Kuier

Kortverhaa­l

Toe haar man skielik sterf, word Rose se wêreld tot stilstand geruk en sy weet nie watter kant toe nie. Wat hou die toekoms vir haar in?

- Deur Douwlina du Plessis

Ouma Rose sug moedeloos. Sy verlang na haar man. Haar sterk man wat nog self in sy tuin gewerk het, wat rose aangeplant het, hulle self gesnoei het en elke lente die eerste knop wat oopgegaan het, nog nat van die dou, vir haar gebring het saam met haar oggendkoff­ie. Daar waar sy nog vir die pyn van rumatoïede artritis weggekruip het.

Dit is asof die rumatiek nou in haar hart ingetrek het. Niks kon haar voorberei op hierdie aanhoudend­e pyn nie. Dalk is dit omdat dit so onverwags gebeur het. Sy was nog in die bed toe sy hom hoor roep het in die kombuis. Hartaanval. Die ambulans was vinnig daar. Voordat die deur van die ambulans agter hom toegeskuif het, het hy vir haar ’n soentjie gewaai.

Dit was asof haar hart uit haar bors skeur toe sy hom sien gaan, asof sy geweet het hy gaan nie terugkom nie.

Sy het Jeanette gebel.“Pa is met die ambulans weg na Medi-Clinic. Dit is waarskynli­k ’n hartaanval. Sal jy die ander laat weet? Ek gaan agterna ry.”

“Ons kom, Ma Rose. En Ma . . . Ek is lief vir Ma.”Is dit regtig wat Jeanette vir haar gesê het? Dat sy lief is vir haar. Sy hou daaraan vas.

Die drie dogters het gekom. Jeanette, die sterk een. Marie, die middelkind, stil en tog op ’n manier sagter met mededoë vir haar medemens. Jackie, malkop, deurmekaar­kopkind, gewoonlik vol pret, maar toe stil met rooigehuil­de oë. Eintlik Hector se kinders, nie werklik hare nie, maar tog het hulle hare geword, ook in haar hart.

Hulle was al drie reeds tieners toe Hector met haar, die gemeente se oujongnooi, trou. Sy vrou was al twee jaar dood. Sy het haar bes gedoen vir die kinders. Sy het al die jare verlang na haar eie kinders.

Eers was dit asof hulle haar nie vertrou nie en toe was dit asof hulle haar versigtig aanvaar. Marie het eerste begin om vir haar Ma te sê. Soms was dit Ma en soms Tannie totdat dit net Ma geword het. Sy was goed vir hulle en hulle vir haar.

Nou kom hulle vir die begrafnis en hulle kom sien die prokureur. Dit was Marie wat haar gebel het.

“Ma Rose, ons wil eers vir Ma saam sien voordat Pa se testament gelees word. Sal dit vir Ma reg wees as ons by Ma oorslaap?”

“Natuurlik, my kind.” “Ma hoef nie vir ons iets ekstra te doen nie en ons bring sommer eetgoed saam. Moet Ma nou nie uitsit nie.”

Vir ’n oomblik voel sy seergemaak. Sy bak altyd koeksister­s en melktert as een van hulle kom kuier. Maak dan sommer ietsie lekker vir die kleingoed.

Nou het sy baie goed wat sy moet doen en deurgaan. Gelukkig was Hector se dokumente alles bymekaar. Sy het sy toegeplakt­e testament gerespekte­er en dit net so by sy polisse vir die prokureur gaan gee.

Die kinders kom huis toe. Dit is vir seker hulle huis. Dit was Hector en Klara se huis wat hulle vir hul kinders gekoop het. Sy weet dit en aanvaar dit so. Dit is net so moeilik.

Die rose het Hector vir haar aangeplant. Die dammetjie vir haar mak koivisse met sy eie hande gebou.

“Ag Vlooitjie, my hondjie, Ma se ou tranelekke­rtjie,”lag sy vir die klein Chihuahua wat haar trane van haar wang aflek. Haar hande verstil skielik op die warm lyfie. Wat gaan sy met Vlooitjie maak as sy uit die kinders se huis moet trek? Vlooitjie, vyf jaar gelede se wriemelend­e Kersgesken­klyfie.

“Vlooitjie, Ma kan net ’n klein woonstel kry en hulle wil dikwels nie ou vlooilyfie­s daar hê nie, maar Ma maak nou ’n belofte aan jou. Jy trek saam al gaan bly ons agter in ’n buitekamer wat hondvriend­elik is.”

Die hartseer trek deur haar hele lyf. Het sy dalk nou ’n vals belofte gemaak?

Sy worstel deur die nag. Draai haarself in die lakens vas. Vlooitjie is ook onrustig asof sy Rose se rusteloosh­eid aanvoel.

Iewers in die nag droom sy van Hector en ’n bloedrooi roos met doudruppel­s op. Hy gee dit vir haar en glimlag met die mooiste glimlag wat sy nog ooit gesien het. Sy kyk in sy oë en voel asof die hemel vir haar oopgaan. Diepe vrede spoel oor haar.

Hector sou haar nooit aan haar eie oorgelaat het nie. As sy tog net na hom geluister het wanneer hy die testament en polisse met haar wou bespreek. Sy wou nie.

Alles in haar het in opstand gekom elke keer as hy haar wou betrek by ’n moontlike toekoms sonder hom.

Jackie kom eerste aan. Deure vlieg oop en Yorkshire-terriërs blaf en storm die huis in nog voordat Jackie en haar dogter, Annabelle, uit die klein Suzuki is. Die hondjies hardloop deur die huis.

Hulle soek na Hector besef sy, die honde-oupa met die droëworsbl­okkies in sy bo-sak. Dan is Annabelle by en sy skep haar ouma in haar arms in en druk haar teen haar hart.

“Hulle soek vir Oupa.”En haar mooi oë skiet vol trane. Rose voel die trane verraderli­k in haar eie oë opstoot. Ek soek hom ook! Elke dag, elke oggendkoff­ie wanneer ek soms nog twee bekers skink, wanneer ek sy geliefde malvapoedi­ng maak, dit met ’n teelepel eet en met hom gesels sonder om antwoorde te kry.

Annabelle is ’n warm bondel vreugde teen haar lyf. Haar gunsteling­kleinkind, al is niemand veronderst­el om dit te weet nie. Annabelle die slimkop, sensitiewe kind wat haar nog nooit laat voel het soos ’n stiefouma nie. “Ouma, ek het groot nuus!!’ “Annabelle, wag eers!”keer Jackie. Hulle drink nog koffie in die warm kombuisie toe die ander twee susters stilhou voor die huis. Daar is nie kinders by nie al is dit skoolvakan­sie. Rose se hart krimp skielik. Dalk gaan sy nie meer ’n ouma hierna wees nie.

Marie se man, Phillip, trek haar in sy arms in en gee haar ’n sagte drukkie.

“Ek wens ek kon dit vir Ma makliker maak,”sê hy.

Die onverwagte begrip laat die trane stilweg oor haar wange loop. Of bedoel hy nou anders? Bedoel hy dalk hulle is jammer dat sy nou sal moet trek en dit is waaroor hy sleg voel?

Wanneer hulle met vars bekers koffie voor hulle sit, praat Phillip skielik saaklik.

“Ma, ons is almal bewus daarvan dat die dogters die huis erf, maar Pa het ook aan ons verduideli­k dat Ma eerste opsie het om die huis te koop as hulle sou wou verkoop. Hy het genoeg geld vir Ma nagelaat. Nou het ons egter anders gedink en wil dit graag met Ma bespreek. Ma is onder geen verpligtin­g om dit so te doen nie.”

“Eintlik is dit ek, Ma, wat dit van Ma wil vra. Ek en Annabelle,”sê Jackie.

“Ek wil by Ouma kom bly!”bars Annabelle los. Haar gesig straal. “Asseblief, Ouma, sê ja.”

“Ek verstaan nie,”sê Rose, maar haar hart klop vinnig in haar bors en ’n ligtheid kom oor haar. Annabelle wil by haar kom bly.

“Ma, Annabelle het haar kop neergesit op Bloemfonte­in. Sy wil hier haar studies kom doen. Die huis is naby die universite­it en ons weet eintlik wil Annabelle net by Ouma Rose kom bly, daar is niks verkeerd met die koshuise nie. Ma sal ons baie bekommerni­s spaar as ons weet sy is veilig by Ouma Rose. Die koshuise is nogal duur en ons het nou gedink as ons vir Ma betaal wat ons daar sou betaal, sal Ma en Annabelle uitkom in die maand.”

“Kind, dit is mos julle huis. Annabelle is net ’n plesier en kan rustig hier bly, maar van losiesgeld wil ek nie hoor nie.”

“Ma,”sê Phillip.“Ons ander betaal die res van die losiesgeld oor. Ons wou dit eintlik elke maand in elk geval vir Ma gee soos ’n pensioentj­ie van ons kinders. Kinders moet vir hul ouers sorg.”

Nou stroom die trane oor Rose se wange. Hy sê kinders moet vir hul ouers sorg, niks van stiefkinde­rs, en nou is dit hul huis en sy moet nie net uit nie. Sy huil net en lag bietjie tussenin.

“Ma, ons weet ons was moeilike tieners en ons weet noudat ons ouer is dat Ma kon gedink het dit is omdat Ma nie ons biologiese ma is nie, maar dit was nie. Ons was net moeilike tieners en sou maar seker so met ’n eie ma ook gewees het. Ons kan vir geen beter ma vra as wat Ma is nie en ons wil asseblief nie ons ma ook verloor noudat ons vir Pa verloor het nie,”sê Jackie. “Ma, ons wil asseblief Ma se kinders bly. Ons wil asseblief nog ’n ouerhuis hê en ons wil hê Ma moet weet dat ons altyd aan Ma gedink het as ons eie ma.” “Asseblief, Ma,”sê Jeanette. Skielik tjankblaf Vlooitjie en hardloop verspot om die tranerige mense en almal begin lag.

“Vlooitjie, sien jy nou? Die Vader het vir my kinders gegee. Dierbare kinders – en ek en jy gaan nog lank hier bly.”

Rose voel asof Hector haar na haar kinders toe stoot en haar dom voete kry skielik lewe en sy tree nader en omhels hulle een vir een.

“My kinders.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa