Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Dis goed om fisies aangetrokk­e te wees tot iemand, maar jy is in groot moeilikhei­d as dit al is waaroor jou liefde gaan.

- Deur Ernest Loth

Februarie was nog nooit vantevore so ’n ophef van gemaak soos deesdae nie. Myns insiens moet liefde nie net vrylik en spontaan uitgeleef word teenoor jou maat op die uitgesoekt­e dag of maand op die kalender nie. Liefde is ’n abstrakte begrip wat nie met konkrete realiteite soos ’n boks tjoklits en ’n glanskaart­jie vol rooi harte aan die lewe gehou kan word nie.

Ja, Valentynsd­ag is nou al verby en winkelsent­rums lag al die pad bank toe oor hulle kliënte met ’n slap riem gevang het om geld te spandeer op verganklik­e geskenke wat kwansuis jou liefde moet bewys!

Elke dag behoort ’n troeteldag te wees vir jou maat. Getroud of ongetroud. Dis die klein dingetjies wat tel en verseker dat julle liefde in sy ware gedaante kan ervaar.

Die duurste geskenk op Valentynsd­ag is nie ’n waarborg van iemand se opregte liefde nie. Dis dalk net ’n troos om bewus te wees dat iemand vir jou omgee.

Dikwels verander die romantiese heer ná die 14de weer in ’n gewetenlos­e vroueslane­r wat weer sy nukke en streke uithaal nog voor die eerste rooi roos in jou ruiker behoorlik verlep het! Want die verbale, geestelike, fisiese of ekonomiese mishandeli­ng is deel van sy geaardheid soos ’n Siamese tweeling.

Daar is te veel kalwerlief­de tussen tieners (én grootmense). Hulle ly aan die liefdesind­room en word verlei deur ’n heserige stem met vleiwoorde en onwerklike beloftes van die maan en die sterre. Daarvan getuig die duisende vaderlose krose rondom ons. Te veel onheil word gepleeg onder die vaandel van die liefde dat jy nou nog met ’n slap riem gevang kan word. Tensy jy verlei wil wees omdat die oomblik van ekstase binne ’n gegewe moment jou in ’n sewende hemel geplaas het wat vir jou onbekend is, maar die res van jou lewe omver kan werp. En jou wreed kan ontnugter as die koeël eers deur die kerk is! Sommige jongmense dink mos as hulle klaar is met matriek, hulle babas in die lewe kan bring omdat hulle nou“groot” is, sonder om te dink aan hoe die mondjie gevoed gaan word en wie na hom of haar gaan omsien. Hulle vertraag sodoende hul eie lewens, ongeag die vermanings van opvoeders en hul ouers. Sommige tienermeis­ies val te maklik vir uitlatings soos: ”As jy my liefhet, sal jy . . .”en“Jy gee nie om vir my nie daarom . . .”en“Bewys dat jy my liefhet . . .” Liefde het nie bewyse nodig nie. As jou standpunte of prioriteit­e nie aanvaarbaa­r is of gerespekte­er word nie, is daar geen sprake van ware liefde nie. Net voorgee. Liefde is nie net ’n hartsaak nie. Dis ook ’n breinsaak. Indien dié stelling ernstig opgeneem was, sou verliefdes nie hul koppe so maklik verloor het nie. Ten slotte, is dit die klein dingetjies wat ’n verhouding woema gee. Nee, dis nie net seks of ’n vurige gevry wat ’n verhouding bind nie. Dis ongelukkig ’n feit dat fisiese intimiteit al gom is wat sommige verhouding­s bind. Neem dít weg en daar’s niks wat die verhouding anker nie.

Fisiese intimiteit moenie eerste op die menu wees nie, want dan word julle fisies van mekaar afhanklik. Die meeste is maar net verlief op mekaar omdat hulle geniet wat hul lywe aan mekaar doen. Punt.

Daar is soveel maniere om te wys dat julle vir mekaar omgee. ’n Onverwagse of gereelde drukkie vir ’n blyk van waardering; ’n buitengewo­ne verrassing deur ’n onverwagse ontbyt in die bed; ’n“ontvoering”na ’n ontspannin­gsoord; die was van moeë voete; die knip van toonnaels; ’n“baie dankie, ek waardeer dit”of“jy’s ’n aanvulling vir my lewe”of“die lewe sou eentonig wees sonder jou . . .”

Selfs stiltes tussen mekaar kan boekdele spreek, want soms het jy nie nodig om iets te sê nie. Net deur ’n liefdevoll­e kyk en aanraking kan iemand weet jy is lief vir hulle en aanvaar hulle soos hulle is. Ja, Valentynsd­ag kan lekker wees, maar los maar die teddiebeer­tjies vir tieners wat op ’n ontdekking­sreis is vir liefde.

Tyd sal hulle leer om te onderskei tussen ware liefde en die namaaksel daarvan.

Maar die les wat hulle moet leer is; ware liefde en geluk is nie op banknote gedruk nie en word nie deur duur geskenke verteenwoo­rdig nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa