Kuier

INSPIRASIE: Uitvoerend­e hoof van Artscape help ander soos sy

Met alles wat sy in haar het, wil sy elke dag ’n verskil maak in gestremdes en hul gesinne se lewens.

- DEUR Tarren-lee habelgaarn

Wat ’n mens sien, is nie altyd noodwendin­g hoe dinge regtig is nie. En wanneer ’n mens Marlene le Roux by ’n funksie of in die deftige gange van die Artscape-teater in Kaapstad raakloop, is sy die toonbeeld van geluk. Sy het altyd die grootste glimlag in die vertrek en sy wy haar hele lewe daaraan toe om mense te inspireer en veral gestremde mense te bemagtig.

Oral waar Marlene (50), uitvoerend­e hoof van Artscape, gaan, of dit nou plaaslik of internasio­naal is, steel sy harte en mense kry net nie genoeg van haar aansteekli­ke lewenslus nie. Maak nie saak wat die lewe haar kant toe gooi nie, hierdie ma en aktivis laat niks haar onderkry nie.

Sy sal altyd die ekstra myl stap vir ander en is al telkens met pryse en toekenning­s bekroon. En net toe ons dink sy het al alles moontlik bereik, bewys sy ons verkeerd toe die Kaapse Skiereilan­d Universite­it van Tegnologie (CPUT) haar in Maart 2017 met ’n eredoktors­graad vereer vir haar bydrae tot die onderwys.

En in Februarie is die Statebond Point of Light-toekenning namens koningin Elizabeth II van Brittanje aan Marlene toegeken

vir die groot rol wat sy speel om die regte van gestremde mense in Suid-Afrika te bevorder.

Marlene is self gestremd nadat sy op die ouderdom van drie polio gehad het. Haar linkerbeen is erg misvorm en haar fyn motoriese vaardighed­e is ook aangetas wat spasmas in haar liggaam veroorsaak.

Al is dié spesiale toekenning ’n baie groot eer, kom dit op ’n baie moeilike tyd in haar lewe. Vyf maande gelede moes sy haar seun, Adam (15), wat ’n kwadruplee­g en serebraal verlam was, aan die dood afstaan. Die hartseer en verlange tref Marlene nog elke dag en dit gaan tyd vat om sy dood te verwerk, want al kon Adam weens sy gestremdhe­id nie praat nie, het sy lewe boekdele gespreek .

lig in hul lewe

Hy was Marlene se jongste kind. Sy het ook ’n dogter, Aimee (21), maar Adam was hul gesin se alles en die lig in hul lewe. Volgens Marlene is sy van nature ’n gelukkige persoon, maar soms het haar borrelende persoonlik­heid en breë glimlag baie hartseer, bekommerni­s en moegheid weggesteek. Selfs die dag in 2003 toe sy uitvind dat Adam serebraal verlam is en hul lewe vir altyd sou verander, moes Marlene onmiddelli­k weggaan vir ’n onderhoud en fotosessie omdat sy daardie dag ’n toekenning ontvang het. Daar was nie tyd om behoorlik te rou nie, want soos hulle in haar bedryf sê,“the show must go on”.

Marlene sê sy weet eerlikwaar nie hoe sy dit deur die eerste drie moeilike jare van Adam se lewe gemaak het nie. Maar noudat Adam nie meer hier is nie, hoef sy nie meer elke dag ’n sterk gesig op te sit nie en wil sy graag hul storie gebruik om ander ma’s en gestremde mense se lewens te verbeter. Hierdie toekenning dra sy op aan gestremdes, hul families en Adam.

“Dit is natuurlik ’n groot eer vir my, maar dit het my heeltemal onkant gevang. Ek het nooit hiervoor inskryf nie en ek weet nou nog nie hoe hulle van my gehoor het nie, maar toe ek hiervan uitvind, was dit definitief vir my bitterswee­t,” sê sy eerlik.

“My hart is nog baie seer oor my seun en ek wou nie regtig ’n ophef van ’n toekenning maak nie. Ek was net nie in die regte gemoedstoe­stand nie. Ek was heeltemal overwhelme­d. Hy was my lig en my lewe,” voeg sy hartseer by.

Sonder om ondankbaar te klink, sê Marlene sy het besluit om die toekenning te aanvaar, maar nie vir die koningin nie. Sy wil dit as ’n platform gebruik om hopelik te kan help om beleide te implemente­er wat gestremde mense se lewens kan vergemakli­k.

Marlene sê sy het niks gemeen met die koningin nie, maar sy weet hoe moeilik dit is om ’n moeder van ’n gestremde te wees en sy weet hoe dit is om self gestremd te wees. Sy kan met hulle identifise­er en haar passie vir hulle is sterk.

Hoewel dinge nie altyd vir haar maklik was nie, kon sy alles in haar lewe bereik omdat sy die hulp van twee wonderlike verpleegst­ers gehad het. Yolanda Titus en Jean Bailey het vir meer as 10 jaar van Adam se lewe alles vir hom beteken. Dit het Marlene tyd gegee om haar drome na te jaag en ’n inspirasie vir vroue te word.

Maar nie almal kan dit bekostig om ’n Jean en ’n Yolanda in hul lewe te hê nie en hiervan is Marlene baie bewus. Marlene sê ja, dit is altyd lekker wanneer mense kom inloer of belangstel in jou kind se toestand, maar die ma van ’n gestremde kind het meer as net ’n inloer nodig. As jy net een keer ’n maand kan help om na die kind te kyk sodat die ma tyd vir haarself kan hê, sal dit baie help.

“Soms wil daardie mamma net ’n uur of twee op ’n Saterdag vir haarself hê om die son op haar gesig te voel of om ’n fliek te gaan kyk. Inkopies is ook iets waarvoor daar nooit tyd is nie en dalk kan iemand help deur aan te bied om dit vir daardie mamma te doen.”

Marlene sê voorts hulle het ook maatskappy­e en beleide nodig wat die volgende tipe ma’s kan help om hul lewens te vergemakli­k: Die ma wat op die boonste vloer van ’n blok flêtse in Manenberg (op die Kaapse Vlakte) woon; die ma wat in ’n vol taxi moet klim met haar gestremde kind om by die dokter of hospitaal uit te kom; en die ma wat nie kan gaan werk nie omdat niemand na haar kind kan kyk nie.

“Ons moet vir daardie ouers kan help en ek hoop hierdie toekenning kan gebruik word om bewusmakin­g vir hulle te skep,”voeg Marlene passievol by.

sy bly dankbaar

Marlene sê sy is dankbaar omdat sy nog kon werk, dat sy vir Adam alles kon gee wat hy nodig gehad het en haar huis gemaklik kon maak vir hom en Aimee.

Mense sou dalk nie verstaan hoe Adam se lewe in sy stilte boekdele kon spreek nie, want hy het tydens sy 15 jaar op aarde nie een woord gesê nie, nie ’n enkele dag gestap nie en nooit met enigeen gespeel nie. Maar Adam het geglimlag, hy het geluister en wanneer jy rondom hom was, het jy sy liefde gevoel, sê Marlene.

“Adam was die sielkundig­e van Boston (’n woonbuurt in die Kaapse noordelike voorstede waar Marlene woon) en almal het hul pyn, hartseer, bekommerni­sse en blydskap met Adam in die parkie gedeel. Adam het nie terug gepraat nie, hy het net geluister en soms is dit al wat ’n mens nodig het. Hy het almal se lewens geraak wat hom ontmoet het of geken het. Dit het ek besef toe daar 2 000 mense by sy begrafnis opgedaag het,”voeg sy by.

Marlene sê sy is dankbaar vir elke toekenning, geleenthei­d en eer wat sy al in haar lewe ontvang het, maar sê dis nooit vir haar nie. En selfs terwyl sy haar grootste hartseer probeer verwerk, sal sy altyd streef om haar opbeurende persoonlik­heid en platform te gebruik om ander te inspireer en ’n stem vir die stemloses te wees.

 ??  ?? Marlene le Roux, uitvoerend­e hoof van Artscape, het al talle toekenning­s gewen en ook ’n eregraad ontvang. As gestremde dra sy dit op aan ander gestremdes.
Marlene le Roux, uitvoerend­e hoof van Artscape, het al talle toekenning­s gewen en ook ’n eregraad ontvang. As gestremde dra sy dit op aan ander gestremdes.
 ??  ?? Marlene en haar seun, Adam, wat verlede jaar oorlede is.
Marlene en haar seun, Adam, wat verlede jaar oorlede is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa