VARKTJOPS MET OONDGEROOSTERDE GROENTE
Genoeg vir 4
BESTANDDELE
4 groot varklendetjops Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak 4 eetlepels olie 12 klein aartappels, ongeskil en gehalveer 3 eetlepels balsamiese asyn 1 teelepel tamatiepasta 1 eetlepels vars tiemieblaartjies (of 1 teelepel droë tiemie) 1 groterige rooiui , in 8 wiggies gesny 1 x 250 g sampioene, in skyfies gesny Tiemietakkies vir garnering (opsioneel)
METODE
Geur die tjops met sout en peper na smaak. Verhit 2 eetlepels olie in ’n middelslag oondroosterpan op die stoofplaat oor hoë hitte en braai die tjops vir 3 minute aan elke kant. Haal die tjops uit, plaas op ’n bord en hou eenkant. Verlaag die hitte van die stoofplaat tot matig. Plaas die aartappels met hul gesnyde kant na onder in die pan en braai vir 3 minute. Haal die pan van die hitte af. Meng die oorblywende olie, die asyn en tamatiepasta in ’n klein mengbak en geur met sout en peper. Klits liggies tot goed gemeng. Skep 2 eetlepels van die asynmengsel saam met die tiemie, uie en sampioene in ’n bak en gebruik jou hande om dit goed te meng. Giet hierdie mengsel bo-op die aartappels in die oondroosterpan. Bak in ’n voorverhitte oond van 220°C vir 25 minute. Roer na 10 minute. Pak die tjops bo-op die groentemengsel en bak vir 10 minute. Vir opdiening, skep ’n bietjie van die groentemengsel op elkeen se bord, plaas ’n tjop bo-op en bedruip met die res van die asynmengsel. Garneer met ’n tiemietakkie as jy wil. WENK: Jy kan ook gewone ui in die plek van rooiui gebruik.