DROME WORD WAAR
In moeilike omstandighede het dié “outjie van Eersterivier” nooit gedink hy sou ’n doktor word wat oorsese werksgeleenthede aangebied sou word nie.
As dinge soms swaar gaan, kan jy óf moed opgee óf jy kan vasklou aan elke tweede kans wat oor jou pad kom. Laasgenoemde is presies wat Gerald Maarman (30) gedoen het en tot vandag is hy nie spyt oor sy keuse nie.
Gerald het in Kleinvlei buite Kaapstad grootgeword en was deel van die“perfekte”gesin. Sy ouers was in die bediening, het hul eie kerk gehad en die gesin het aan niks tekort geskiet nie.
Maar dinge was ook nie altyd rooskleurig nie. Familie en vriende het onder hulle begin uitstap, maar ten spyte van al die teëspoed het Gerald aanhou droom.
Wanneer jy by hul huis in Electric City instap, hoef jy nie ver te soek om te sien wie dié gesin se trots is nie. Gerald se sertifikate en toekennings is oral in die voorkamer uitgestal. Hy’s hoflik, nederig en hy kyk jou stip in die oë wanneer hy praat. Hy’s skaam, maar hy praat met opregtheid en jy kan sien hy bedoel elke woord.
Vir hom en sy gesin was die pad tot hier nie ’n maklike een nie. Alles het verander toe sy jonger suster op 14 swanger geword en sy ouer broer by ’n bende betrokke geraak het.
“Dit het die familie soortvan ’n knock gegee, want nou het alles in die huis verander. Dit was nie meer ’n familie wat op ’n Sondag kerk toe gaan en sing en gelukkig is nie. Alles was net deurmekaar.”
Gerald se ma, Maria, het so siek geword dat sy haar werk moes los. Sy pa, Jarol, wat die opsigter by Spurwing-laerskool is, was toe die enigste broodwinner. Hy het basies net gewerk om die gesin se huis te behou en al wat hulle toe geken het, was swaarkry. En in die middel van al die malligheid was Gerald, ’n gr.10-seun wat blinkoog daarvan gedroom het om ’n dokter te word.
“Die omstandighede het ongelukkig my punte beïnvloed, want as ek huis toe gekom het, het ek teruggekom na daai omstandighede. Almal was ontsteld, want niemand het ’n kind verwag nie, niemand het verwag my broer gaan dit doen nie.
“Saans as ek vir die eksamen moes leer, het my suster se kind heelnag gehuil, en dit was moeilike tye. Ek het later my pa gevra om earplugs te koop, maar dit het nie gehelp nie, want deur alles was ek bewus van die omstandighede,”sê hy.
In sy gr.11-jaar het hy aansoek gedoen om medies aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Met ’n 45%-gemiddeld het hy wiskunde en natuur- en skeikunde op hoërgraad gedruip en is toe afgekeur by dié universiteit.
“Toe sit ek met ’n probleem, want wat doen ek nou? Dit was nou my droom, my way out, waarheen nou? Ek het almal blameer en ek was kwaad vir die Here, want hoekom moes alles nou gebeur?
“’n Klomp goed het deur my kop gegaan. Ek het vir myself gesê óf ek word deel van die bendes, gaan werk in ’n fabriek óf ek probeer nog ’n keer, want daar moes eenvoudig ’n ander uitweg wees.”
SY GELUK VERANDER
’n Vriend het hom toe ’n brosjure van die SciMathUS-program (Science and Mathematics at the University of Stellenbosch) gebring. Dié jaarprogram gee matriekleerders van voorheen benadeelde gebiede nog ’n kans om hul wiskunde-, fisiese wetenskappe- en rekeningkunde-punte te verbeter en sodoende in aanmerking te kom vir universiteitstoelating.
“Dit was die enigste hoop vir my om iets van my lewe te maak. Ek het nie ’n ander keuse gehad as om hard te werk nie,”sê Gerald.
Hy het die heeljaar net twee broeke en ’n paar“Mike”-tekkies gehad om aan te trek, maar ten spyte daarvan het hy die program voltooi met 75% in wiskunde op hoërgraad en 80% vir wetenskap.
Die goeie nuus het nie daar opgehou nie, want aan die einde van 2003 het Gerald ’n oproep gekry wat sy lewe verander het.
“Die universiteit het my gebel om te sê hulle het my punte gesien en ek kwalifiseer om medies te studeer. Ek was bly dat ek die geleentheid kon kry. Ek kon my toekoms sien. Toe ek die oproep kry, het ek
Ek het vir myself gesê óf ek word deel van die bendes, gaan werk in ’n fabriek óf ek probeer nog ’n keer, want daar moes eenvoudig ’n ander uitweg wees. HOOFFOTO: Gerald Maarman (30) moes harde klippe kou om te kom waar hy vandag is. REGS ONDER: Hy speel ook kitaar en wil vanjaar aan sy gospel-CD werk.
geweet the world is my oyster,”vertel hy.
“Ek wou toe nie meer medies studeer nie, want in die jaar by die program het ek nuwe dinge geleer en gesien en wou iets anders in die mediese veld studeer.”
Hy het toe ingeskryf vir die BSc-graad en toe hy fisiologie in sy tweede jaar kry, het hy geweet dit is wat hy wil doen. Hy wou nie net pasiënte vir ’n siekte behandel nie. Hy wou weet hoekom mense sekere siektes kry en hoe die siekte die liggaam raak.
Gerald het in die tyd op kampus gebly en by tye het dinge vir hom baie moeilik geraak.
“Dit was ’n nuwe omgewing. Al die studente wat daar was, was die beste in die land; A-kandidate, hoofseuns en hoofmeisies en dan voel ’n mens maar klein, want ek is maar net ’n 45%-outjie van Eersterivier.
“Ek wou opgee, maar die belangrikste was my motivering. Ek het op ’n kol gedink ek doen dit vir my familie, vir Eersterivier, maar dit was nie die regte motivering nie. Die motivering moet êrens van binne af kom.
“My omstandighede het my ook gemotiveer om te kom waar ek vandag is. Baie jongmense dink die moeilike omstandighede is ’n verskoning. Jou omstandighede moet jou juis motiveer om beter te doen,” sê Gerald.
Deur die moeilike tye en die harde klippe wat hy op kampus moes kou, het sy geloof soms gewankel. Soms het Gerald nog getwyfel oor God se teenwoordigheid in sy lewe.
“Ek het baie keer die Here blameer vir die goed wat in my lewe gebeur. Ek was kwaad vir die Here, want mens lees altyd in die Bybel die Here sal jou nooit verlaat nie; hy sal voorsien in jou behoeftes en al die klomp mooi goed.
“Toe experience ek al die lelike goed wat ek voel ’n jong kind nie veronderstel is om te ervaar nie. Ek het gevoel die Here laat my in die steek.”
In ’n stadium op kampus het Gerald nie kos gehad om te eet nie. Hy het nie geweet wat om te doen nie, want finansieel kon sy ouers hom ook nie help nie.
“’n Vriend het my toe vertel van ’n talentkompetisie wat hulle op kampus hou en ek het toe besluit om te gaan deelneem,” vertel Gerald.
Tot sy verbasing het Gerald, wat kitaar en keyboard speel, die kompetisie gewen.
“Toe die kompetisie klaar is, het ek ’n koevert gekry met geld en ’n R250 kosvoucher van Mugg & Bean. Dis toe ek weet die Here is nog daar. Dit is waar die keerpunt in my geloof gekom het en my vertroue in die Here weer versterk is.”
In 2007 het hy sy honneursgraad in mediese fisiologie by Tygerberghospitaal voltooi en ’n jaar daarna het hy met die studies vir sy meestersgraad begin. Einde 2010 het hy die geleentheid gekry om sy PhD-graad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te doen.
Gerald is die enigste stu- dent wat die SciMathUS-program voltooi het, wat toe aangegaan het om sy PhDgraad te verwerf.
Nadat hy in Augustus verlede jaar sy tesis ingehandig het, het twee maatskappye in Duitsland hom genader om by hulle te kom werk, maar sy hart was in Suid-Afrika. Die Sport Science Institute in Kaapstad het hom toe ook ’n werk aangebied, waar hy vandeesmaand begin het.
Volgens Gerald gaan die hartnavorsingspan by die UK van sy navorsing gebruik op pasiënte met die seldsame bloedvatsiekte pulmonêre hipertensie (PH) en regter-hartversaking. Sy navorsing word ook vroeg vanjaar in die Journal of Pineal
Research gepubliseer. Gerald sit darem ook nie die heeltyd net agter die boeke nie. Hoewel die regte dame nog nie sy hart gesteel het nie, geniet hy sy aftye met sy vriende.
“Ons is roadtrip-mense, so ons vat nou en dan ’n trip. Ek is lief vir die natuur. Ek hou van om in plekke soos Knysna te wees, om net die bome te hoor waai en die voëls te hoor fluit,” sê hy.
Hy wil sy eie navorsingsgroep begin en hy beplan ook om vanjaar aan sy gospelCD te werk. En ná 14 jaar se swoeg en sweet, sê Gerald die harde werk het nou eers begin.
“Toe ek die dag my graad kry, was ek in ekstase, maar partykeer voel dit nie vir my ek is ’n doktor nie. Ek het my droom verwesenlik. Maar nou is daar nog so baie wat ek wil doen en wil bereik in my lewe.”