Wenke wat werk
Hier is raad vir potte wat oorkook, hoe om jou hare uiteindelik sterk te kry, urine-reuk uit die toilet te kry en wenke met sodawater.
As jy ’n houtlepel op ’n pot met kokende water sit, sal dit nie oorkook nie. INA PRINSLOO, PRETORIA
Jou leerskoene, -handsak of -baadjie sal langer mooi bly as jy dit gereeld met Vaseline polish. MARCELLE WILLEMSE, ROBERTSON
Asyn kan die natuurlike glans van jou hare na vore bring. Meng een koppie asyn en twee koppies water. Wend aan jou hare nadat dit gewas is en hou aan vir 5 minute voor jy dit afspoel. Gebruik wit asyn indien jy blond is en ’n balsamiek-asyn indien jou hare swart of bruin is. Rooikoppe moet asyn gebruik wat gemaak is van framboos. FREDELINE CAROLUS, WORCESTER
Ek is mal oor aloe vera. Dit werk selfs lekker om droë en gebreekte hare te fix. Vryf aloe vera gel in jou hare in en los so vir 30 minute. Was soos gewoonlik. Jy kan dit meng met suurlemoensap, twee teelepels kasterolie en olyfolie vir nog beter resultate. Ek doen dit twee of drie keer ’n week. MARTHA DU PREEZ, KLERKSDORP
All-purpose cleaner: Meng Sunlight-opwasmiddel, baba-olie en spirits. Verdun met ’n bietjie water. Dit laat jou vensters en spieëls blink! Dit werk 100%. CHANTELLE DAVIDS, BREDASDORP
Ek hou in elke vertrek ’n buis wasgoedversagmiddel. Die vertrek ruik dan altyd lekker. LINDA VERCUIEL, PAROW
Smeer Vaseline rondom die hond se bak se rand. Dit sal die miere afskrik. KRISELDA CUPIDO, STELLENBOSCH Wanneer jy jou toilet skoon geborsel het, spoel die borsel goed en skud orige water af. Vou paar velletjies toiletpapier en sit onder in houer van borsel. Die water wat nog afdrup op papier sal vinnig droog word in stede wat die borsel net so in die houer geplaas word. Dit bly droog en staan nie in water tot die volgende keer se gebruik nie. Gebruik elke keer skoon papier. INA PRINSLOO, PRETORIA
Ek gebruik elke nou en dan ’n eiermasker op my hare. Klits een eiergeel en meng met twee of drie eetlepels olyfolie en een eetlepel heuning. Vryf dit in jou hare in en los vir halfuur. Was af. Dit werk kwaai! LIBBY LE GRANGE, WELLINGTON
Smeer ’n klein bietjie Vaseline aan die rand van jou gom of nail polish bottel om te keer dat die doppie vassit. LEA DANIELS, UITENHAGE
As jy jou huis verf, smeer Vaseline aan al die metaalvoorwerpe soos ligskakelaars en deurhandvatsels. Dit sal verhoed dat die verf daarop vassit. HENDRINA PRINCE, BARRYDALE
Vir urine-reuk, gooi swart peper agter jou toilet. Jy kan ook koejawelskille in die vensterbank sit. CHANTELLE DAVIDS, BREDASDORP
Gooi ’n teelepel water by as jy maalvleis braai. Dit sal help om die olie weg van die vleis te trek. INA PRINSLOO, PRETORIA