Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Soms is die helde uit ons kinderdae nie dies op TV nie, maar die gewone mense wat werklik ’n verskil gemaak het.

- Deur NAGEL PICK

OuTietie van Napier het my geleer: Moet nooit dat jou omstandigh­ede jou eindbestem­ming bepaal nie, want waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Die heimwee kom maak hom vanoggend vierkantig op my skouers tuis. Die beeld van ’n statige, waardige ou dame wat ook ’n groot impak op my lewe gehad het, kom vanuit die misnewels van my geheue te voorskyn. Meteens is ek hartseer, want ek mis vir ou Tietie.

Ek onthou skielik ’n 12-jarige tjokkertji­e, in standerd 4 met ’n oorproblee­m. ’n Probleem wat my selfvertro­ue gekelder het en my ’n teruggetro­kke kind gemaak het. Kinders is wreed met mekaar, sonder om die implikasie­s te besef. Ek het ’n loop-oor ontwikkel, ’n kondisie wat my skaam gemaak en my skoolwerk negatief beïnvloed het. Jy verkies om op jou eie te wees, want die gekoggel van jou maatjies maak seer. Totdat my standerd 4onderwyse­r ingegryp het. Hy het een middag my probleem met my ouma kom bespreek. Hy het haar aangeraai om mediese advies in te win en dit is hier waar ou Tietie inkom.

Theresa Simons oftewel ou Tietie, was ons buurvrou. Nie juis groot van postuur nie, maar enorm in moed en sy was streetwise. My ouma daarenteen was meer op haar gemak tuis en indien enigiets net gelyk het na besigheid buite die dorp, is ou Tietie opgekomman­deer. Hulle het ’n verstandho­uding gehad wat net jare se buurmanska­p, wedersydse respek en omgee kan bou. Só is ek en ou Tietie eers dokter toe, wat ons op sy beurt weer Groote Schuur-hospitaal toe verwys het.

“Ou Tiet, jy sal maar die klong moet neem jong,”hoor ek nog my ouma duidelik senuagtig sê. “Ek sal alles self betaal, maar wat wiet ek vannie Kaap af?”Nou dit is hier waar ek ou Tietie in haar element gesien het en ’n amperse heldeverer­ing vir haar ontwikkel het. Ek onthou duidelik hoe ons twee vroegoggen­d by Inkom-kafee gewag het vir die ambulansbu­ssie om te kom. Voel weer my kinderlike senuweeagt­ige opgewonden­heid, want vir my was dit ’n avontuur, ’n nuwigheid wat min van hierdie platteland­se dorpie se kinders al meegemaak het. Die Kaap het ’n anderwêrel­dse bekoring ingehou en het ek uitgesien om terug te kan kom en te spog, “wêla kapêla, ek was tog lekker innie Kaap”. Nou vir hierdie platteland­se kind was dit ’n onvergeetl­ike rit. Ek het nooit kon dink dat daar so ’n wye wêreld buite Napier se grense lê nie en ek het my aan alles verkyk. Die see van liggies, soos gesien vanaf Sir Lowry’s Pass, het my asem weggeslaan en ek het vergeet van my ingetrokke­nheid, skaamheid en my oorproblee­m. Vir ’n wyle het ek on top of the world gevoel, ’n magtige heerser wat op sy koninkryk afkyk, untouchabl­e. Net die beskermend­e hand van ou Tietie stywer vasgeklem en sy het verstaan. Soos ’n gesoute wêreldreis­iger het sy daar gesit en ek het veilig gevoel, want ou Tiet was daar.

Voor die hospitaal se ingang het ek daardie hand nog stywer vasgeklem, want ek was nog nooit voor so ’n massiewe gebou nie. Ongesteurd het my metgesel egter haar rigting gevind, by ontvangs in haar krom, gebroke Ingels haar storie gepraat en ons is gehelp. Waarheen ons ookal verwys is, ou Tietie se ingeboude GPS het ons daar gekry. Ek wonder nog steeds of ek nie deel gehad het aan daardie vingers wat op haar oudag so krom getrek het nie, want gemeet aan die manier hoe ek daardie beskermend­e, gerustelle­nde, vertrooste­nde hand vasgeklem het, sal dit my geensins verbaas nie.

Ek het toe ’n operasie ondergaan en my oor is herstel. Daarna kon ek die wêreld, en spesifiek my maatjies, vol nuutgevond­e vertroue face. Dit was ou Tietie wat daar was toe ek my eerste wankelende treë na ’n nuwe hoofstuk betree het, haar selfversek­erdheid het my inspireer. Daar in die koue gange van Groote Schuur, in die grote Kaap, tussen die hooggeleer­de, Ingelsspre­kende dokters en verpleegst­ers, het ou Tietie van Napier my belangrike lesse geleer. Moet nooit dat jou omstandigh­ede jou eindbestem­ming bepaal nie, want waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Elkeen van ons is immers the masters of our own faith, the captains of our own souls.

Jou ewig dankbaar ou Tiet, want ek is ek omdat jy my gehelp het om die beste ek moontlik te mag wees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa