INSPIRASIE:
Sy was haar kind se enigste hoop anders sou hy binne ure sterf. Toe maak sy die maklikste besluit ooit . . . DEUR Marteli Brewis
Ma van Boksburg red seun met stukkie van haar lewer
Die meeste ma’s sal enigiets doen vir hul kinders en vyf jaar gelede moes Kay Pietersen (30), ’n call centeroperateur van Boksburg in Gauteng, letterlik kies tussen lewe en dood. Haar lewe of haar kind s’n? Of hul albei s’n.
Maar vir dié toegewyde ma was daar nie veel om oor na te dink nie. Sy het reeds een keer vir haar seun, Kayvin du Preez (10), die geskenk van lewe gegee toe sy geboorte aan hom skenk. En toe hy ’n lewertoestand ontwikkel en net ’n oorplanting sy lewe kon red, het sy nie twee keer gedink om ’n stukkie van háár lewer vir hom te skenk nie. Daarsonder sou hy dalk gesterf het.
Deesdae is Kayvin ’n doodnormale, gesonde seun. Hy gaan skool toe, hou van fietsry, om saam met sy maats te speel, en is nuuskierig oor die lewe.
Maar ’n paar jaar gelede was sy lewe in die weegskaal en net ’n wonderwerk sou hom kon red.
In 2013, toe Kayvin vyf was, het iets gebeur wat hul gesin se lewens amper uitmekaar geskeur het. Vir ’n rukkie lank was hy nie homself nie, maar dit was eers toe Kay agterkom dat sy pee bruin is, dat sy begin bekommerd raak het. Sy het haar ma, ’n verpleegster, vir raad gevra.
Dié het gesê hulle moet hom onmiddellik hospitaal toe jaag. Daar aangekom het die hospitaal hom dadelik opgeneem en ’n hele reeks toetse gedoen. Hulle het agtergekom sy lewer sukkel om te funksioneer, maar hulle kon nie die oorsaak vind nie. Ná ’n paar dae het hulle hom ontslaan, maar ná ’n week tuis kon Kay sien haar seun is steeds nie homself nie. Hy was nie spelerig nie en sy pee was steeds bruin.
“Jy as ma ken mos jou kind,”meen sy. Sy en Kayvin se pa, Vivian du Preez (33), het besluit om hom weer hospitaal toe te neem.
Uiteindelik is Kayvin gediagnoseer met Hepatitis A. Hy het vinnig verswak. Sy oë en vel was goudgeel en hy het alles wat hy ingeneem het, opgegooi. Sy voete en sy maag het ook begin opswel. In daardie stadium het sy lewer heeltemal ophou werk.
Hy moes deur ’n buis gevoer word en ’n kateter was vir hom ingesit.
“Hy is baie erg oor vetkoek, roti en breyani en dis al wat hy wou gehad het, maar ek kon dit nie vir hom gee nie, want hy was te siek,”vertel Kay.
Skadu van homself
Haar seun, wat so vol lewenslus en vreugde was, was net ’n skaduwee van sy ou self.
Kayvin het ook begin deurmekaar word en moes in ’n cot in die Donald Gordon Medical Centre se intensiewe sorgeenheid (ICU) slaap, want hy wou net uitklim en huis toe gaan. Daar was ’n gevaar dat hy sou val en homself seermaak. Kay vertel ouers word gewoonlik nie toegelaat om in ICU by hul kinders te slaap nie, maar Kayvin was so deurmekaar en ontsteld, dat hulle vir Kay laat roep het om by hom te bly en te kalmeer.“Dan hang jy maar so oor die relings (van die cot) om hom vas te hou, hom te probeer troos,”onthou sy.
Maar Kay het nooit besef hoe siek haar kind werklik was nie. Sy het heeltyd vas geglo hy gaan beter word. Sy het werk toe gegaan om verlof te gaan insit sodat sy hom kon versorg. Skaars daar aangekom, het haar foon gelui. Dis ’n oproep wat sy nooit sal vergeet nie. Dit was die koördineerder van orgaanoorplanting van die hospitaal.“Sy het vir my gevra om so gou moontlik hospitaal toe te kom. Die dokters wou met ons praat,”vertel Kay.
By die hospitaal het die dokters nie goeie nuus gehad nie. Hulle het gevoel Kayvin se kanse op herstel was skraal – hulle het hom 48 uur vir oorlewing gegee – en dat die enigste ding wat dalk kon werk, ’n leweroorplanting was, so gou moontlik. Hul woorde was soos ’n hou in die maag vir Kay. ’n Gevoel van magteloosheid het haar oorrompel. Sy was in die kloue van enige ma se grootste nagmerrie vasgevang. Al wat sy kon doen, was om te bid dat hy lank genoeg sou lewe vir ’n nuwe lewer.
Die dokter het aan hulle verduidelik dat lewers skaars is en Kayvin nie tyd het om te wag nie. Hul beste opsie was om vir Kay en Vivian te toets om te kyk of hulle dalk ’n match is vir Kayvin. Beide van hulle is onmiddellik getoets en Kay was die perfekte match. Daar was egter ’n groot “maar”en dit is dat daar baie risiko’s aan die operasie verbonde is en kanse op sukses en oorlewing was maar net 50% vir beide Kayvin en Kay. Daar was nie tyd om twee keer te dink nie. Hulle was desperaat en moes dadelik ’n besluit neem.“My kind het net ure oorgehad om te lewe. Ek moes die kans vat. Ek sou enigiets doen om my kind se lewe te red,”vertel sy.
Sy en Vivian het daardie aand in die hospitaal spandeer.“Ons het meeste van die aand net gebid,”onthou sy.“Ons het vir God voorgehou en vertrou die dokters weet wat om te doen, dat niks verkeerd sal gaan nie,”vertel sy.
Op 27 September 2013 het Kayvin vir die tweede keer in sy kort lewe die geskenk van lewe by sy ma ontvang – ’n klein stukkie van haar lewer.
Toe Kay wakker skrik ná die operasie, was haar eerste gedagte“Dankie, Here, ek lewe nog en my seun is oukei!”Die dokters het bevestig alles het goed afgeloop.
glimlag nÁ lyding
Om haar seun in sy hospitaalbed te sien lag, net dae nadat hy by die dood omgedraai het, het vir Kay met ’n onbeskryflike dankbaarheid gevul. Haar eie brose toestand vergete, kon sy maar net glimlag vir die wonderwerk wat in hul lewens gebeur het. Binne ’n paar dae het Kayvin beter begin lyk en voel. Dit was nou tyd vir die lang herstelproses – nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Tog het hulle mekaar gehad én ’n tweede kans op lewe.
Dokters het haar verseker haar lewer sou weer binne ’n paar maande teruggroei, maar dit was die minste van haar bekommernisse. Sy wou net hê haar seun moes oorleef en ’n fantastiese lewe hê. En al sal hy vir die res van sy lewe medikasie moet gebruik en sy lewenstyl moet dophou, laat hy nie toe dat dit hom terughou nie. Hy doen alles wat hy wil en kan en beplan om eendag self ’n dokter te word!
Kay is verskriklik dankbaar dat sy haar seun se lewe kon red. Haar hart vul met vreugde wanneer sy hom vandag sien speel en lag.
Sy kan haar nie eens indink wat sou gebeur het as sy nie ’n match was nie. Sy beskryf dit as ’n geskenk van God dat sy haar seun se lewe kon red. Al was die herstelproses lank en pynlik, sou sy dit in ’n oogwink weer doen, want, dis wat ma’s doen.
My kind het net ure oorgehad om te lewe. Ek sou enigiets doen om my kind se lewe te red. Kay Pietersen