UITGESPAAR: Man steeds staande, al draai hy telkens by die dood om!
Hy het al so baie keer by die dood omgedraai dat mense sê hy het meer lewens as ’n kat, maar hy sê dis net genade . . .
sommige mense beskou hom as“erger as ’n kat met nege lewens”. Want in sy 58 jaar het Cyril Kock, beter bekend aan sy tweede naam, Neville, al meer kere by die dood omgedraai as wat hy kan onthou. Hospitaalpersoneel het later so gewoond geraak aan hom dat hulle nie hul verbasing dat hy nog lewe, kon wegsteek nie.“Alwéér jy? Jy’s gelukkig om nog te lewe,”is van die dinge wat hy al moes aanhoor, vertel ’n laggende Neville.
Neville, van Northpine in die noordelike voorstede van Kaapstad, was in die vroeë tagtigs toe hy nog in die polisiediens was, onder sy hart geskiet; het sy eerste hartaanval op 38 gehad en ten minste nóg 12 hartaanvalle oor die jare. Hy was ook al met vel- en prostaatkanker gediagnoseer en het ’n breinoperasie gehad.
Sithembiso Magubane, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het bevestig dat Neville oor die jare verskeie kere by Eersterivier-, Helderbergen Tygerberg-hospitaal behandel is.
Laticia Pienaar, woordvoerder van Tygerberg-hospitaal, sê ongelukkig kan sy nie Neville se presiese getal hartaanvalle bevestig nie“weens mediese verslae wat alreeds geargief is”.
Op dood se drumpel
Daar is mense wat nie eens een hartaanval oorleef nie en hier leef Neville nog! Wanneer jy hom vir die eerste keer ontmoet, lyk dit egter nie of hy talle kere al op doodsdrumpel was nie. Hy het wel ’n duik aan die linkerkant van sy kop weens ’n breinoperasie, maar jy kom dit nie eens onmiddellik agter nie. Hy is saggesproke en ’n man van min woorde, daarom doen sy vrou, Helia (59), die meeste van die vertelwerk, maar Neville beaam dit. Selfs Helia kan nie glo wat haar man al oorleef het nie. Sy gesondheidsprobleme het in 1998 begin toe hy sy eerste hartaanval gehad het. “Die probleem lê by my hartklep,”vertel
Neville oor die rede hoekom hy al herhaalde hartaanvalle gekry het. Helia was by die werk toe Kuier Neville by die huis besoek het, maar het later per telefoon verduidelik dokters het later vir hom ’n stent ingesit. “Sy bloed was te dik. Die stent is ingesit om die are oop te hou sodat die bloed kon deurvloei (na sy hart toe),”sê Helia. Die probleem is behandel, maar dit het nie die hartaanvalle gekeer nie, want tussen 1998 en 2001 het Neville volgens Helia“nog sommer baie”hartaanvalle gekry.
Daar was soveel kere wat Helia moes toekyk hoe haar man ineenstort of saans van die werk af kom en by bure hoor hy is hospitaal toe gejaag. Die gedagte dat sy alleen sou wees, was ondenkbaar vir haar.“Ons het ’n grootmaakkind, Reagan Petersen (10), maar nie kinders van ons eie nie. Dit was baie traumaties.”
Die jaar 2001 sou ook nuwe gesondheidsuitdagings bring vir Neville. Hy het ’n puisie op sy neus gehad wat hy probeer uitdruk het. Dit het egter gegroei en twee maande later onophoudelik begin bloei. Toe dokters toetse doen, het hulle bevestig hy het velkanker in sy neus. Hulle het ’n operasie gedoen om die kanker uit te sny waarna hy chemobehandeling ontvang het.“Hulle het hier oopgesny om dit uit te haal,”sê Neville en loop sy vingers by sy neus af tot by sy regterwang.
Maar nadat jy gehoor het wat in 2002 met hom gebeur het, weet jy nie of jy hom as baie lucky of unlucky moet beskou nie. Hy was in die hospitaal vir ’n hernia (breuk) in sy linkerlies. Met die ondersoek ter voorbereiding van sy operasie, het dokters opgetel dat hy prostaatkanker het, waarvoor hy óók ’n operasie en chemobehandeling moes kry!
Neville het verlede jaar as ’n verkoper van fabriektoerusting afgetree. Ná elke hartaanval is Neville vir omtrent ’n maand van sy werk afgeboek. “Jy voel emosioneel uitgeput en is fisies pap. Vandag as ek pyne kry, is ek te bang om vir Helia te sê, want ek weet dit beteken nóg ’n besoek aan die hospitaal en ek is net nie daarvoor lus nie.”
nog probleme
In 2005 het hy egter wéér probleme met sy neus ontwikkel. Dit het onophoudelik gebloei en hy is hospitaal toe gehaas waar dokters gesukkel het om die bloeding te stop. Hiervoor het hy nóg ’n operasie op sy neus ondergaan, want die septum (skeidingswand van sy neusholtes) was nie reg toegemaak met sy eerste operasie nie, vertel Helia. Ná die tweede operasie op sy neus het dit egter weer van tyd tot tyd gebloei en hy moes elke keer hospitaal toe gaan om die bloeding te stop. Neville sê hy moes soms met ’n emmertjie in die passasiersitplek sit vir die bloed om in te loop terwyl Helia hom hospitaal toe jaag. “Die bloed sou altyd oral gaan en die toilet, oooh die toilet was altyd vol bloed,”vertel Helia.
“Dit (gesondheidsprobleme) was frustrerend. Veral wanneer jy besig is met ’n kliënt en jou neus begin te bloei,”vertel Neville.
In en uit die hospitaal
Selfs Helia kan nie al die kere wat haar man al in die hospitaal opgeëindig het met hartaanvalle en sy neusbloeding onthou nie. Maar sy onthou ’n Vrydagaand in 2016 toe hy ’n ernstige kopbesering opgedoen het en sy gedink het haar man se tyd het finaal gekom.
Asof dit gister gebeur het, vertel Helia hoe hulle in hul sitkamer in hul woonstel in Eersterivier gesit het. Hulle het ’n pizza bestel wat baie lank geneem het om afgelewer te word en Neville het kwaad geword. Neville is sonder haar medewete buitentoe waar hy van ’n stel trappe afgeval het.“Ek het ’n pyn gekry,”begin Neville vertel, maar sê dan hy hy kan nie presies onthou wat gebeur het nie. Hy was heelnag in pyn en sy gesig was teen die Maandagoggend skeef. Hulle is hospitaal toe, waar ’n dokter vir Helia gesê het haar man se brein het“baie seergekry”en sy spraak is aangetas.“Ek het gedink hy gaan dit nie maak nie.”Sy moes haar toestemming gee vir ’n noodoperasie anders sou hy verlam, blind en/of stom wees.
Ná die operasie was Helia bang om vir Neville te sien. Hy het pype in sy kop gehad en sy gesig was opgeswel. Toe hy egter vir familielede vra waar sy is, het sy beter gevoel.“Toe dink ek, dankie Here die operasie was ’n sukses.”
Neville se geheue is nie so goed sedert hierdie val nie, maar hy sal 2016 nooit vergeet nie. Want vroeër daardie jaar, voordat hy van die trappe afgeval het, het hy drie hartaanvalle binne drie maande gehad. En nog erger was dat sy ma, wat in Knysna gewoon het, toe ook in die hospitaal opgeneem was terwyl hyself in die hospitaal gelê het.“Dokters wou my nie ontslaan nie, maar hulle het op voorwaarde dat ek nie bestuur nie.”Neville sou twee dae later sy ma in Knysna besoek, maar sy het afgesterf voordat hy haar kon sien.“Ek het verneder, platgedruk en siek gevoel. Toe ek haar laas sien, het sy nog gelewe. Nou was sy dood,”vertel Neville emosioneel.
Hy het al baie gesien hoe ander mense met wie hy kamers gedeel het in die hospitale, voor hom sterf. Gevra of hy bang is vir die dood, skud Neville sy kop.“Nee, almal moet gaan. Ek moes al lankal weg gewees het. Dis net deur genade.”Maar daar was eendag wat hy gewonder het:“Moet ek nou régtig dié operasie doen. Ek was buite Helderberg-hospitaal (in Somerset-Wes), toe kom daar ’n man na my en sê:‘Die Here het gesê jy moet nie bang wees nie, want jy sal niks oorkom nie’.”
Hul geloof is wat hulle deur alles gedra het, sê Helia.“Baie het al gesê hy is erger as ’n kat. Hy is regtig ’n survivor. Niemand kan glo hy het deur alles survive nie. Kanker, bloeding, hartaanvalle. Maar die Here het hom gesond gemaak. As dit nie vir die Here en ons familie se ondersteuning was nie, was ek al vandag ’n weduwee.”
Deesdae gaan Neville elke ses maande vir ’n check-up en kry gereeld erge kopsere weens die kopbesering, maar andersins is hy nog positief oor die lewe én dankbaar vir die Here wat hom deur alles uitgespaar het.