NIERSIEKTE: Broer en suster sterf byna oor niere wat nie werk nie
Dié gesin moes twee keer dieselfde trauma deurmaak toe albei hul kinders se niere opgepak het.
wanneer jou kind siek is, ruk dit jou tot in jou diepste. Maar hoe hou ’n ouerhart dit as altwee jou kinders met dieselfde toestand op dieselfde ouderdom gediagnoseer word?
Michael en Muriel Chapman van Atlantis buite Kaapstad, moes vinnig leer om sterk te staan toe ’n genetiese niersiekte ’n paar jaar gelede albei hul kinders se lewens bedreig het. En dit was veral Muriel wat die ultimate opoffering moes maak toe sy een van haar niere moes prysgee om een van haar kinders se lewe te red. Sy sukkel vandag met die nagevolge van haar liefdesdaad, maar as ’n ma sal sy haar lewe vir haar kinders gee as dit moet.
Om te sê die Chapman-gesin, pa Michael (39), ma Muriel (37), seun Cejay (7) en dogter Meecah (5), het baie deurgemaak, is ’n understatement. Hoewel albei kinders nou gesond en gelukkig is, was hulle drie jaar gelede in volslae wanhoop gedompel.
Sindroom in familie
Die geboorte van hul eersteling, Cejay, sewe jaar gelede het Michael en Muriel se hegte band versterk en die paartjie se liefde vlerke gegee. Maar die lewe het hulle kort daarna op ’n wipplankrit gevat – van ekstaties na die moontlikheid van twee oop grafte.
’n Genetiese niersiekte, nefrotiese sindroom, waarvan hulle nog nooit gehoor het nie, het hulle in ’n wedloop met die dood gesit toe eers Cejay en toe Meecah, albei op die ouderdom van een jaar en agt maande, daarmee gediagnoseer word.
Tog het hierdie stryd die gesin soveel nader aan mekaar gebring, want deur
hierdie ondenkbare moeilike tyd, het hulle die stryd as ’n eenheid aangepak en bo die dood geseëvier.
Cejay was sedert sy geboorte in 2010 ’n bondeltjie vreugde en altyd gesond. Daarom was dit so ’n skok toe sy crèche Muriel eendag (toe hy een jaar en agt maande was) by die werk bel om te sê hy is van kop tot tone opgeswel. Sy gesig was so opgepof sy ogies het gesukkel om oop te gaan. Dit was heeltemal uit die bloute en toe dit ’n week later weer gebeur, het Muriel en Michael hom kliniek toe geneem.
Muriel vertel die kliniekpersoneel het gesê dit lyk asof Cejay water terughou en hulle moet hom eerder na die Victoriahospitaal in Wynberg neem sodat hy ’n pediater kon sien en sy uriene getoets kon word. Hulle sou nooit kon droom daar is iets ernstigs fout met hom nie – hy was dan so ’n gesonde, uitbundige seuntjie. Die studente-dokter by die hospitaal het ook nie so gedink nie en hulle huis toe gestuur met ’n voorskrif vir glukose. Sy diagnose? Cejay kry tande.
Maar kort daarna het Cejay weer begin swel, soveel so dat hy blou geword en gesukkel het om asem te haal. Hulle het dadelik hospitaal toe gejaag en daarop aangedring het dat die pediater hom ondersoek. Ná talle toetse het die pediater Cejay gediagnoseer met nefrotiese sindroom – ’n niertoestand wat veroorsaak dat jou liggaam te veel proteïene in jou uriene vrystel.
Cejay is dadelik opgeneem en Muriel moes vir drie weke saam met hom in die hospitaal bly, waarná hy oorgeplaas is na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad.
Die ouerpaar sê hulle raak soms tog ’n bietjie hartseer omdat Cejay van een en ’n half jaar tot drie jaar oud uitgemis het op kindwees omdat hy vasgekluister was aan ’n hospitaalbed.
En terwyl Muriel en Michael alles moontlik gedoen het om sterk te bly vir Cejay se onthalwe, vind Muriel in 2012 uit sy is weer swanger.“Ek het aanvanklik baie gesukkel om dit te aanvaar,”erken sy.“My enigste kind was dodelik siek. Hoe kon ek nou nog fokus op ’n ander kind ook? Ek het vir die Here gevra hoe kon Hy dit aan my doen – ’n siek kind én ’n onbeplande swangerskap.”
Michael sê hy was net so geskok toe hy die nuus hoor, maar hulle het saam besef dit is God se wil.
Muriel moes aan en af by Cejay in die hospitaal bly tot die dag van Meecah se geboorte in 2013. Dit was ’n uiters spanningsvolle tyd in hul lewens. Elke keer moes Muriel vir Cejay nuwe medikasie by die huis gee en elke keer het sy liggaam dit verwerp. Maar toe dinge uiteindelik tot op ’n punt kom, was dit amper erger. Dokters vir Muriel en Michael ingeroep en verduidelik daar is niks meer wat hulle vir Cejay kan doen nie. Sy niere het totaal en al ingegee. Hy was vir ’n jaar lank op dialise om sy liggaam te dreineer, maar die feit het bly staan: Cejay moes ’n nieroorplanting kry.
As ’n mens vandag na dié sewejarige kyk, kan jy amper nie glo dat sy lewe nie te lank terug aan ’n draadjie gehang het nie.
Hy is onmiddellik op die oorplantingslys geplaas, maar niemand het geweet of hy betyds ’n nier sou kry nie. Op die tengere ouderdom van twee, het Cejay se vooruitsigte nie goed gelyk nie. Michael en Muriel se hele familie is getoets om te sien of enigiemand ’n match is, maar Muriel, wat pas geboorte gegee het, was die enigste een wat kon help. Tog was dit ’n taak wat sy ná maande van magteloosheid met albei hande aangegryp het.“Ek was nie bang nie, want ek moes my kind se lewe red,”onthou sy.“Ek het geloof gehad en vir God gevra om my veilig te hou deur die operasie, want my kinders het my nog nodig.” kommer oor operasie Die operasie was meer moordend op haar liggaam as wat sy gedink het. Omdat sy nog ’n bietjie ekstra vet van haar swangerskap gehad het, kon dokters nie ’n klein sny maak nie. Hulle moes haar oopsny en haar een rib uithaal om die nier te kry. Toe sy probeer regop sit ná die operasie, het sy haar long ook seergemaak. Sy kon ook vir ’n week lank glad nie vir Cejay sien nie.
Die ander probleem was haar morfiendrip is nie reg ingesit nie en sy kon alles voel. Die pyn was byna onuithoudbaar. Tot vandag toe sukkel sy met ’n intense moegheid omdat sy net een nier het en kan daarom ook nie werk nie.
Michael onthou die dag van hierdie operasie, 14 Februarie 2014, soos gister. Muriel was in Groote Schuur-hospitaal en hy het by Cejay gebly in Rooi Kruis. Hy het nie geweet watter kant toe om hom te bekommer nie. Hulle het op hete kole sit en wag vir nuus van die nier en van sy vrou. Gelukkig het alles goed afgeloop en hy kon huis toe gaan om ’n bietjie te gaan rus.
Maar, by die huis aangekom ná die uitmergelende tyd met Cejay, het Michael se hart in skerwe gespat. Meecah, toe ’n jaar en agt maande oud, was opgeswel. Net soos Cejay. Die nagmerrie van voor af.
Hy was verpletter en vertel die emosies was oorweldigend. Maar ná die aanvanklike skok, het hy besef hulle ís al hierdeur, hulle weet wat om te verwag en hulle kan dit weer oorleef. En hulle hét.
Meecah is getoets met geboorte, maar daar was geen aanduiding dat sy dieselfde paadjie as Cejay sou stap nie. Sy het egter gesukkel met lae kalsium-vlakke en stuipaanvalle. Muriel se vrees is dat Meecah se immuunstelsel nie is wat dit moet wees nie, omdat sy moes ophou om haar te borsvoed op sewe maande om haar seun se lewe te red.
Sy het baie vrae gehad ná Meecah se diagnose.“Hoekom wéér? Hoekom my ander kind ook?”Maar op14 September 2015, ná ’n jaar op dialise, het Meecah ’n suksesvolle nieroorplanting gehad. (Sy het ’n ander skenker gehad.)
Cejay en Meecah het nog albei hul eie twee niere plus die geskenkte niere. Hul eie niere sal verwyder word indien dit hul lewe bedreig.
Maar behalwe dit, gaan dit goed met Cejay en Meecah hoewel Meecah van tyd tot tyd nog siek raak. En hoewel Muriel haar eie gesondheidsprobleme deesdae ervaar, is die gesin dankbaar hulle het nog mekaar, want dinge kon soveel anders uitgedraai het . . .