Platsak & spyt
Die kooplus het almal beet oor die feesseisoen en dan kom spyt agterna. Hier is wenke om dit te verhoed.
Vandeesmaand is nie verniet Januworry nie! Die beursies is leeg en die uitgawes volop. Vra maar die mense om jou, almal trek swaar. As dit nie ou skuld is wat mense opkeil nie, is dit nuwe skuld wat gemaak moet word. Dis Desember se vleis- en presenteskuld wat nog betaal moet word en nou moet die kinders se skoolgoed alweer gekoop word.
Vir Sandra Beukes* van Bredasdorp is die eerste maand van 2015 ’n nagmerrie! Sy het so te kere gegaan oor die feestyd dat sy nou niks meer geld oorhet nie.“Ek het nie track gehou met hoeveel ek spend nie, nou sit ek met niks geld nie en die kinders moet skoolgoed kry. Ek het myself gesê ek gaan nooit weer so baie geld spandeer op goed wat ek nie nodig het nie. Net omdat ek dit wil hê, beteken nie ek moet dit koop nie, al het ek ook bonus gekry,”sê Sandra.
Sy moes nou ’n lening gaan maak, maar wonder al klaar hoe sy alles gaan terugbetaal, want volgens haar verdien sy peanuts.
Volgens Rowen Burger, ’n finansiële adviseur by Momentum, beland mense in die skuld omdat hulle kort termyn dink en nie lang termyn nie.“Mense lewe in die‘here
Ek het nie track gehou met hoeveel ek spend nie, nou sit ek met niks geld nie en die kinders moet skoolgoed kry. Ek het myself gesê ek gaan nooit weer so baie geld spandeer nie.
and now’en dink nie aan die toekoms nie, daarom spandeer hulle so baie geld oor die feestyd,”sê Rowan.
Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), meen een van die redes hoekom die Suid-Afrikaanse ekonomie so swak doen, is weens hoë huishoudelike skuld. Volgens hom leef te veel mense bo hul inkomste.
“Suid-Afrikaanse verbruikers gaan gebuk onder skuld en tot 76% van mense se inkomste word gebruik om lenings of goedere wat op krediet gekoop is, terug te betaal,” sê Christo.
“Die meeste mense verstaan nie die finansiële impak van die koste van krediet nie en dat hulle eintlik op die ou end meer vir goed betaal as wat dit oorspronklik gekos het,”sê Jennifer Kingwill, die rekeningedirekteur van Atmosphere Communications.
Jy moet besef jy is op die randjie van die afgrond as jou uitgawes meer is as jou inkomste en jy sukkel om jou skuld terug te betaal. Die meeste mense besef ongelukkig eers hulle het ’n probleem wanneer hulle reeds te diep in die skuld verval het.
Die Hanekom*-gesin van Kraaifontein buite Kaapstad het hierdie les op die harde manier geleer. Volgens Donald Hanekom* het almal gedink hulle is skatryk, maar eintlik het hulle niks gehad nie, want alles was op skuld gekoop.
“Ons is so diep in die skuld dat ek naweke as ’n fotograaf moet werk om ons daaglikse benodighede aan te koop, want my hele pay gaan net so vir skuld”.
Donald meen dinge is al so erg dat hulle nou na ’n kleiner huis moet trek en hul kinders in ’n goedkoper skool moet sit.
“Ons moet nou afskaal en die goedkoper way gaan, want ons kan dit net nie meer bekostig nie, anders gaan ons alles verloor. Gelukkig het ek met die bank en krediteure ’n ooreenkoms aangegaan om die skuld in kleiner paaiemente af te betaal. Dit gaan langer vat, maar ten minste gaan dit betaal word,”voeg hy by.
James Witbooi* van Bellville buite Kaapstad sê hy het in skuld verval omdat hy nie geweet het hoe om met geld te werk nie.
“Ek werk nou maar vier maande en het klaar baie skuld. Toe ek die eerste keer pay, het ek net spandeer en nie geworry nie. Ek het toe net uit college gekom en as student spaar jy mos nie, so ek het nie geweet van mooi werk met my geld nie,”sê James.
Dan is daar ook nog die lening vir sy studies wat hy moet afbetaal.“Ek gaan nou elke sent moet omdraai,”sê hy.
Maak ’n plan
Skuldberaders help mense wat sukkel om hul skuld te betaal. Hulle help jou om ’n skuldvereffeningsplan saam te stel en skakel met krediteure om die skuldvereffeningsplan goed te keur. Skuldberaders is by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) geregistreer en mag nie deel wees van skuldinvorderingsagentskappe, kredietburo’s of organisasies wat krediet verskaf nie.
Onthou net skuldberaders kan jou help om uit die skuld te kom, maar hulle kan jou nie selfdissipline leer nie.
Volgens Babazile Mbetse van Liberty Retail SA, kan mense geregistreerde skuldberaders vertrou, want hulle het al baie mense gehelp.“Dit is ’n stelsel wat werk. Verbruikers word gehelp om hul skuld te delg en beskerm hulle teen die maak van verdere skuld.”
Babazile raai mense aan om na hul finansiële welstand om te sien deur net soos met jou mediese ondersoek, ’n jaarlikse afspraak met ’n geakkrediteerde finansiële adviseur te skeduleer.
“Op dié manier het jy ’n finansiële plan wat jou kan help om uit die skuld te bly. Onthou ook daar is goeie en slegte skuld. Byvoorbeeld, ’n verband kan as goeie skuld dien. Slegte skuld is wat verbruikers moet vermy, soos mikrolenings en win- kelskuld,” sê Babazile.
“Maar as jy nie jou maandelikse terugbetaling op ’n rekening kan maak nie, moenie wag vir ’n brief nie, praat dadelik met die skuldeiser om iets uit te werk voor dinge buite beheer raak.”
Op sy beurt sê Christo spaar moet ’n langtermyndoelwit wees, maar dit verg baie opoffering en dissipline. “Dink aan spaar as ’n stokperdjie (iets wat jy geniet en nie ’n straf nie) en lees op oor goed soos saamgestelde rente. Spaargeld is nie ’n uitgawe nie, maar ’n manier om jou welvaart te verbeter. Indien jy positief voel oor die geld wat in jou spaarproduk ingaan, gaan jy met meer toewyding spaar. So begin vandag spaar,”sê Christo.
En oor dié goue reël is al die kenners almal eens: Koop net wanneer jy werklik iets nodig het (en nie net omdat jy dit begeer of wil hê nie) en hou streng by ’n begroting.