WAT DIE HART VAN VOL IS
Ons almal wil soms iets moois koop en sexy lyk, maar dis soms moeilik vir die molliges onder ons om die regte klere te kry.
Ek gaan kuier by familie in Gauteng. Ons besoek een van die inkopiesentrums in Boksburg. Terwyl ons by ’n koffiewinkel sit en smul aan muffins en ’n geurige filterkoffie, sien ek ’n winkel wat wyd adverteer dat hul nagklere en onderklere afgemerk is. Dit lyk amper soos ’n Kersfees-uitverkoping met al die rooi en groen pryswolke wat Less 40% skree.
Ek sê vir die familie ek moet dadelik in daardie winkel kom, hulle kan volg of my elders kry oor ’n uur.
Ook maar goed hulle is na ’n ander winkel toe terwyl ek na die eerlike winkel gaan. Daar waar die spieëls nie doekies omdraai nie . . .
Ek betree die winkel se lingerie-afdeling. Daar is van die heel mooiste, fleurigste en flambojantste lingerie bo- en onderstukkies en uitrustings. In alle kleure boonop! Ook in groter nommers nogal. Vinnig is ek by die mooi, wulpse nagkleertjies en voor jy “vetrol”kan sê, is daar drie verleidelikhede oor my arm gegooi.
In die aantrekhokkie haal ek eerste ’n pienk-pers nagrokkie af. Die rokkie is van chiffon en het sulke waaghalsige slits met die allermooiste kantrosies aan die bokant van elke slit. Die bostukkie het ook net-net genoeg kant en borduurwerk om iets aan die verbeelding oor te laat. Hoe ek in hierdie pragnommer voel en hoe ek werklik daarna uitsien, is twee verskillende dinge.
Ek lyk soos Babe, nie ’n babe nie. Babe, die varkie, soos in die fliek Babe, oink-oink!
Dit is ook net toe ek die pienk-pers affêre uitgeworstel het wat ek Carike Keuzenkamp saam met Rina Hugo hoor sing“tel al daardie plooie, ses-agt-tien, maak net baie seker dat niemand jou sien”. My brein verwerk dit na “tel al daardie rolle, drievier-vyf, steek liewer weg daai lyf”. Ek betrek die tweede nagrokkie. Dit het moutjies en is gemaak van ’n wit satyn met baie romantiese lintjies, kantjies, rosies en fyn valletjies. Ek bekyk myself van voor af. Die spieël is in killer-mode. My moed sak in my skoene. Die eerste indrukke van die beeld in die spieël kom by my op: ’n gebleikte moordwalvis wat bene gegroei het. Ek begin hallusineer en sien die Pillsbury dough boy in die spieël! My boarms bult soos brode onder die moue uit. My bo-bene lyk skielik soos wit meelsakke en van agter lyk dit soos die saalsakke van ’n afgetrede polisieperd! My ore suis en ek is seker ek sien ’n visioen waar ek saam met ander vetties in die Grootverdriet-koor sing. Asof ek nie my les geleer het nie, pas ek sowaar die derde monster op die hanger aan. Dit is ’n rooi-en-swart gevaarte met satyn en ryk borduursels oral op die strategiese plekke. Ek sukkel met die aanpas en verloor my balans so effens toe ek my bene deur die openinge steek. Iewers voel dit asof iets in pyn verkeer; my borste is vasgeklem in die kake van die dubbele té nou bandjies. Nadat ek weer orent gekom het en my lam gesukkel het met die nagrok-kontrêpsie, koggel die spieël weer van voor af. Die nagkabaai beklemtoon my spatare op my bene. Dit laat my dink aan iets wat ek in een van Riana Scheepers se boeke gelees het oor spatare. Dis glo die wiring na jou hotplate. Ek lyk te potsierlik met my lyfie in die swart nagrokkie.
Daar is niks so eerlik soos kinders en die groot, eerlike spieëls van ’n aanpaskamer in ’n klerewinkel nie. Beligting binne-in hierdie pashokkies is verdomp kop in een mus met die spieëls!
Dit was die grootste nommers op die rak. Het fabrieke grense waarvolgens hulle deesdae klere maak? Waar kry ander voller figuur vroue dan hul swemdrag, vormdrag of klere? Ek dink aan die spaghetti-lyfie buitekant die winkel wat nie kan wag om jou met haar pen en aansoekvorm oor te haal om ’n rekening te open nie. Sy het net vergeet om te sê:“Kom maak ’n rekening oop, maar moet net nie dik wees nie!”
My klere het ek vinnig aangetrek en my denke verkeer in topversnelling. Ek gee nie ’n siertjie om nie, dié lyf is myne. ’n Lyf met damwalle, uitgeryste rolle of te not!
Dit is wie jy is en wat jy van jouself gee vir ander wat jou geliefd maak. Nie hoe jy lyk en watter nommer rok jy dra nie. Die grootte van jou hart en menswees tel veel meer. Viva alle molliges!