Kuier

MY LEWE:

Op 25 weke was haar kanse op oorlewing baie skraal, maar haar ouers het nooit opgegee nie . . .

- DEUR ERNUSTA MARALACK

Baba Serena is op 25 weke gebore en haar hart klop nog sterk

Met haar geboorte op 25 weke (ses maande) op 19 September verlede jaar, het klein Serena Hope Reid ’n skamele 770 g geweeg (net meer as ’n 500 g pakkie suiker) en het haar lewe in die weegskaal gehang.

Medies gesproke was daar bittermin rede hoekom sy sou oorleef, want sy was veronderst­el om vir nog 15 weke in haar ma se baarmoeder te groei en ten volle te ontwikkel. En hier was sy nou – heeltemal te vroeg gebore met bloeding op die brein en in ’n stryd om oorlewing gewikkel nadat haar ma se plasenta geskeur het . . .

Sy het“weird”gelyk, haar velletjie was uiters sensitief en sy was baie bruin, beskryf haar ma, die Fokus- regisseur Euline Reid (34) van Gauteng, haar wonderwerk­dogter se eerste aansien.

In plaas van soos ander pasgebore babas wat snoesig toegewikke­l in haar nuwe kombersie lê, moes Serena Hope vir 105 dae kaal en met pypies oral in ’n broeikas in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesbu­rg se neonatale intensiewe sorgeenhei­d lê, terwyl daar elke twee ure op haar gecheck word.

In daardie ietsie meer as drie maande in die hospitaal, het elke uur getel en het Serena Hope se hart drie keer amper gaan staan. Twee van hierdie angswekken­de kere, was sy in Euline se arms. Serena Hope het onder meer ’n pypie in haar maag en een in haar kop gehad waardeur medisyne toegedien is. Sy het ook meer as vier bloedoorta­ppings gehad.

Dis nie hoe enige ma haar baba wil sien nie, veral nie daardie een waarvoor sy die Here gesmeek het nie. Sy wil haar by die huis in haar arms hê en dáár borsvoed terwyl hulle altwee mekaar leer ken.

En vir daardie 105 dae wat Serena Hope in die hospitaal was, het ’n span spesialist­e bestaande uit ’n hart-, brein-, oog- en nierspesia­lis, ’n pediater en fisioterap­eut, saamgespan om als wat medies moontlik is, te doen om hierdie baba se lewe te red.

Hiervoor is Euline ewig dankbaar. (Serena Hope se hospitaalo­nkostes het ’n astronomie­se R800 000 beloop, maar gelukkig het Euline en haar man, David (42), mediese fonds.)

“Ons moes ’n disclaimer teken om te sê ons sou haar nie laat resuscitat­e as iets fout gaan nie. Ons wou haar nie laat resuscitat­e nie, want dit sou haar (brose liggaampie) breek. En ons wou haar nie gebreek vir die Here teruggee nie,”sê Euline sag.

Maar die bloedoorta­ppings en God se genade het haar lewe gered, sê Euline.

Die borsmelk wat Euline vir Serena Hope uitgepomp het, het ook gehelp dat haar brein mooi toegroei.

Euline en David se Facebook-vriende kon Serena Hope se journey op dié sosiale netwerk volg. En net om na foto’s van hierdie klein mensie te kyk wat elke dag so moedig geveg het om aan die lewe te bly, het aan jou hart geruk.

Na haar nuwe huis

So, groot was die blydskap toe Euline aankondig Serena Hope is sterk genoeg om op 4 Januarie vanjaar huis toe te kan gaan! Sy het sedertdien mooi gegroei en is nou al vier en ’n half maande oud en weeg 2,2 kg. Maar omdat sy vroeggebor­e is, is dit ’n“waiting game”omdat vroeggebor­e babas vele uitdagings (soos agterstand­e en gestremdhe­id) in die gesig staar. In Serena Hope se geval is daar ’n kans dat sy serebraal gestremd kan raak omdat sy bloeding op die brein gehad het. Daarom moet Euline-hulle haar kop se groei mooi monitor en oplettend wees indien dit veel groter in vergelykin­g met haar lyf word. Dit sal beteken daar is weer bloeding op die

brein. Sover gaan dit goed, maar sy moet oor drie maande weer ’n check-up kry.

Vanwaar sy uit Johannesbu­rg per telefoon met Kuier gesels, sê Euline hulle het geen keuse gehad as om op hul geloof terug te val nie. Want dokters kan doen wat hulle kan, maar uiteindeli­k is Hy in beheer.

“Dit was ’n baie lengthy proses met Serena Hope. Een aand ná sy ontslaan was, lê ek en David in die bed en ek is hartseer. Hy vra toe vir my hoekom is ek soos iemand wat treur terwyl al Serena Hope se organe binne is en daar babas is wat met hul organe buite die liggaam gebore word,”vertel Euline voorts. Dít het haar diep getref en opnuut laat besef dat“die Here Serena Hope se journey lankal beplan het”.

Euline het ’n ouer dogter, Tyroné (14), uit ’n vorige verhouding terwyl David ’n ouer seun, D’Angelo (17) het. Toe sy en David getroud, gevestig en gereed is om hul “blended family”uit te brei, kon sy nie wag vir die volgende fase vir hul gesin nie.

Maar dinge was nie so eenvoudig nie. Om swanger te wíl raak en uiteindeli­k swanger te raak, gebeur nie altyd so maklik vir alle vroue nie – en Euline was ongelukkig een van hulle.

“Toe ek met Tyroné swanger was, was ek 20 en dit het gevoel soos ’n tienerswan­gerskap. Dit was challengin­g, want ek het gevoel ek het my ouers teleurgest­el. Ek het David in 2013 ontmoet, ons is in 2014 getroud en toe vind ek in Januarie 2015 uit ek is swanger.”

Euline se stem versag, want haar vreugde was van korte duur. Sy het ’n buisswange­rskap gehad en die baba verloor.“Ek het heeltyd ’n steekpyn gehad en toe ek by die dokter uitkom, was dit reeds te laat. Dit was erg, want alles het full circle gekom vir ons – ek was getroud en gevestig. Dit was ’n week wat ek geweet het ek is swanger, maar die scars het twee jaar gelast,”sê sy.

hart in stukke

Euline het hierna probeer maak of sy fine is, maar binne was haar hart in stukke en die hunkering na ’n baba groot.“Ek wou só graag swanger word. Een van my vriendinne het al vir my gesê,‘hou op piepie op ’n stokkie!’”

Euline, wat in haar werk gewoond is dat dinge volgens beplanning verloop, was gefrustree­rd dat sy nie hierdie deel van haar lewe kon bestuur nie. Sy was buierig en haar man het dit dikwels ontgeld. Hieroor voel sy vandag nog sleg.

“Dit was die een keer dat my storie nie in drie weke voltooi sou word nie. Ek moes nederig raak. In 2017 praat ek met die Here en vra as ek minder kwaad word, of ek sal swanger word? En toe word ek in April 2017 swanger! Die oomblik dat jy uitvind jy is swanger, bou jy ’n lugkasteel. Dit het nie vir my saak gemaak dat die embrio ’n uur of ’n week oud was nie, daar was lewe,” vertel sy voorts.

Maar toe gebeur wat geen swanger vrou wil hê nie en Euline het op 25 weke in kraam gegaan. Sy was die Saterdag voor Serena Hope se geboorte by ’n parkrun toe sy ’n swaar gevoel op haar blaas voel.

Teen die Maandag het sy steeds nie 100% gevoel nie en gedog dis dalk ’n infeksie, maar teen die Dinsdagogg­end van 19 September 2017, het sy ’n ligte pyn gehad wat gevoel het soos kontraksie­s. Sy is hospitaal toe en alles was op die oog af reg totdat sy begin bloei het. Sy was ook toe alreeds 2 cm ontsluit en die dokter kon die geboortepr­oses nie keer nie. Die natuur moes sy gang gaan ongeag of dit te vroeg was.“Dit alles is baie scary op ses maande en dit moes eintlik ’n miskraam gewees het. My neef en sy vrou het kort tevore gekraam en hul kind het net 10 minute gelewe. Ek het geweet enigiets kan gebeur, maar dit was nie in my kop dat iets met Serena Hope sou gebeur nie,”herleef Euline daardie senutergen­de oomblik.

Soos vroeër genoem, was Serena Hope met geboorte in ’n bedenklike toestand en elke uur van elke dag het getel. Maar nadat sy haar 15de dag oorleef het, het Euline ophou tel en net begin bid, hoop en vertrou. Sy en David se gebede is verhoor en Serena Hope, hul“Little One”, het oorleef.

Euline weet met ’n vroeggebor­e baba kan die pad vorentoe uitdagend raak, maar sy het haar kind by die huis in haar arms waar sy haar nog altyd wou hê. En vir eers, is dit al wat al tel . . .

 ??  ??
 ??  ?? REGS BO: Op amper vyf maande maak Serena Hope baie goeie vordering tuis. REGS ONDER: Serena Hope by haar ouers, David en Euline.
REGS BO: Op amper vyf maande maak Serena Hope baie goeie vordering tuis. REGS ONDER: Serena Hope by haar ouers, David en Euline.
 ??  ?? HOOFFOTO: Só het Serena Hope Reid in die hospitaal gelyk nadat sy op 25 weke gebore is. INLAS: Serena Hope se ma, Euline, waak by haar in daardie benoude ure.
HOOFFOTO: Só het Serena Hope Reid in die hospitaal gelyk nadat sy op 25 weke gebore is. INLAS: Serena Hope se ma, Euline, waak by haar in daardie benoude ure.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa