Kuier

Swemmer van die Vlakte maak vrede ná haar kind verdrink

Sy is al van kleins af soos ’n vis in die water. Vandag het sy haar eie swemskool waar sy ander help om hul vrees te oorkom. Maar die water wat haar soveel gegee het, het ook haar kind weggevat. En tog, kies sy steeds die lewe. DEUR ernusta maralack

-

In ons gemeenskap­pe is dit nie vreemd om te hoor van iemand wat op ’n volwasse ouderdom nog nie kan swem nie. Of dit nou ou stereotipe­s of ekonomiese omstandigh­ede was wat mense teruggehou het, maar om te leer swem was destyds nooit hoog op jou agenda as jy byvoorbeel­d op die Kaapse Vlakte grootgewor­d het nie. Veral destyds was die see of swembad soos hulle sê net bedoel“om voete nat te maak”!

Maar dít was beslis nie die geval vir Nazlie Manchest (40) wat in Primrose Park op die Kaapse Vlakte grootgewor­d het nie. Want haar pa, Ederies, was mal oor rugby en sport in die algemeen – en dit het swem ingesluit. Daarom het hy sy kinders gereeld gevat na Maiden’s Cove, ’n gewilde strand in die Kaap waar“nie-blankes”in die apartheids­jare kon gaan swem. Nazlie en haar sibbe het later ook aangesluit by Marlon’s Swimming Club in Manenberg.

Dis nou nie oordryf om te sê Nazlie het soos ’n vis geaard in die water nie, want op nege het sy al die Westelike Provinsie se swemspan gehaal. Sy het selfs in die jare tagtig in Johannesbu­rg teen spanne van die destydse Natal en Grens deelgeneem.

Maar Nazlie se ster in swem het egter op die verkeerde tyd (tydens apartheid) op sy helderste geskitter en haar swemloopba­an sou nie ver vorder as sy net haar eie rekords kon breek nie. Sy sou nooit teen die beste in die wêreld meeding nie

Wie blameer ek? Myself? Die tuinier wat die hekkie na die swembad oopgelos het?

en mettertyd het sy haar belangstel­ling in swem as ’n sport begin verloor.

Teen st. 8 (gr. 10) was Nazlie moeg vir swem en was sy lus vir ’n ander uitdaging in die water. Dis toe dat sy op 16 aansluit by die Strandfont­ein Life Saving Club om haar staal as menseredde­r (lifeguard) te wys. Hier is sy aan baie traumaties­e tonele en uitdagende omstandigh­ede bootgestel.“By Strandfont­ein Pavilion het ek byvoorbeel­d al iemand op die strand aangetref wat verkrag is. Ek het ook te doen gehad met dronk mense wat lelike aanmerking­s gemaak het en ek moes al mond-tot-mond-asemhaling toepas op mense met bierbekke, ”vertel Nazlie.

Oor die jare het swem Nazlie baie ver gebring en sy was ook nooit ver van die water af nie. Só het sy al ’n pos gehad by die swemskool van die Olimpiese medaljewen­ner Ryk Neethling in Johannebur­g en vandag bedryf sy in die Kaap haar eie swemskool, H2O Swimming Academy, waar sy mense vaardighed­e leer wat dalk eendag hul lewens kan red.

Maar daar is soveel meer aan Nazlie se storie met die water. Dit het haar soveel gegee, maar ook soveel weggevat, want dis asof die noodlot haar die wreedste streep denkbaar getrek het . . .

Want dis Nazlie, die sweminstru­kteur en ervare lifeguard, wie se babaseun vyf jaar gelede in ’n swembad by haar ouerhuis verdrink het, terwyl sy by die huis was.

Niemand kan verby die hartseer ironie kyk dat juis Nazlie (wie se profession­ele lewe nog altyd om swem gedraai het) se krulkopseu­n, Imadudeen, in ’n swembad – daardie plek waar sy so tuis is – verdrink het nie. Imadudeen was toe maar net een en ’n half jaar oud.

Baie mense sou dalk vassteek by die ironie van so ’n ontsaglike tragedie. En ander wat dalk in haar skoene was, sou waarskynli­k nooit weer hul voete in ’n swembad gesit het of enige van hul ander kinders wou laat swem nie. Maar nie Nazlie nie. Haar geloof het haar met Imadudeen se dood op 2 Desember 2012 gedra en sy het haar daarby berus dat God haar kind vir haar geleen het en dat sy hom moes laat gaan toe dit sy tyd was.

So jonk as wat hy was en hoe moeilik dit ook al was, het sy haar vrede gemaak, want die lewe moet aangaan, meen Nazlie. “My ma-hulle het my agterna vertel ’n vrou het by die begrafnis gesê,‘hoe kan jy jou kind laat verdrink, maar sy’s ’n swimming teacher’. Ek het deur soveel scenario’s gegaan. Wie blameer ek? Myself? Die tuinier wat die hekkie na die swembad oopgelos het? Ek is ’n sweminstru­kteur en ek leer kinders hoe om te swem, maar ek is nie in beheer van lewe nie. God is,”sê Nazli kalm. Ja, die plek in haar hart en lewe wat vir Imadudeen uitgesit is, is leeg, maar sy troos haar dat sy weet waar haar kind is en dat“God hom op ’n mooi manier gevat het”en dat hy nie wreed vermoor en iewers onbekend en verlate begrawe lê nie.

SUKSESSTOR­IE

Nazlie, wat ook die ma is van drie ander kinders, Migale (21), Ammaar (10) en die laatlam Rhagma (3), met wie sy swanger geraak het toe Imadudeen reeds afgesterf het, leer steeds volwasse mense en kinders hoe om te swem. Haar swemskool het ’n residency by Virgin Active Gatesville in Athlone in die Kaap, waar sy haar swemklasse aanbied en mense se lewens verander deur vir hulle hierdie belangrike vaardighei­d te leer.

Deur haar swemklas het een van haar volwasse studente reeds 20 kg verloor en Nazlie het ook ’n ingenieur binne ’n maand geleer swem omdat haar loopbaanri­gting dit vereis het. Hierdie is slegs ’n paar voorbeelde, maar dit dien vir Nazlie as bewys dat wat sy doen, werklik ’n verskil maak.

Nazlie wou ook nie toelaat dat die pyn van Imadudeen se dood haar verander in ’n koue, kliniese mens wat nie meer ’n swembad wou sien en haar ander kinders die swembad of swem belet nie. Sy kom dan uit ’n huis waar swem vir hulle tweede natuur was. Rhagma kan ook alreeds swem en dit is hoe dit hoort, glo sy.

VREDE GEMAAK

Wanneer Nazlie haar storie vertel, is daar nie trane wat loop nie. Eerder ’n kalmte wat jy net kan kry as jy regtig vrede gemaak het met iets. ’n Mens besef gou dat Nazlie ’n sterk vrou is en dat die lewe haar talle wyshede geleer het. Sy het ’n borrelende persoonlik­heid en lag en gesels maklik en as jy nie weet van haar seer nie, sal jy dit nie sommer dink nie.

Maar wanneer sy daardie dag van Imadudeen se dood in soveel detail herleef, wys dit ’n mens kan of sal so ’n tragedie nie sommer vergeet nie. Dis asof dit ’n spesiale kamer in jou geheue het.

Nazlie skok jou verder wanneer sy vertel hoe haar pa, Ederies (69), vir Imadudeen in die swembad aangetref en hom probeer red het deur hom aan sy klere na die kant van die swembad te probeer trek. Haar pa, wat toe besig was om van ’n heupvervan­gingsopera­sie te herstel, het kort daarna ’n beroerte gehad, terwyl Nazlie vir Imadudeen met CPR probeer bybring het.

Dit klink soos tonele uit ’n movie, maar dit was ’n seer werklikhei­d wat Nazlie en haar familie daardie dag moes beleef. Steeds is daar geen trane nie – net die absolute duidelikhe­id, maar dan sê Nazlie: “’n Mens weet nie wat in iemand anders se lewe aangaan wanneer jy net na

hulle kyk nie . . . Sommige mense vra hoe kan ek my storie vertel sonder om te huil, maar in Islam (Moslem-geloof) leer ons jou besittings, insluitend jou kinders, behoort nie aan jou nie. Jou kinders word vir jou geleen. Ons leer ons moenie ons lewens op ons kinders en mans bou nie. En as God iets wegvat van ons, het Hy iets anders in plek.”

Nazlie het ’n sagte glimlag op haar mond terwyl sy vertel hoe salig die oggend van daardie tragiese dag nog was. Imadudeen het vroeg opgestaan en wou speel. Dit was nie sy gewone opstaantyd nie, maar Nazlie was ook in ’n goeie bui en het lekker met Imadudeen en Ammaar (toe 5) gespeel, tot ná elfuur daardie oggend en het later vir hulle ryskos (gekookte kos) gemaak, wat sy nie altyd maak nie.

“In hierdie stadium was ek en my man al vir ’n maand uitmekaar. Ons probleme het begin omdat Imadudeen my wêreld was. Ek is ’n harde mens, maar my kinders is my lewe,”voeg Nazlie by.

Die salige uitdrukkin­g is steeds op haar gesig wanneer sy vertel hoe lekker sy vir Imadudeen ná hul speelsessi­e gebad en uitgesmeer het en hom spierwit aangetrek het. Daarna het sy hom gevoer.

“Imadudeen was nie ’n kind wat gesoen wou wees nie, maar daardie dag het hy my seker vier keer gesoen,”voeg Nazlie by.

Min het sy geweet dit sou die laaste keer wees dat Imadudeen haar uit sy eie sou soen . . . Want omstreeks drieuur daardie middag het die verskrikli­ke gebeurteni­s homself afgespeel by haar ouerhuis in Primrose Park op die Kaapse Vlakte, waar sy en haar drie seuns ook gewoon het en waar sy steeds woon.

Imadudeen het die res van die middag, nadat hy geëet het, in die huis rondgespee­l. Die huis was vol mense, want die ander kinders het al uit die skool gekom. Al die vertrekke in hul huis kyk uit op die swembad en Nazlie onthou sy het nog gehoor hul huishulp sê vir die tuinier om die hek wat na die swembad lei, agter hom toe te maak wanneer hy loop. (Dit is hierdie hekkie, wat die tuinier tog vergeet het om toe te maak, wat Imadudeen gebruik het om by die swembad uit te kom.)

“Dit was so rondom drieuur toe my pa uit die moskee gekom het. Ek het op die bank in my woonplek gelê toe ek my pa hoor skree,‘waar is julle!’terwyl hy na die swembad kyk. Ek dog toe waarvoor skree my pa so en hy kom nou-net uit die moskee uit, toe sien ek die liggaampie in die swembad,”vertel Nazlie.

Sy vertel voorts sy moes vir sowat drie minute in skok gewees het, want sy kon net staar na die toneel wat besig was om voor haar af te speel. Daar is diefwering voor haar vensters en sy het gedink watter roete sal haar vinniger by die swembad uitbring.

Maar tot vandag weet sy nie hoe sy by die swembad uitgekom het nie, maar toe sy daar kom, was daar reeds bure wat geskok rondgestaa­n het terwyl haar pa Imadudeen aan sy klere uit die water probeer trek het.

“Ek het CPR op Imadudeen begin toepas. En terwyl ek besig was met my seun, sien ek hoe my pa ’n stroke kry en ek dink, vir wie moet ek nou help? Niemand wat daar gestaan het, het gedink om ’n ambulans of 10111 te bel nie; almal was in skok,” herleef Nazlie daardie dag.

Daar was nie tyd om verder dinge te probeer uitfigure nie en Nazlie het som-

mer met Imadudeen in haar arms na hul huisdokter, nie te ver van hulle af nie, gehardloop. ’n Buurvrou se seun het haar uiteindeli­k langs die pad opgetel en dokter toe gehaas, maar by die dokter was die nuus nie positief nie.

DRAMA DUUR VOORT

In hierdie tyd het die skok vir Nazlie begin beetkry en sy het heeltyd tussen die rolle van mammie en lifeguard gewissel, maar wat met hul aankoms by die hospitaal gebeur het, het haar geduld beproef.

Voordat mediese personeel aandag aan Imadudeen kon gee, moes Nazlie glo eers vorms invul en R500 betaal omdat sy nie ’n mediese fonds gehad het nie. Toe dit uiteindeli­k klaar gedoen is, is Nazlie volgens haar ook aangesê om haar man in die hande te kry. Volgens Nazlie het sy hom probeer bel, maar kon nie deurkom nie omdat sy heeltyd sy nommer verkeerd gedruk het weens die skok.

“Die dokters het gesê hulle probeer Imadudeen stabilisee­r sodat hy oorgeplaas kan word na die Rooi Kruis-kinderhosp­itaal omdat ek nie ’n mediese fonds het nie. Ek het aangeneem hy lewe nog.

“’n Uur later is hy gestabilis­eer en was ons in die ambulans op pad Rooi Kruis toe, maar toe kom daar bloed by sy neus uit. Ek het gebid en dit het vir my gevoel asof die pad nie end kry nie,”herleef Nazlie daardie angswekken­de tyd.

Maar by Rooi Kruis was daar glo weer ’n hoop papierwerk wat Nazlie moes deurwerk en moes sy wag tot die verpleegst­ers vir haar nuus gehad het oor Imadudeen se toestand.

“As ’n ma wil jy net die sekerheid hê jou kind gaan oukei wees, maar die stem van die lifeguard in my het vir my gesê,‘jy moet met God praat en vrede maak’. Ek ken die tekens en het geweet hy gaan nie oukei wees nie,”sê Nazlie. Haar gesig verklap niks van haar emosies nie, maar haar vertelling gee jou as ’n ma hoendervle­is en breek jou hart.

“Ek het met Allah gepraat en dankie gesê dat Hy my kind vir my gegee het. Ek het gevra dat my kind se pyn verby moet wees. Ek het vir my man gesê ek weet hy het baie regrets, maar dat ook hy Imadudeen moet laat gaan en sy vrede moet maak omdat ek nie ’n vegetable wil terughê nie, want Imadudeen was so ’n lewenslust­ige, sporty kind.”

Sy het toe daarop aangedring om haar kind te sien, selfs al was dokters toe nog besig met hom. Die verpleegst­er het Nazlie probeer paai en gesê hulle wil Imadudeen“net was en dan kan jy hom kry”. Dis toe dat die dokter bevestig het wat die lifeguard in haar reeds geweet het, met die woorde wat geen ma ooit wil hoor nie: “Jou kind het nou net afgesterf”.

Dit was halfsewe die aand van 2 Desember 2012, sowat twaalf en ’n half uur nadat Imadudeen daardie oggend so vrolik opgestaan het.

Oor haar emosies vertel Nazlie dat sy sterk gebly het ter wille van die tien familiekin­ders en ander familieled­e wat toe ook by die hospitaal was.

“Ek het nie gehuil of geskree nie en my kind gedra en (die hospitaalp­ersoneel) vir ’n privaatkam­er gevra. Ek het vir die familiekin­ders elkeen hul minuut met hom gegee. Ek het vir hulle gesê hulle kan huil en hom vashou omdat hy nog warm was. Daarna moes ek hom na die (hospitaal se) lykshuis vat. Ammaar was by my en het nog gesê ons moet vir Imadudeen ’n kombersie gee omdat dit koud is daar binne (die lykshuis).”

Hoewel Nazlie haar verlies goed hanteer en haar vrede gemaak het, ruk dit aan jou moederhart wanneer sy vertel van die oomblik toe sy Imadudeen later op ’n koue staaltafel by die staatslyks­huis moes agter- laat (nadat sy hom uitgeken het).

Nazlie was sterk vir almal anders toe sy vir Imadudeen verloor het, maar hierdie oomblik het haar tot in haar diepste wese geruk. Sy onthou hoe sy by die lykshuis agter ’n glasvenste­r gestaan het met Imadudeen aan die anderkant op ’n staaltafel, met iemand daar wat haar aanwys om haar kop in erkenning te knik as die lyk of die tafel wel haar kind is. En dit is wat sy gedoen het; sy het haar kop geknik.

“As ’n ma is die moeilikste ding om jou kind agter te laat in enige situasie – en hier moes ek in ’n kar klim en hom agterlaat op daardie koue, harde oppervlak in die lykshuis. Dít was vir my die moeilikste.”

HAAR TROOS

Om haar kind op só ’n manier te verloor, veral oor die werk wat sy doen, was hard, maar Nazlie voel sy het steeds baie om voor dankbaar te wees en baie om vir haar medemens te gee. Sy kon haar kind groet en was in sy laaste oomblikke saam met hom.

“Daar was tekens (dat Imadudeen sou sterf), maar ons is mens. Ek vind troos daarin dat my kind op so ’n pragtige wyse weggevat is. Ek moes iewers iets in my lewe reg gedoen het om dít te verdien. Daar is ma’s wie se kinders vermis is of wreed vermoor is en iewers in ’n veld lê, maar ek weet presies waar my kind lê. Wat het ek om oor te kla?

“Ek het deur my rouproses weer besef hoekom ons moet groet wanneer ons die huis verlaat en terugkeer. God wys ons hoe om te lewe,”sê Nazlie.

Hoe sy in swem betrokke geraak het en wat sy alles al vermag het, is ’n inspirasie­storie op sy eie, maar ons leer uit haar en Imadudeen se storie hoe om te midde van die grootste pyn en terugslag, steeds lewe te kan kies. Sy hoop sy kan eendag haar eie binnenshui­se swembad hê“sodat ek enige kind van die straat af kan haal en leer swem, of pensioenar­isse met Alzheimers­iekte met waterterap­ie kan help as hulle dit nodig het”.

Ek het met Allah gepraat en dankie gesê dat Hy my kind vir my gegee het. As ’n ma is die moeilikste ding om jou kind agter te laat in enige situasie.

 ??  ??
 ??  ?? HEEL LINKS: Imadudeen, Nazlie se lewenslust­ige kleuter wat in ’n swembad verdrink het. LINKS: Al het sy haar seuntjie verloor, is Nazlie steeds dankbaar.
HEEL LINKS: Imadudeen, Nazlie se lewenslust­ige kleuter wat in ’n swembad verdrink het. LINKS: Al het sy haar seuntjie verloor, is Nazlie steeds dankbaar.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa