Kuier

VERHOUDING­S:

Paartjies maak dikwels finansiële opoffering­s vir mekaar, maar soms is dit net te veel gevra en ly jou verhouding daaronder.

- DEUR Marteli Brewis

Moenie laat geld julle sink

Wanneer paartjies se liefdesvuu­r die hoogste brand, voel dit of niks ooit tussen hulle kan kom nie – allermins geld!

Maar finansies is egter een van die hoofredes hoekom ’n verhouding verbrokkel of getroudes in die skeihof draai. Geld kan baie maklik en vinnig groot issues veroorsaak, veral as een maat voel hulle moet heeltyd die opoffering­s in die verhouding maak.

Byvoorbeel­d as jy die enigste broodwinne­r is omdat jou maat siek word of as hy sy werk wil opgee om verder te gaan swot of sy eie besigheid wil begin. Wat as hy elke maand ’n groot deel van sy salaris moet afstaan aan sy eks of familie?

Dít is maar net ’n paar van die geldopoffe­rings wat onmin tussen paartjies kan veroorsaak.

Vir die Kapenaars Janine de Grill (41) en haar man, Craig (42), is groot finansiële opoffering­s deel van hul lewe. Janine het ’n suksesvoll­e korporatie­we loopbaan gehad.

In 2008 is sy gediagnose­er met non Hodgkin’s lymphoma (limfoïede-weefselkan­ker). In daardie stadium het sy die meeste verdien, maar moes uiteindeli­k bedank omdat die behandelin­g te uitmergele­nd geword het.

Craig moes nie net die finansiële verantwoor­delikheid ten volle op homself neem nie, maar ook grootliks die huishoudin­g en kinders. Dít het twee jaar aangehou en in hierdie tyd moes die gesin met een salaris oorleef. Hulle het op ’n baie streng begroting geleef en daar was geen geld vir ekstras nie.“Die bank het konstant ons huis en kar probeer vat,”onthou Janine.

In 2010 het hulle besluit om hul

droomhuis te verkoop en eerder te huur. Kort daarna, in 2011, het Janine weer begin werk. Ná drie jaar van spanning en emosie, het Craig bedank en ’n ruskans geneem vir ’n paar maande. Toe hy weer op die been was en begin werk het, het Janine besluit om haar pensioen te laat uitbetaal en haar eie besigheid te begin. Weereens het hulle dit saam as ’n span bespreek en die besluit geneem.

Volgens hulle het hulle al dié finansiële skommeling­s en uitdagings oorleef deur van die begin af koppe bymekaar te sit en altyd oor alles te praat, maak nie saak hoe moeilik dit was nie.

Craig voeg by hy het op sy troudag belowe om lief te wees vir Janine“in sickness and in health, for richer and for poorer”, en hy hou maar net sy belofte. Van haar kant af, sê Janine weer solank hulle mekaar het en hul kinders gelukkig en versorg is, kan hulle enigiets oorleef.

Tehilla Luttig, ’n geregistre­erde terapeut van Hermanus, sê kommunikas­ie en eerlikheid is baie belangrik wanneer dit kom by finansies in die huwelik. In haar ervarings is die grootste en mees algemene finansiële opoffering­s in ’n huwelik wanneer iemand in ’n ander dorp of selfs oorsee gaan werk om ’n beter inkomste te verdien. Verder kan papgeld ook ’n groot issue raak wat tot baie ongelukkig­heid en wrokke kan lei, veral as dit nie bespreek word nie.

Melody Fortuin (26)* en haar man, Jakes (28)*, woon in George, terwyl Jakes se seun (8) in Springbok woon. Hulle stuur elke maand ’n bedrag as onderhoud, al sien hulle nie die seun gereeld nie. Melody vertel as daar ’n maand is wat hulle nie kan betaal nie, stuur hulle die volgende maand dubbel. Al het hulle ’n goeie verhouding met Jakes se eks, plaas die finansiële spanning soms erge druk op hul verhouding.

“Wat dinge moeiliker maak,”erken Melody,“is dat ek twee kinders (6 en 10) by ’n ander man het en hul pa stuur geld soos wat dit hom pas.”Dít beteken dat Jakes sy eie seun, asook Melody se twee seuns uit ’n ander verhouding, én hulle twee se seuntjie (2) saam, moet onderhou.

Melody vertel hulle lewe as ’n span. Wanneer Jakes nie geld het nie, sal sy sy seun in Springbok se papgeld betaal en wanneer sy weer kort, spring hy in. Tog is daar sommige maande waar daar meer maand as geld oor is en dit kan soms tot ’n stryery lei. Melody sê egter sy kan dit nie oor haar hart kry om ’n onskuldige kind te verwyt daaroor nie. Hul manier is om mekaar tyd te gee om af te koel en dan weer rustig die situasie te bespreek. Volgens Melody is sy en haar man beste vriende en omdat hulle weet wat dit is om nie te hê nie, waardeer hulle dit wat hulle het soveel meer.“Ons lewens draai om mekaar en nie om geld nie,” glimlag sy.

as die opoffering te groot is

Tehilla verduideli­k dit gaan oor wat jy kry, teenoor wat jy opgee.“Maak seker julle het dieselfde waardes en behoeftes wanneer julle die kwessie bespreek en julle ’n lys van voor- en nadele opstel,”stel sy voor.

’n Groot huis beteken dalk meer vir jou as vir jou maat. Of dalk dink jy dit beteken meer vir jou maat as wat dit werklik doen.

Tehilla sê daar is geen reg of verkeerd nie, maar dis belangrik om seker te maak jy verstaan hoe jou maat voel.

Sy sê wanneer julle ’n lys van voor- en nadele opstel, heg ’n emosionele waarde (uit 100) aan elke item. Moenie die hoeveelhei­d voordele en nadele tel nie, maar eerder die emosionele waardes wat aan elke item toegeken word.

Wanneer dit kom by onderhoud aan ’n vorige maat, is daar nie net finansies betrokke nie, maar ook emosionele kwessies wat nie altyd eerlik en opreg bespreek word nie.

Dis soms moeilik om vir jou man te sê jy is nie gelukkig daarmee nie en kan baie spanning in ’n verhouding inbring.

Tehilla stel voor julle bespreek hierdie issue reeds voor jul troudag. En as enig- iemand ongelukkig voel oor die situasie, moet dit uitgesorte­er word anders kan dit lei tot baie onnodige gevegte.

Sy waarsku ’n mens moet nooit finansiële opoffering­s maak sonder dat albei partye duidelikhe­id het oor die situasie en saamstem daaroor nie.

“Praat, praat, praat,”meen Tehilla. “Besluit wat is jul doelwitte as ’n gesin en hoekom doen julle wat julle doen.”Dis baie belangrik dat julle mekaar 100% verstaan, verstaan hoe die ander een voel en dit respekteer.

Miskien moet julle elke maand geld afstaan om familie te help. Dit help nie jy stem in net om ’n bakleiery te vermy of die gesprek verby te kry nie. As dinge warm begin raak, neem ’n blaaskans, kalmeer en probeer weer. Moenie ophou totdat julle ’n compromise bereik het waarmee julle altwee kan lewe nie. Kry ’n terapeut of iemand wat julle vertrou om te help as julle sukkel.

’n hoë prys

Tehilla verduideli­k dit is omdat mense maklik eerder in stilte sit en tob en stoom as om ongemaklik­e gesprekke te hê.

Nog ’n probleem is wanneer jy iemand anders se drome najaag.“Ek het al te veel mense gesien wat hul hande stompies werk net om eendag terug te kyk en te besef hulle het die grootste huis en die vinnigste kar gehad, maar dit wat die belangriks­te was – hul familie – verloor in die proses.”

Sy meen dit is maklik om fokus te verloor en te vergeet wat jou eie behoeftes, drome en idees van sukses is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa