Kuier

AFRIKAANS:

Ouers bekommer hulle oor die taal waarin hul kinders leer, maar hul moedertaal bly die beste. DEUR alita steenkamp

-

Laat jou kinders in hul moedertaal leer en presteer

Op 21 Februarie vanjaar word daar weer wêreldwyd erkenning gegee aan die belangrikh­eid van moedertaal­onderrig wanneer Internasio­nale Moedertaal­dag gevier word. Tog bly mense verdeeld oor die kwessie of hulle nie eerder hul kinders na ’n Engelse skool moet stuur nie.

Al is daar soveel navorsing van reg oor die wêreld wat bewys dat daar soveel voordele is wanneer ’n kind in sy moedertaal onderrig word, is daar steeds te veel mense wat nie weet hoe belangrik dit regtig is nie.

Janine Adonis, die skoolhoof van Liebenberg Primêre Skool op Malmesbury en haar man, Richard, het jare gelede besluit om hul oudste dogter, Kylin, in die Engelsmedi­umklas te sit toe sy skool toe is. Engels sou aan hulle kinders beter geleenthed­e kon gee ná skool, het hulle gedink, en buitendien is Richard Engels en word daar dikwels Engels in die huis gepraat. Janine vertel dinge het egter toe heel anders verloop.

duur les geleer

“In graad 2, so in die helfte van die jaar, het Kylin op ’n dag na my gekom en gesê sy hou nie eens van Engels nie hoekom moet sy in Engels skoolgaan. Al haar maatjies praat Afrikaans en sy hou van Afrikaans.”

Toe dit tyd word vir hul jongste spruit om graad R toe te gaan, het hulle haar ook eers in die Engelse klas gesit.“Ons jongste dogter, Leigh, was kleintyd in ’n Afrikaanse speelskool. Toe sy graad R toe is, het ons haar ook in die Engelse klas gesit, maar sy wou niks van die Engels weet nie. Dit was vir ons die laaste strooi en ons het albei verder in die Afrikaanse klas gehou.

“Ons het nog nie een oomblik daardie besluit berou nie. Die kinders is steeds gemaklik met Engels, maar Afrikaans is beslis hul happy place. Ons het ook besef die kinders hoor nie genoeg Engels in Malmesbury nie, die meeste van hulle maats praat Afrikaans en albei voel gemaklik met Afrikaans, daarom gaan hulle beter leer in Afrikaans,” vertel sy verder.

“Vandag is die twee, nou 16 en 14 jaar oud, in die Afrikaanse Hoërskool Paarl Gimnasium en ons kyk nie een dag terug nie. As ek nou daaraan terugdink, besef ek die les wat ons hieruit geleer het, is dat ’n mens nie namens jou kind die besluit mag neem wat vir jou die beste is nie. Dit moet

gaan om die beste belange van die kind.”

Janine sê sy het groot lesse geleer wat sy vandag ook in haar werk toepas.

“As skoolhoof praat ek gereeld met ouers wat hulle kinders in ’n ander taal as die huistaal wil laat onderrig. Baie keer neem ouers so ’n besluit weens plek in ’n spesifieke skool, maar dan is dit nie in die belang van die kind nie. Sommige kinders het reeds te doen met moeilike sosio-ekonomiese omstandigh­ede soos armoede en verblyf wat nie na wense is nie. Om so ’n kind nog verder te frustreer deur hom in ’n klas te sit waar hy of sy nie die taal verstaan nie, en waar hy nie by die huis die regte ondersteun­ing kan kry met sy skoolwerk weens die taalproble­em nie, is eintlik baie onregverdi­g. Uit ervaring weet ek moedertaal­onderrig is die beste vir jou kind.”

Daar sal seker maar altyd ’n debat oor Afrikaans in die onderwysst­elsel heers, maar opmerkings wat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, onlangs gemaak het, is ’n positiewe stap om Afrikaanse ouers te oortuig om hul kinders na Afrikaanse skole te stuur. Motshekga het onder meer gesê Afrikaans is een van die land se mees ontwikkeld­e Afrikatale en die regering het geen planne om dit af te skaf as taal van onderrig nie.

beter uitslae

Dr. Michael le Cordeur, hoof van die departemen­t kurrikulum­studie aan die fakulteit opvoedkund­e van Universite­it Stellenbos­ch, is een van Afrikaans.com se beskermher­e en het self intensiewe navorsing gedoen oor die voordele van moedertaal­onderrig.“Ongelukkig sien ons dat baie ouers in bruin gemeenskap­pe vandag hul kinders in Engelse skole plaas weens die politiek en dinge wat rondom Afrikaans se kop woed. Mense raak paniekerig en dink, ’O gits, gaan daar nog oor ses jaar Afrikaanse hoërskole wees? Ek sit dus eerder my kind van die begin af in ’n Engelse skool’. Ek kan sulke vrese verstaan en ek veroordeel nie mense wat so dink nie,”sê Le Cordeur.

“Tog wil ek vir almal sê daar is twee dinge wat belangrik is. Eerstens moet ons glo dat Afrikaanse skole steeds oor 12 jaar beskikbaar gaan wees. In die tweede plek moet jy mooi dink, want al die navorsing sê dis die heel beste ding om ’n kind in sy huistaal te laat skoolgaan. Natuurlik is dit dan belangrik om die kind geleidelik, wanneer sy huistaal goed gevestig is so teen sy sesde lewensjaar, bloot te stel aan ’n tweede taal soos Engels. ’n Mens kan nie jou kind eentalig opvoed nie,”sê Le Cordeur.

Dit gaan ook nie net oor Afrikaans nie, maar alle kinders wat ’n ander taal as moedertaal het en benadeel word.

Charnelle Fortuin is ’n jong onderwyser­es wat vanjaar haar onderwysgr­aad klaarmaak. Verlede jaar het sy haar prakties by Groendal Primêr op Franschhoe­k gedoen waar haar registerkl­as ’n Engelse klas was.

Die meeste kinders in die klas se huistaal was Xhosa of Zulu. Sy sê sy kon sien hoe die kinders sukkel met vakke soos wiskunde en ekonomiese- en bestuurswe­tenskappe (EBW), en sy skryf dit toe aan die feit dat hulle nie onderrig in hul moedertaal ontvang nie.“Die kinders wat in Engels moes skoolgaan, praat nie Engels by die huis of in hul omgewing nie, net by die skool. Hulle moet dus nie net die nuwe werk bemeester nie, maar moet eintlik nog die taal aanleer. Dis te verstane dat hulle gaan sukkel,”sê Charnelle.

Vir Eric van der Byl, ’n Afrikaans-onderwyser aan Parkfields Primêr in Hanover Park, is die hele kwessie van moedertaal­onderrig iets wat hom baie na aan die hart lê. Dit maak hom bekommerd dat soveel ouers besluit om hul Afrikaanse kinders in Engels te laat skoolgaan.“Moedertaal­onderrig is belangrik, want die kind se ondersteun­ing by sy huis vind plaas in sy moedertaal. Dit help die kind om die werk beter te verstaan. Wanneer ’n mens kyk na lande soos Noorweë of Korea, van die voorste eerste-wêreldland­e, glo hulle baie sterk daaraan dat die kind tot in matriek in die moedertaal onderrig moet word. Engels bly die addisionel­e taal. Daardie lande het van die heel beste opvoedkund­ige stelsels in die wêreld,”verduideli­k hy.

“In Suid-Afrika het ons nou ’n nieampteli­ke verengelsi­ngsbeleid. Ek is nie gekant teen Engels nie, maar ek sien die nadeel wat dit het vir die kinders en vir die gemeenskap. In jou omgewing is die moedertaal tog baie belangrik en daarom sal dit goed wees om moedertaal­onderrig so lank as moontlik te handhaaf, omdat dit vir die kind baie voordelig is,”sê Eric.

In die afgelope matriekeks­amen, het twee skole veral beïndruk met Afrikaans: Sekondêre Skool Tafelsig en Aloe in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte. Tafelsig het die toekenning ontvang vir die skool wat die beste in Afrikaans as huistaal in die Wes-Kaap presteer het. Aloe se uitslae het met 50% verbeter omdat hulle op moedertaal­onderrig gefokus is.

Wanneer jy dus die besluit moet neem oor die taal waarin jou kind onderrig gaan word, kies reg.

Het jy geweet?

Navorsers van reg oor die wêreld sê: Moedertaal­onderrig vorm die brug tussen die voorskools­e jare en skooljare. In jou huistaal verstaan jy die leeromgewi­ng soveel makliker.

Indien ’n kind in sy of haar moedertaal onderrig word, neem hulle deel aan klasgespre­kke en bespreking­s en is nie bang om vrae te vra nie. Hulle geniet die skool meer omdat hulle tuis voel. Kinders leer makliker en vinniger in ’n taal wat hulle goed verstaan. Om wiskunde en wetenskap in ’n eerste addisionel­e taal te moet aanleer, is geweldig moeilik. Moedertaal­onderrig maak dit vir ’n kind baie makliker om ’n tweede en of derde taal aan te leer en bevorder veeltaligh­eid.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa