Paradys aan die Kaapse Weskus
Rus en vrede wag vir jou aan die Weskus. Kies en keur tussen verblyfopsies wat jou terug sal laat kom vir nog.
Die Weskus Nasionale Park net buitekant Langebaan in die WesKaap, is die perfekte plek om te kom ontspan. Kom geniet die stilte van die natuur, waar elke aand ’n onvergeetlike sonsondergang bied oor die Langebaan Lagoon en Atlantiese oseaan.
In die 32 000 hektaar skilderagtige park, is daar ’n verskeidenheid van wilde diere wat jy vanuit jou eie voertuig kan aanskou. Kilometers van inheemse plante, wit sandduine en turkooisblou water omring die kuslyn van hierdie stukkie paradys. AKKOMODASIE Die gerieflike en bekostigbare akkommodasie is in verskillende dele van die park geleë. Elke huis is privaat en afgesonder, met geen onmiddellike bure naby nie. Toegang tot die park word streng gemonitor en niemand mag tussen 18:00 en 07:00 die park verlaat of ingaan nie. Geen troeteldiere, harde musiek of kragopwekkers word in die Weskus Nasionale Park toegelaat nie. Abrahamskraal-kothuis Dié afgesonderde kothuis langs die watergat het twee slaapkamers met hul eie aparte badkamers. Daar is ’n kaggel binne en ’n groot stoep met braaigeriewe. Die yskas, geiser en stoof in die volledig-toegeruste kombuis werk met gas, en sonkrag sorg dat daar lig in die huis is. Daar is nie kragpunte vir elektriese toerusting nie. Die kothuis is rolstoel-vriendelik.
Van Breda-kothuis
Dié plaashuis is onlangs opgeknap en is ’n klipgooi van die Geelbek-restaurant waar gewilde Suid-Afrikaanse kos bedien word. Die kothuis het ’n groot stoep waar jy kan kuier, drie slaapkamers, ’n oopplankombuis en eetkamer. Daar is kragpunte in die huis, maar geen televisies nie.
Steytler-kothuis
Hierdie selfsorgeenheid is een van die kleiner en meer intieme verblyfopsies in die park en het slaapplek vir twee mense. Dit is perfek vir ’n romantiese wegbreek.
Geelbekstal
Die Geelbekstal word gebruik om skole en groot groepe te akkommodeer. Dit het slaapplek vir 62 mense. Daar is badkamers met warm en koue water, sowel as ’n kombuis met ’n yskas, stoof, mikrogolf en vrieskas. Groepe moet hul eie borde, potte en eetgerei, asook beddegoed saambring. Daar is ’n buitebraai, maar jy moet jou eie hout verskaf.
Jo Anne’s Beach-kothuis
Dit is ’n eksklusiewe eenheid binne stapafstand van die lagoon af. Hier is drie slaapkamers, ’n oopplan-leefarea en kombuis sowel as ’n buitebraai. Elke slaapkamer het ’n badkamer met ’n toilet en stort.
Jo Anne’s B-kothuis
Hier is ’n groot leefarea, volledigtoegeruste kombuis en ’n groot stoep vir onthaal. Die huis kan vier gaste akkommodeer.
Duinepos-chalets
Daar is 11 selfsorgeenhede langs die see met slaapplek vir vier tot ses mense. Twee van die huise is rolstoel-vriendelik. Elke eenheid het twee slaapkamers, ’n oopplankombuis en leefarea met ’n kaggel. Daar is ook ’n gesamentlike swembad met ’n buitebraai.
Kraalbaai-boothuise
Die boothuise is ’n unieke ervaring. Gaste kan van hul dek tot in die lagoon spring vir ’n middagswemsessie of aan verskeie watersportsoorte deelneem.
Die Nirvana-boothuis is ’n dubbelverdieping met bo- en onderdek. Dit het luukse geriewe en is ideaal vir korporatiewe groepe, gesinsvakansies en spesiale ge-
leenthede. Dié boothuis kan tot 24 mense akkommodeer. Die onderdek het ’n ruim sitkamer met ’n kaggel en klankstelsel. Die dek loop uit op die groot windbeskutte voorkant met tafels en stoele waar jy die uitsig kan geniet. Die moderne kombuis is toegerus met ’n groot gasstoof, oond en yskas. Al wat jy hoef te bring, is kos! Die vyf ruim slaapkamers het elkeen ’n koningsgrootte bed, die sesde slaapkamer twee gemaklike slaapbanke (vir 4 mense) en daar is drie volle badkamers. Daar is ook braaigeriewe. Die boonste dek het ’n sitkamer met ’n kroegarea en twee slaapbanke, drie slaapkamers en volle badkamer.
Die Larus-boothuis akkommodeer ses mense in drie kajuite. Die hoofkajuit het ’n koningin-grootte bed, die tweede kajuit het ’n gemaklike slaapbank vir twee mense en die derde kajuit het matrasse wat verwyder kan word. Daar is ’n oopplankombuis en eetarea met braaigeriewe.
SOVEEL OM TE SIEN!
Die Weskus Nasionale Park is die tuiste van meer as 250 verskillende voëlspesies. Daar is vier voëlskuilings waar jy in die stilte van die natuur die voëls kan dophou.
Besoekers kan uit hul motors die groot verskeidenheid diere in die park aanskou. Daar is onder meer flaminke, volstruise, slange, koedoes, elande, skilpaaie, sebras, gemsbokke en steenbokke.
Daar is talle stap- en fietsroetes vir diegene wat aktief wil bly en terselfdertyd die diere wil dophou.
As jy lief is vir plante en blomme kan jy van nader kennis maak met ’n groot verskeidenheid fynbos en blomme. Tussen Augustus en September kan jy jou verkyk aan die park se Postberg-seksie blomme, wat die omgewing soos ’n prentjie laat lyk.
VIR DAGBESOEKERS
Vir mense wat net vir die dag wil kom, is daar piekniek- en braai-areas in die park. Daar is ook paddle boarding, roei-kajakke en ander watersport by die Kraalbaaigedeelte van die lagoon beskikbaar.