Kuier

Vrystaatse blommevrou neem

Deur dik en dun staan dié familie bymekaar en hul besigheid en die blommevrou wat nou aan bewind is, is nog vars vir enige uitdaging.

- DEUR elmarine anthony

Rhoda Africa (46) is al vir langer as drie dekades ’n blommeverk­oper, maar net soos die blomme wat sy verkoop, is haar liefde daarvoor nog net so vars soos dit daai tyd was. En vandag – drie geslagte later – het Rhoda dit reggekry om hul nederige familiebes­igheid uit te brei tot een wat blomme verskaf aan die Shoprite-groep, een van die grootste kettingwin­kelgroepe in Suid-Afrika.

En om te dink, dit het alles begin met haar wyle oupa, Sheigh Dawood, wat baie jare gelede blomme in plekke soos Malmesbury, Piketberg en Darling gepluk en dit dan by huise in Kaapstad verkoop het. Rhoda, wat deesdae die besigheid na nuwe hoogtes voer, het ook net graad 7 (standerd 5) agter haar naam! Dis nie aldag dat jy verlief raak op ’n werk wat jy nie veel van ’n keuse gehad het om te doen nie, maar dis presies wat met dié getroude ma van vier kinders gebeur het. Vir Rhoda, die jongste van nege kinders, is blomme-verkoop egter in haar bloed. Sy het die besigheid, wat vandag Africa Flowers heet, by haar ma, Darawiesah (76), oorgeneem wat dit op haar beurt by háár pa, oorgeneem het.

Rhoda, oorspronkl­ik van Grassy Park in Kaapstad, moes reeds vanaf 13 jarige ouderdom blomme verkoop, nadat haar pa haar weens apartheids­onluste in graad 7 uit die skool gehaal het. Sy het toe saam met haar broers en susters blomme aan winkels in plekke soos Stellenbos­ch, Somerset-Wes en die Paarl verkoop. Haar ma was ’n groothande­laar wat blomme aan die hawkers in die bekende Adderleyst­raat in die Kaapse middestad verskaf het.

“Dit was lekker jare,”vertel Rhoda met opgewonden­dheid.“Ek kan dit nou nog nie vergeet nie. As ek by ’n winkel ingeloop het, het die eienaars altyd gegroet.”Hoewel alles tydens daardie tyd langs kleurgrens­e geskei was, het hul kliënte nie kleur gesien nie. Hulle was empaties teenoor haar en haar broers en susters, vertel Rhoda.

Daar was egter baie uitdagings. Sy vertel hoe hulle soms die blomme skelmpies moes verkoop, want dit was nie maklik om ’n permit te kry nie.“Dit was nie ’n maklike werk nie. Jy moes hare op jou tande gehad het. Jy kon nie net vryelik rondloop nie.

Jy moes jou wegsteek as jy die munisipali­teitsbeamp­tes gesien het. As hulle loop, dan gaan jy aan.”

Rhoda kan nou daaroor lag, maar daardie tyd was dit glad nie ’n lagsaak nie. Die aantal blomme wat hulle verkoop het, het bepaal of hulle groot gesin iets te ete gaan hê.

Alles wat sy oor besigheid weet, het sy by haar ouers geleer. Sy sê liefdevol daar sal nooit weer ’n blomme-verkoper soos haar ma wees nie.“Daai oudheid is weg. As ’n kliënt blomme gekoop het, het sy altyd twee ekstra ingesit. ’n Mens kan dit nie vandag doen nie, want alles is duur.”

Behalwe haar ma se barmhartig­heid, is die belangrikh­eid van familie en samewerkin­g iets wat Rhoda se pa, Riedewaan, die gesin geleer het. Al die broers en susters is tot vandag nog by die besigheid betrokke.

die Besigheid wankel

Sowat 30 jaar gelede het hul gesin na Bloemfonte­in getrek omdat hulle potensiaal daar gesien het. Want ironies genoeg was daar nie baie blomme in Bloemfonte­in nie, al staan dit bekend as die“stad van rose”.

Dit was nie maklik vir die Africa-gesin nie, maar ná ’n tydjie het hul stalletjie begin floreer.“Dit het daai ou Kaapse feeling gehad waarvan die kliënte gehou het. Die Kaap was hierso,”sê Rhoda wat steeds in Bloemfonte­in woon en 15 jaar gelede die bestuur van die besigheid by haar ma oorgeneem het toe haar pa afsterf.

Só het die familie aangegaan tot 2009 toe besigheid skerp gedaal het. Die paaie was onder konstruksi­e ter voorbereid­ing van die 2010 Wêreldbeke­r-sokkertoer­nooi. Dit het die stalletjie ontoegankl­ik gemaak vir die familie se kliënte.“Dinge het baie swaar gegaan, maar sommige kliënte het steeds gekom en verder parkeer om blomme te koop sodat ons kos op die tafel kon sit. Dit was nie maklik nie, maar ons het dit net-net gemaak,”vertel Rhoda.

Die hartseer gevolg hiervan was dat die gesin die meeste van hul besittings verloor het, insluitend die voertuie waarmee hulle die blomme vervoer het. ’n Hartproble­em het boonop in 2011 veroorsaak dat Rhoda se ma baie siek word. Sy het onder meer ook met hoë bloeddruk en diabetes gesukkel.

Rhoda se verantwoor­delikhede om die gesin te onderhou het toe baie groter geword, want haar ma, die matriarg, het haar kragte verloor. Maar toe, in hierdie donker tyd, gebeur daar iets wat Rhoda beskryf as ’n“wonderwerk en ’n geskenk van God”.

Die toekoms blom

In 2011 het ’n man wat vir Shoprite werk, gereeld blomme by hul stalletjie gekoop. “Hy het gesien die blomme is elke dagmooi vars en ek het dit mooi gerangskik vir hulle.”Hy het haar toe gevra of sy nie blomme aan Shoprite en Checkers wil verskaf nie. Sy het begin deur blomme aan net drie winkels te verskaf. Deesdae is sy die verskaffer aan 20 Shoprite-en Checkers-winkels in die Vrystaat. Behalwe dít verskaf sy ook blomme aan 15 begrafniso­ndernemers elke naweek.

“Ek was baie opgewonde en het vir die Here dankie gesê. Dis ’n eer wat ek gekry het om vir die Shoprite-groep blomme te kan verskaf. Vandag lewe almal nou mooi. Ek kon my ma se mediese rekeninge betaal en die kinders is in goeie skole. Dis nou ’n empire, want ons het eers net aan begrafniso­ndernemers en die publiek verskaf, maar nou verskaf ons aan winkels,” vertel Rhoda dankbaar.

Rhoda kon dalk die besigheid oorgeneem het, maar sy sê“solank as wat my ma nog lewe, is sy die baas. Sy bly ons ma en sy bly die hoof van alles”.

Soos haar ma die besigheid aan haar oorgegee het, hoop sy om eendag dieselfde met haar kinders te doen. Suleigah (23), een van haar dogters, word reeds administra­tiewe werkies gegee sodat sy kan leer hoe die besigheid werk. En vir haar ma wys Suleigah weer hoe die tegnologie werk wat nie in haar begintyd van blomme-verkoop, beskikbaar was nie. Dit was lekker vir Rhoda om al daardie jare gelede blomme te verkoop, maar vandag is dit“baie beter” met die hulp van tegnologie.

Dit beteken egter nie sy werk nie meer hard nie. Inteendeel, sy werk sewe dae per week vanaf 05:00 elke oggend wanneer daar blomme uit die Kaap afgelewer word. Selfs terwyl sy op die foon is met Kuier vir die onderhoud, vra sy kort-kort om verskoning om opdragte vir haar werkers te gee. Die bedrywighe­id is hoorbaar in die agtergrond.“Ons is gewoond daaraan om vroeg op te staan en hard te werk. Dis al in ons al. Ek moet vir my ouers dankie sê.”

Al die sukses het duidelik nie na Rhoda se kop gegaan nie. Sy is ’n nederige vrou wat nie vergeet het waarvandaa­n sy kom nie en aan wie haar sukses te danke is nie.

Geloof is ook baie belangrik vir haar en haar familie en wanneer hulle nie werk nie, gaan hulle Saoedi-Arabië toe om vir God dankie te sê vir alles wat hulle het.

Hulle is gelukkig dat blomme al vir drie generasies kos op die tafel gesit het, sê Rhoda.“Ons is baie fortunate. Dis nie almal wat so fortunate is nie. Ek het nou nie die opvoeding gekry nie, maar wel ’n geskenk van my ouers gekry om die blomme te verkoop. My liefde is daarin en ek is bly.”

Rhoda is die perfekte voorbeeld van hoe harde werk en deursettin­gsvermoë jou omstandigh­ede kan verander en dat dit jou nie hoef onder te kry nie. Jy kan steeds blom.

 ??  ?? HOOFFOTO: Rhoda Africa spog met haar blomme. HEEL REGS VAN BO: Hier is sy en ’n werker by hul stalletjie in Bloemfonte­in. ’n Kliënt koop blomme by die stalletjie.
HOOFFOTO: Rhoda Africa spog met haar blomme. HEEL REGS VAN BO: Hier is sy en ’n werker by hul stalletjie in Bloemfonte­in. ’n Kliënt koop blomme by die stalletjie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa