van jou kind se maat oor ’n langer tydperk monitor en sien daar is ’n patroon, is dit tyd om hulp te kry, sê Carol. Praat ook met jou kind se onderwyser oor die situasie; hulle het dikwels insigte wat jy nie het nie.

As jy dié gevaarteke­ns sien, moet jy ingryp of ’n spelterape­ut of sielkundig­e se hulp inroep:

◗ Jou kind se persoonlik­heid verander.

◗ Jou kind vaar skielik uit teen ander.

◗ Hulle raak aggressief teenoor troeteldie­re of sibbes.

◗ Hulle begin hulle ook aan jou onttrek.

◗ Jou kind se slaap- of eetpatroon verander.

◗ Hulle ervaar konsentras­ieprobleme.

◗ Hul akademiese uitslae raak ál swakker.

◗ Hul selfvertro­ue is minder.

DIE TOKSIESE MAAT HET DALK SELF ’N SWAK SELFBEELD EN VOEL ONSEKER OOR HULSELF

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa