Kuier

stuk-stuk deur psoriase verniel Antie van die Vlakte met saag gejaag, nou help sy ander

Sy is jare lank emosioneel en fisiek deur haar eksman mishandel, tog is sy ’n helpende hand vir slagoffers nes sy.

- DEUR ELMARINE ANTHONY

Toe sy hom destyds ontmoet, het sy looks, sjarme en kerklikhei­d haar oorrompel en het hy haar die son, maan en sterre belowe. Maar Mary Bam (61) van Lavender Hill op die Kaapse Vlakte se prins het blitsvinni­g in ’n gewelddadi­ge monster verander toe sy mooi beloftes deur vuishoue en blou kolle vervang is.

Dis eintlik net deur genade dat Mary nog hier is om haar storie te vertel, want volgens haar het haar eksman al haar kop in ’n vuurwarm koolstoof gedruk; haar gejaag met ’n elektriese saag en gedreig hy gaan haar“kop afsny”.

En vir byna 28 jaar het Mary, soos baie vroue, in stilte gely totdat sy eendag finaal genoeg gehad het van haar man se verbale, fisieke én seksuele mishandeli­ng en hom skeihof toe gevat het. Nou wil sy ander vroue wat ook onder huishoudel­ike geweld deurloop, aanraai om nie stil te bly nie, want anders as wat sy in haar tyd ervaar het, ís daar hulp.

Mary is een van sewe dapper vroue wat onlangs hul ervaringe van pyn en mishandeli­ng op skrif in die boek Women

Surviving Lavender Hill, vasgelê het. Na aanleiding van Mary se hoofstuk,“My story about abuse survival”, kan jy nie glo wat dié vrou alles moes deurmaak nie. Want met elke hou wat op haar liggaam neergereën het, het Mary klein en vernederd gevoel“asof ek nie werd is vir die lewe nie”. En geen vrou verdien om só te voel nie.

Dit lyk asof Mary nog altyd ’n ongelukkig­e slag met mans gehad het, dis hoekom sy vandag sê,“ek sal nooit weer ’n man kan liefhê nie”.

Voordat sy haar man ontmoet het, het sy op 19 swanger geword van ’n man wat vir haar gelieg het oor sy huweliksta­tus. Nadat sy swanger geword het, het die man verdwyn en toe sy hom opspoor, het sy uitgevind hy is getroud. Terwyl sy besig was om van hierdie liefdestel­eurstellin­g te herstel, het sy haar man ontmoet terwyl sy Sondae kerk toe is met haar familie.“Ek het vir hom geval, want hy het so sexy gelyk en het ’n groot krul in sy kop gehad. Hy was die vriendelik­ste persoon wat ek ontmoet het en het altyd ’n helpende hand bygesit met my kind.”

Toe hy haar vra om te trou, het sy gesê sy wil nie weer haarself in dieselfde situasie (waar sy swanger word en dan verdwyn die man) bevind nie. Hy het haar oortuig

dat dit nie weer sou gebeur nie, toe stem sy in om met hom te trou.“As ek geweet het wat ek vandag weet, wat agter daai mooi man en sy mooi krul skuil, dan het ek nooit met hom getrou nie.”

sy ware kleure wys

Mary se eks het eers sy ware kleure ná hul troue gewys. Hulle was nog nie eens twee dae getroud nie, toe begin die huwelikspr­obleme al. Hy wou nie werk nie; het ophou kerk gaan en gereeld begin dagga rook, gedrink en selfs met sy eksmeisie voor haar gevry, vertel sy.

Haar man en sy familie was straatpred­ikante en hy het nie gewerk nie. Sy moes hom regdeur hul huwelik smeek om werk te soek.“Dit was altyd die ding waaroor ek die hardste pak gekry het, omdat ek nie my bek kon hou nie. Toe hy my geslaan het, het ek gevoel soos die slegste een. Nogtans het ek uitgehou. Hoekom weet ek nie.”

Mary en haar eksman het altesaam vyf kinders saam, buiten haar eerste kind uit haar vorige verhouding.

Haar man het sy dae deurgebrin­g deur dagga te rook en in die bos te sit en hout kap met sy neef, wat die hout vir geld verkoop het. Een aand het Mary hom gevra wanneer hy gaan werk, want hy sit heeldag in die bos, maar daar het nooit geld ingekom nie. Mary het altyd vuur gemaak in ’n koolstoof om die huis warm te hou. Min het sy geweet die stoof sou sy volgende wapen teen haar word.

“Hy was gerook en het my aan my hare gegryp en my kop binne in die stoof gedruk. My hare het vlamgevat. Ek het by die deur uitgehardl­oop en een van my buurvroue was besig om wasgoed in ’n groot bad te was. Toe druk ek my kop in die water. Hy het agterna gekom om my te slaan, want ek kon nie vir hom vra wanneer hy gaan werk nie. Ek het nooit vir iemand gesê nie. Ek het alles op myself gehou.”

So skrikwekke­nd as wat dit was, was dit nie die einde van haar man se brutalitei­t nie. Toe Mary se pa agterkom dat haar man nie werk nie, het hy vir hom ’n elektriese saag gegee om hout te saag. Haar eks het haar eendag hiermee probeer aanval toe een van hul kinders brood vra en Mary hom gevra het hoekom hy geld het vir dagga, maar nie vir brood nie.

Hy het haar gejaag met die saag en vir Mary gesê hy gaan haar kop afsny. Mary vertel verder asof dit gister gebeur het. “Die saagmasjie­n dril agter my en ek hardloop. Dis ’n klein huisie en ek stoot die deur agter my toe en my kinders help om goed teen die deur te stoot. Die kinders skree en ek huil en ek skree, ‘los ons af!’. Sy neef sien hy wil die deur afsaag en sê vir hom:‘Los af die dinge, die vrou het jou ’n vraag gevra. Jy kan nie dié doen nie’. As hy nie daar was nie, waar sou ek en my kinders vandag gewees het? Die Here was nog altyd saam met ons. Ek het survive.”

Herhaalde mishandeli­ng en om boonop met niemand daaroor te praat nie, is genoeg om menige vrou te knak. Maar Mary het uitgehou en in stilte gely.

verbreek die stilte

“Ek het die stil, smilende antie Mary gebly. Ek het nie geworry nie, al het ek pak gekry. Nou is ek spyt ek het stilgebly. Dit het my suicidal gemaak, want ek het alles op myself gehou,”vertel antie Mary, wat al drie keer probeer selfmoord pleeg het en in die hospitaal vir depressie opgeneem is.

Wat Mary nog altyd in haar diepste seer help cope het, was die werk wat sy in die gemeenskap gedoen het en steeds doen. Sy ry ou en siek mense hospitaal toe of waar hulle ook al moet wees. Sy maak ook siek mense se huise sonder betaling skoon. Sy het altyd iets om te eet of drink in haar motor, wat sy Daisy genoem het, gehou. Dus was die final straw, ná ’n huwelik van 27 jaar en 10 maande, toe haar man haar gemeenskap­swerk beledig.“Hy het gesê my kar is ’n‘hoerhuis op wiele’. Daai het vir my stukkend gemaak, want ek het net mense gehelp en hy het dit geweet.”

Kort hierna het Mary uiteindeli­k haar stilte verbreek en vir haar ma vertel wat sy alles moes deurmaak. Haar ma was natuurlik stomgeslaa­n.

Voorheen toe haar man haar gesmeek het om hom terug te vat, het Mary hom altyd vergewe, maar toe sy besluit om te skei, was sy finaal klaar met hom.

Toe hy nie in die hof opgedaag het vir hul skeisaak nie, het die landdros vir haar gesê om huis toe te gaan en aan haar huwelik te werk.“Haar woorde was soos yskoue water wat in my afsak. Toe staan ek op en sê vir die landdros:‘As jy vandag dit aan my doen, dan nooi ek hom vir ’n lekker lunch, vergiftig hom en bring sy lyk hof toe’. Toe sit sy haar arms om my en sê:‘Mary, jy is geskei’. Ek het só vinnig uit die hof gehardloop Kaapstadpo­lisiestasi­e toe. Dit was amper asof alles gesak het. Soos ’n groot baksteen van my skouers af. Ek het só verlig gevoel!”

Mary, wat ook nou ’n gekwalifis­eerde traumabera­der is, se advies aan mishandeld­e vroue is om nie stil te bly nie.“Praat uit! Die boek was soos ’n healing proses. Vroue moet praat, hulle moenie stilbly nie, ons is hier as ’n gemeenskap. Ons is die helpende hande. Daai tyd wat ek abuse was, was daar nie sulke mense nie. Vandag is daar so baie hulp, nie een van ons hoef ver te gaan om uit abusive omstandigh­ede te kom nie.”

Mary wys ons trots die sentrum vir mishandeld­e vroue wat sy beoog om in September in haar agterplaas te open. Sy het oor die jare haar eie geld gebruik om dit te laat aanbou. Die sentrum het nog werk nodig, maar agter dit skuil ’n trotse vrou wat 28 jaar van hel oorleef het en nie wil toesien dat dit met enige ander vrou gebeur nie.

 ??  ?? HOOFFOTO: Mary herleef die mishandeli­ng wat sy jare lank onder haar eksman deurgemaak het.
HOOFFOTO: Mary herleef die mishandeli­ng wat sy jare lank onder haar eksman deurgemaak het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa