Kuier

Vrou veg vir voort- bestaan van Nama-taal

Vir sommige mense is Nama ’n langverget­e taal, maar dié vrou veg hand en tand vir haar moedertaal se welverdien­de erkenning in die samelewing.

- DEUR brenden ruiter

Soos ’n eensame suidoostew­ind aan die Kaapse kus het Dorothea Davids (55) vir jare alleen die stryd gestry om die Nama-taal aan die lewe te hou. Sy het te midde van politieke onwillighe­id en ontkenning altyd bly glo dat Nama verdien om gehoor en te gepraat te word. Nooit het sy gedink dat hierdie taal van haar voorvaders eendag op die silwerdoek gaan skitter nie. Dorothea was die taalkonsul­tant vir die onlangse fliek Krotoa, wat gaan oor die “moeder”van die inheemse volke, Krotoa. Die fliek vertel die tragiese verhaal van hoe Krotoa van gewone inheemse meisie gevorder het tot in die binnehof van Jan van Riebeeck en weer tot uitgeworpe­ne. Hoe sy as tolk tussen die Khoi en die Nederlande­rs opgetree het, met ’n wit man getrou, kinders gebaar, deur haar eie mense verwerp is en uiteindeli­k as alkoholis tot sterwe gekom het. En waar die fliek ook al wys, van New York tot Kaapstad, klink die klieks van die Nama-taal, een van die laaste variante van die Khoekhoe-tale, op. Dié taal word nog net in dele van Namibië en sporadies in ander dele van SuiderAfri­ka gepraat, maar as dit van Dorothea afhang, sal dit nog meer inslag vind in

die res van Suid-Afrika.“Die regering moet die taal erkenning gee en die taal moet in die skole ingebring word. Dit is een van die oudste tale in Suider-Afrika en ook in die Kaap-kolonie en moet lewendig gemaak word en dit is die taal van ons Khoesanvoo­rouers, ”sê Dorothea, wat in Karasburg in die suide van Namibië gebore is en op Keetmansho­op grootgewor­d het.

Sy wy haar lewe aan die beskerming en uitbouing van die Nama-taal.“Ek is ’n taalaktivi­s en doen bemarking vir my taal. Enigiemand wat belangstel om die taal te leer, kan net by my aanklop en ek sal hom of haar leer, dis hoe die taal gaan voortbesta­an. Elke nou en dan lewer ek motivering­spraatjies by skole en waar mense ook wil hê ek moet Nama praat. Ek praat ook met die leiers oor hoe hulle die taal lewend kan hou. Nama-taal is my moedertaal en ek voel baie sterk daaroor. Wanneer iets eie is aan jou is jy besitlik en beskermend oor dit,”sê Dorothea.

Om aan Krotoa te werk, het onverwags op Dorothea se pad gekom, maar dit was vir haar ’n wonderlike geleenthei­d en platform vanwaar sy haar geveg om die behoud van die taal kon voortsit.

“’n Ou met die naam van Bradley van Sitters het die vervaardig­er, Roberta Durrant, van my vertel en sy het my gekontak. Aanvanklik moes ek eers die klapklanke op ’n geheuestok­kie vaslê en die uitspraak van die alfabet behandel. Later moes ek self met akteurs werk. Dit was harde werk, maar ’n wonderlike ervaring om mense wat glad nie die taal ken nie, te leer. Dié het dit nie maklik gehad nie. Somtyds het dit gevoel ons kan dit vir ’n tyd los, maar deursettin­gsvermoë het ’n groot rol gespeel. Ons het ook lekker pret gehad en sommige dae moes ek my lag bedwing oor die snaakse uitspraak.”

Sy sê die fliek het haar nuwe durf gegee om te veg vir die taal.“’n Gevoel van oorlewing het in my ontstaan. Ek het besef dat ek moet deurdruk en aanhou waarmee ek besig is. Dit maak my ook trots dat die taal op die groot skerm en selfs op ander vastelande gehoor kan word.”

Volgens Dorothea kan en moet daar baie meer gedoen word om die taal te beskerm.“In Namibië word die taal baie goed beskerm en ek dink die Suid-Afrikaners kan daar gaan kersopstee­k. Dit kan nogal ’n moeilike taal wees om aan te leer, maar as mens dit eers ken, is dit ’n wonderlike taal. Ek is bereid om te help waar mense hulp benodig.”

polimiek oor die fliek

Intussen het die fliek groot debat ontlok. Aan die een kant voel sommige die storie van die geskiedkun­dige figuur Krotoa moes nie deur wit mense vertel gewees het nie (m.a.w. wit mense moes nie die fliek gemaak het nie). Ander meen ook daar word te sagkens met die wit setlaars in die fliek omgegaan.

Die joernalis Heindrich Wyngaard skryf byvoorbeel­d:“Goewerneur Jan van Riebeeck van die VOC was ’n goeie mijnheer; en die Khoi-Khoi-vrou Krotoa, sý was ’n slegte meid. Ons weet dit nou, danksy die fliek Krotoa.”

Hy skryf ook oor die taalgebrui­k in die fliek: “Die voertaal is Afrikaans, sowel vir die Hollandse as die inheemse karakters, gemeng met Nama tussen-in, en met tye ook Hollands en Frans; alles, deurentyd, met Engelse byskrifte. En dan dié Afrikaapse glipsie: ’gehet’(vir ’gehad’), wat jou laat wonder of dit enigsins ’n oorweging was om die Hollanders (vir egtheid) in Neder- lands te laat praat en (vir sterker simboliese waarde) die Khoi in Afrikaaps?”

Dorothea sê die polemiek pla haar glad nie.“Ek gee regtig nie om oor die politiek nie. Vir my gaan dit oor die bewaring, bemarking en oorlewing van my taal. Hierdie is ’n wonderlike platform en van hier af kan dit net beter gaan. Die ander mense moet maar stry, ek gaan werk om die taal tot sy reg te laat kom.”

Om aan ’n fliek met internasio­nale aansien te werk, het ook ander lekker perks, sê Dorothea. Sy kon die rooitapyt met van die bekendste akteurs in die land deel.“Die rooitapyt-oomblik was vir my wow! Dit was amazing en hartroeren­d. Ek het gedink,‘haai, Dorothy is dit jy?’toe ek daar staan. Maar ek het toe gedink aan die Bybelvers Filipense 4 vers 13.”

Sy wil ’n beroep doen dat die stories vertel word.“Ons moet die stories eerlik en direk vertel sonder om doekies om te draai. Dit moet nie net ’n geldmaakst­orie wees nie, maar ons moet saamwerk aan die nalatenska­p van generasies wat kom.”

Ten slotte wil Dorothea die volgende boodskap los:“Ne gowab genî ûi hâ hâ” (Die taal sal sy sprekers oorleef ).

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa