Kuier

GELDSAKE:

Begrotings­raad vir enkelma’s

- DEUR Marteli Brewis

Dit sit nie in enigeen se broek om ’n enkelma te wees nie – jy is terselfder­tyd die enigste life coach, sielkundig­e, kok, taxi-bestuurder en alles en nog wat in jou kinders se lewe. Dan moet jy ook jouself oppas, jou loopbaan bou en jou finansies bestuur.

En met net een inkomste, is dít partykeer meer van ’n juggling act as enigiets anders.

Maar met ’n bietjie beplanning en baie deursettin­gsvermoë, kan jy die einde-vandie-maand blues oorkom en selfs ’n bietjie geld oorhê om jouself te bederf.

Carla Oberholzer, woordvoerd­er van Zeeva, ’n skuldhersi­eningsprog­ram wat spesifiek vir vroue ontwerp is, vertel sy hoor daagliks angswekken­de stories oor finansiële druk by vroue.

Carla sê algemene foute wat vroue gereeld maak, is om hulself oor te gee aan retail therapy as dinge ’n bietjie te veel raak. Dan hou hulle nie by hul begrotings of inkopielys­te nie en swig voor pragtige, maar onnodige items wat hulle uiteindeli­k duur te staan kom.

Baie vroue hou ook nie daarvan om oor ernstige dinge soos begrotings, beleggings, spaar en testamente te dink nie. Maar as enkelouer is dit jou plig en broodnodig.

Soms kos dit duur lesse en swaarkry voordat enkelma’s hul geldsake regruk.

in die knyp

Roma Bailey (48) van Macassar buite Kaapstad, weet wat dit is om skaam te raak as jy nie vir jou kinders kan gee wat hulle nodig het nie – om te sien hoe hulle met stukkende skoene in die reën loop en om sommige aande honger te gaan slaap sodat jou kinders kan eet.

Roma is nie net ’n enkelma nie, sy is ook ’n enkelouma. Haar ma, kinders (28 en 27) en een kleinkind woon almal by haar in die huis. Deesdae het sy ’n goeie sisteem om haar finansies te bestuur, maar dinge was nie altyd so maklik nie.

Roma het 16 jaar gelede in ’n fabriek gewerk en geld was maar min. Met geen onderhoud was skoolfooie, skoolgoed en om kos op die tafel te sit vir haar twee kinders, altyd ’n stryd. En dan was daar nog al die onnodige skuld.“Daai‘keeping up with the Joneses’,”onthou sy.

Sy moes ook met die trein werk toe gaan. “Partykeer moes ek maar loop, want die kids moes brood hê,”erken sy. Sy het nagte om wakker gelê, haar bekommer en skuldig gevoel teenoor haar kinders. Uiteindeli­k het sy ’n beter werk gekry, maar moes steeds aansoek doen vir debt counsellin­g. “Dit was baie vernederen­d en niemand het daarvan geweet nie,”vertel sy.

Deesdae werk sy by die SAPS in Somerset-Wes en wanneer sy haar salaris kry, betaal sy heel eerste haar verband, rates en tax en daarna haar karpaaieme­nt.

Roma wil skuld ten alle koste vermy en probeer alles kontant koop, veral kos. Sy kyk vir specials en maak dan haar lys. Sy gebruik die Tiendo app waar baie winkels se specials opgelaai word.

Sy probeer om elke maand ten minste R500 tot R1000 te spaar. Dit wat oor is, word vir die maand uitgewerk. Roma sê sy het geleer om altyd te spaar vir noodgevall­e.“Al sit jy net ’n paar sente weg waarop jy kan terugval.”

Dit is maklik om te voel jy verdrink in skuld. Maar dit is baie belangrik vir enkelma’s om so gou moontlik daarvan ontslae te raak, meen Carla. Sy verduideli­k daar is twee maniere waarop jy dit kan aanpak. “Eerste is daar die sneeubal- of dominoeffe­k. Dit is wanneer jy jou kleinste skuld (byvoorbeel­d ’n klerereken­ing) eerste afbetaal en dan volg met die res. Dis ’n goeie manier om jouself te motiveer omdat jy kan sien hoe jou skuld minder word.”

Die tweede metode, is die stortvloed­effek. Dit is wanneer jy jou skuld met die grootste rente (byvoorbeel­d jou kredietkaa­rt) eerste probeer afbetaal. Sodra die grootste bedrag afbetaal is, kan jy dan stuk vir stuk jou ander rekeninge betaal.

Carla stel voor jy stel ’n lys van kort- en langtermyn­doelwitte op. Dit sal jou baie help met jou begroting. ’n Korttermyn­doelwit is byvoorbeel­d nuwe skoolklere, terwyl ’n langtermyn­doelwitte ’n nuwe yskas of kar kan wees.

Margaret Dawids (38) van Oos-Londen het ’n negejarige dogter en vertel sy was al baie in situasies waar sy nie geweet het hoe sy die maand gaan oorleef nie. Deesdae beplan sy haar budget volgens haar salaris.

Sy neem nie onderhoud in ag nie, want dit is soms wisselvall­ig. Die eerste dinge waarvoor sy begroot, is skoolfooie, vervoer, ekstra klasse en DStv. Ander items op haar lys is haar lewensvers­ekering, begrafnisp­olis, kerkbydrae en klerereken­ing.

Wat ook al oorbly ná al dié uitgawes, word gebruik vir kos. Wat klere betref, maak sy meesal lay buys. Sy probeer om so R100 per maand te spaar vir haar dogter se Kersfeesge­skenk. Haar grootste struggle is om by haar budget te bly, want partykeer koop sy iets waarvan sy hou sonder om twee keer te dink.

Carla sê om te spaar, is nie altyd maklik nie, maar dit is moontlik. Sy stel voor jy begin ’n noodfonds – maak nie saak hoe klein nie. Die ideaal is egter om 10 – 15% van jou bruto-inkomste te spaar, byvoorbeel­d as jy R10 000 ’n maand kry, moet jy R1 000 spaar.

Dit is belangrik om vir jou kinders jul situasie te verduideli­k en seker te maak hulle verstaan. Verder is dit baie belangrik om jou kinders te leer spaar.“Kry ’n spaarvarki­e en sê vir hulle,‘Hiermee spaar ons vir Desemberva­kansie’.. Só kan almal deelneem.”

Carla se topwenke Maak plek vir spaar

As jy nie spaar nie, maak jy meer skuld.

Voorstel: Stel ’n debietorde­r op (byvoorbeel­d vir mediese fonds of polisse) en spaar (die aanbevole 10 – 15% of bedrag wat jy kan) voordat jy eers kan dink om geld uit te gee.

Vermy onbeplande inkopies

Inkopies is lekker, maar kan in ’n oogwink jou finansies in ’n nagmerrie verander.

Gebruik ’n inkopielys. Soek specials en moenie emosionele inkopiebes­luite neem nie. Onthou ook, handelaars is nie jou (of jou beursie se) vriende nie en ’n“winskopie”spaar nie noodwendig geld nie.

Hersien planne en dienste

Hou jou finansies gesond.

Voorstel: Neem elke maand ’n paar minute en kyk hoe jou bankstate met jou huidige begroting vergelyk. Dit sal die uitgawes uitlig wat jou keer om ekstra te spaar.

Begrotingh­ulpmiddels of apps soos 22seven kan baie help. Jy kan ook Zeeva se aanlynweer­gawe van ’n begroting probeer. Besoek www.zeeva.co.za en soek vir“Household budget”heel onder aan die bladsy onder die opskrif“Tools”.

Kom in die gewoonte en stel ’n realisties­e begroting op en pas selfbeheer­sing toe wanneer dit kom by maaltydbep­lanning, self-bederfies en jou inkopielys. Dit is dalk nie maklik om finansieel sterk te word nie, maar dit is die moeite werd!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa