Ontmoet nog ’n ambassadeur van Afrikaans.com
Met haar neus in die boeke, is Anzil op haar gelukkigste.
52
Die Noord-Kaap se mense is hartlike mense, omgee-mense wat mekaar met woord en daad bystaan. Iemand wat in hart en siel ’n Noord-Kapenaar is, is Anzil Kulsen. Gebore en getoë op Keimoes en nou ’n inwoner van Upington.
Anzil is die skrywer van jeugverhale en ’n ATKV-projekorganiseerder wat lees- en skryfbevordering in behoeftige gemeenskappe in die Noord-Kaap doen. Sy is ook ’n ambassadeur vir Afrikaans wat besonder lief is vir haar moedertaal, veral die kleurvolle Oranjerivier-Afrikaans.
Oor Afrikaans sê Anzil reguit:“Ek is Afrikaans. Ek dink en droom en jok in Afrikaans en is trots op my herkoms. Ek kan nie iets anders wees nie, al sou ek ook hoe hard probeer. Al wat ek kan doen, is om trots te wees op wie ek is en wat ek ken. En om ook saam te help veg vir die taal wat ek liefhet se plekkie in die son, maar ek glo ook daar is plek vir my Zoeloe-eweknie of spreker van enige ander taal.”
Anzil was van kleins af ’n regte boekwurm en sê baie aande het sy nie geweet wat op haar kosbord is nie, want sy was heeltemal te verdiep in haar boek. Daarby het sy ook ’n besonder ryk verbeelding gehad.
“Dikwels het my stories my in die moeilikheid by grootmense gebring. My ouma het altyd gemaan teen lieg en skinderstories, anders sien ek dalk nooit die hemelpoort nie. Gelukkig het ek ontdek ’n mens kan deur jou skryfwerk stories vertel en skinder en dís nie sonde nie!”lag sy.
Droom word waar
Sy is baie dankbaar dat sy uiteindelik by haar droom uitgekom het. Sy het in 2000 ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aangepak. Daarna het Anzil in 2014 haar BA-graad by Unisa voltooi en is tans besig met ’n honneursgraad in Afrikaans aan dieselfde universiteit. Haar eerste jeugverhaal, Zita, is in 2006 deur Lapa gepubliseer en hierna het Hart vol sand en Sorrie maak nie gesond
nie, verskyn. Vir haar is dit besonder lekker om deur die projek, wat sy met die hulp van die ATKV in minderbevoorregte gebiede bestuur, mense te help om toegang tot lekker stories te kry. Al is haar projek hoofsaaklik op volwassenes gemik, baat die kinders ook by boeke wat aan skole en biblioteke geskenk word deur borge soos Lapa, RSG en Biblionef.
Sy tree ook dikwels by skole op en haar boodskap is altyd baie sterk: Die lewe skuld jou niks nie.“Ek raai tieners aan om vanuit ’n oorwinnaarsposisie te kyk en die slagoffermentaliteit af te skud. Op hierdie manier wil ek hulle graag aanmoedig om uit te styg en hul volle potensiaal te bereik. Hierdie boodskap het my eie uitkyk op die lewe verander.”
moedertaalonderrig
Voor die geboorte van hul dogter 15 jaar gelede, moes Anzil en haar man, Heine, ’n besluit neem oor hul kinders se skoolonderrig. Dit het mode geraak om jou kinders in Engels te laat onderrig, al is die bewyse oorweldigend dat moedertaalonderrig voordelig is. Anzil sê ten spyte daarvan dat ander mense van mening was dat Engels ’n kind ’n groot voorsprong in die lewe bied, het hulle besluit om Chaneyka (15) en haar broer, Keenan (12), na Afrikaanse skole te stuur. Vandag is hulle dankbaar oor hierdie besluit, want nie net funksioneer die twee goed in hul moedertaal nie, maar hulle kan ook maklik basiese terme en begrippe in ander tale aanleer.
“Moedertaalonderrig lê my besonder na aan die hart, maar ongelukkig is mense nie heeltemal ingelig om die regte besluit hieroor te neem nie. Daar is ’n stigma wat aan Afrikaans en die ander Afrika-tale kleef wat beweer hierdie tale is minderwaardig teenoor Engels en dit bied minder studiegeleenthede as Engels. Ouers neem dan emosionele besluite oor hul kinders se opvoedingstaal.”
Tussen haar eie skryfwerk, haar gemeenskapsprojek en haar gesin, is daar nie baie tyd vir ander dinge doen nie. Anzil hou daarvan om in die tuin te grawe en om saam met haar mense te gaan kamp. Dit bly ook vir haar fantasties om met haar neus in ’n boek te sit.
Oor haar vyfjaarplan, sê sy:“Ek hoop ek het genoeg gesondheid, durf en krag vir nog ’n boek of drie. Dan sal ek ook graag my meestersgraad wil voltooi en sien hoe my twee kinders gebalanseerd en oopkop hul volwasse lewe instap. Wat my veral gelukkig sal maak, is as iemand uit my omgewing, danksy my insette, ’n boek kan publiseer. Sjoe . . . wat meer kan ek vra?” Om meer oor Anzil te lees, besoek www.afrikaans.com/deel/ambassadeurs/ anzil-kulsen:-die-noord-kaap-en-symense-is-in-haar-bloed