Daar is hulp vir jou en jou outistiese kind
As ouer, is dit moeilik om te aanvaar dat jou kind outisties is, maar daar is hulp en onthou jy is nie alleen nie.
verbeel jou die stofsuier se gesuis klink soos die geskreeu van ’n duisend mense. Die ligte lyk soos honderde verskietende sterre wat op jou afpyl. Die spanning laat jou hart vinniger klop en jy druk jou ore toe sodat jy net ’n bietjie kan konsentreer. Jy wieg heen en weer en heen en weer om jou binneste te kalmeer . . .
Nou het jy dalk ’n idee hoe ’n paar alledaagse goed vir ’n kind met outisme voel en hoekom hulle dikwels die wêreld as heeltemal oorweldigend ervaar. Vir hulle voel die lewe amper soos ’n fliek wat voor hul oë afspeel. Hulle wil graag deelneem, maar dit bly net buite bereik.
En só is daar ook ’n stille stryd wat ouers met outistiese kinders daagliks stry. Soms is dit om sin te maak en te probeer cope met hul kind se toestand. Ander kere word jou angs veroorsaak deur ander mense se skewe kyke wanneer jou kind ’n afdag het.
Vicky Lamb, nasionale opleidingsfasiliteerder van Autism South Africa, verduidelik outisme as ’n neuro-ontwikkelingsversteuring wat die groei en struktuur van die brein beïnvloed. Outisme is ’n spektrumversteuring, wat beteken daar is verskillende vlakke. Hoewel daar baie teorieë is, is niemand regtig seker wat dit veroorsaak nie.
Altwee Denise Ajam (43) se kinders is op die outisme-spektrum. Haar seun (13) is outisties en haar dogter (16) het Asperger se sindroom (vorm van outisme). Toe haar seun op drie nog nie kon praat nie, het sy begin bekommerd raak.“Die moeilikste ding was om die diagnose te aanvaar,”vertel Denise van Kaapstad.“Daar is steeds dae wat dit moeilik is. Maar met aanvaarding kom nuwe denke. Wanneer jy jou kind aanvaar vir wie en wat hy is, kan julle saam begin aanbeweeg.”
Sy sê dis belangrik dat jy die klein dingetjies in jou kind se lewe saam met hom vier.“My seun kon eers op 7 iets uit ’n bottel in ’n glas gooi, maar hy het nie geweet wanneer dit vol was nie. Nou op 13, is hy so oulik en kan uiteindelik vir homself koeldrank ingooi sonder om te mors. Dís achievements in ons wêreld.
“Hy gaan deur fases. Hy los een ding en dan raak hy weer obsessief met iets anders. Hy het byvoorbeeld vir ’n hele ruk, as hy gefrustreerd geraak het, sy kop teen die hardste ding wat hy kon kry, gekap,” vertel sy.
As ouer voel jy altyd verantwoordelik vir hulle slegte gedrag, voeg sy by. Denise meen“hy moet steeds goeie maniere en respek hê. Hy kry steeds raas. Die wyse waarop jy hierdie dinge leer, verg net baie verbeelding en kreatiwiteit.”
Hoe ervaar haar kinders die wêreld?“Dít sal ek like om te weet!”sê Denise. Sy wens sy kan partykeer net sien wat hulle sien, net ’n bietjie beter verstaan hoe hulle dink, sê sy hoopvol.
Vir Denise is dit haar grootste struggle met haar seun dat sy nie altyd weet wat hy wil hê nie, dat sy moet raai wat verkeerd is. Hy het nog nooit vir haar gesê hy is lief vir haar nie. Hy sal ook nie uit sy eie uit vir haar ’n drukkie gee nie. Sy moet vir hom sê en dan sal hy dit dalk herhaal.
En dis moeilik om te oorleef in ’n wêreld wat nie altyd sin maak nie.“Ek vat elke dag soos dit kom. Ek hanteer my kinders soos enige neuro-tipiese kind, maar ek maak sekere toegewings.”
Wat kan jy doen?
Daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om jou outistiese kind en gesin se lewens ’n bietjie makliker te maak.
Fokus op die klein dinge
Daar is klein, maar belangrike dinge waarmee jy kan help. Probeer jou kind leer om self te was, toilet toe te gaan en aan te trek – alledaagse take wat hulle meer onafhanklik sal maak. Volgens Vicky is konsekwentheid en roetine baie belangrik. Skep visuele skedules sodat jou kind kan sien wat gebeur. Gebruik voorwerpe, foto’s, prentjies, simbole of woorde om aktiwiteite uit te beeld.
Kennis is krag
Die internet is propvol gratis inligting, wenke en ondersteuning. Vicky waarsku, jy moenie alles voor die voet te glo nie en versigtig wees vir sogenaamde kure of eksperimentele behandeling.
Vind ’n manier om te kommunikeer
As jou kind nie-verbaal is, moet jy probeer uitwerk hoe hy kommunikeer. Teken prentjies, wys foto’s en maak video clips. Die meeste outistiese kinders kommunikeer deur hulle oë, nie hulle ore nie. Sodra jou kind ’n manier kan kry om te kommunikeer, sal dit baie van hulle frustrasies en
gedragsprobleme verlig.
Dissipline en outisme
Outistiese kinders gooi nie sommer tantrums om net stout te wees nie. Daar is gewoonlik ’n dieper oorsaak soos oorstimulasie of verandering in roetine. Dis nie maklik om hierdie gedrag te hanteer nie, maar wat verseker nie werk nie, is fisiese dissipline soos ’n pak slae of om te skree nie. Probeer kalm bly en praat stadig. Verwyder jou kind uit die omgewing – soms is dit so eenvoudig soos om sonbrille of oorpluisies te gebruik om die oorstimulasie te stop. Probeer hul aandag aflei met ’n kalmerende aktiwiteit, soos borrels blaas. Só kry jy jou kind om diep asem te haal en te ontspan.
Leer speel-speel
Spandeer tyd saam. Al wat jy hoef te doen, is om saam met jou kind op die mat te speel. Volg jou kind se voorbeeld en geniet dit.
Eksperimenteer met die gebruik van prente in alledaagse take. Byvoorbeeld, teken ’n prentjie van tandepasta en ’n TV remote. As jy jou tande mooi borsel, kan jy bietjie TV kyk. Of, as jy jou baadjie aantrek, kan jy buite gaan speel. Só leer jou kind hoe om op die manier te kommunikeer, asook dat goeie gedrag tot belonings lei.
’n Ander lekker leerspeletjie, is om jou eie legkaarte te maak. Neem eenvoudig ’n oulike prentjie van iets waarvan jou kind hou, plak dit op harde karton en sny in drie of vier dele.
Jou kind se beste vriend
Die Suid-Afrikaanse Gidshond Vereniging lei honde op vir outistiese kinders. Daar is talle voordele, onder andere geselskap vir kinders wat maklik eensaam word, dit help met taktiele issues en verbeter selfvertroue. Kinders tussen 5 en 12 is geskik, indien hulle gesin bereid is om vir die honde te sorg (kos, veeartskostes, ontwurming, jaarlikse inentings, ensovoorts). Ouers en kinders sal opleiding ontvang. Kontak Lynn by 011 705 3512 of e-pos lynnc@ guidedog.org.za vir meer inligting.
Jy is wat jy eet
Sekere navorsing toon daar is kossoorte wat ’n negatiewe invloed het op kinders se gedrag. Dit word bepaal deur die Baseline Diet – ’n kort (vier tot ses weke) periode waar jy alle moontlike negatiewe kossoorte uit die dieet verwyder en een vir een (elke vyf tot sewe dae) weer inbring. Hou dagboek van kosse en gedrag. Só kan jy bepaal watter kos ’n negatiewe impak op jou kind se gedrag het.
Wat kan jou kind eet? Alle vleis (solank dit nie verwerk is nie) rys, aartappels, vrugte en groente, olyf- of avokado-olie, seesout en kruie is aanvaarbaar.
Beëindig die kosgeveg
Maak eet ’n pret aktiwiteit. Laat jou kind help om die kos voor te berei deur eenvoudige instruksies. Jy kan koekie-uitdrukkers gebruik om byvoorbeeld dinosourusse treine te maak. Maak gesiggies met rosyntjies, komkommer en tamatie, of ’n woud met slaaiblare en brokkoli. Laat jou kind sy eie sosaties met vrugte en kaas maak.
Kry ondersteuning
Daar is behulpsame nie-regeringsorganisasies soos Autism SA (hulle het landwyd takke en bied gratis programme aan), die Ernie Els Centre en talle Facebook-groepe soos Ask me I’m autistic, Focus group for Autism in SA en Moms of extra special kids SA. Aanlyngroepe bied fantastiese raad en ondersteuning.