Die afgelope paar weke was omtrent ’n wipplankrit in die Suid-Afrikaanse politieke landskap. Jacob Zuma se bedanking as president van Suid-Afrika en die inswering van Cyril Ramaphosa as die tussentydse president tot die volgende verkiesing in 2019, het die nuus oorheers. Tot dusver lyk dit asof Cyril se aanstelling gunstig ontvang word deur baie Suid-Afrikaners. Ons wou by Kuier- lesers hoor hoe hulle oor hierdie verwikkelinge voel en of hulle selfs belang gestel het in Cyril se staatrede:
Ja, laat ons hom ’n regverdige kans gee. Soos hulle in Engelse sê,“the ball is in his court”. Hy kan dit maak of breek. Hy gaan nie soveel kanse gegun word soos Jacob Zuma nie; hy sal vinniger uit wees as wat hy in was. SUSANNA KRUGER
Ek wil graag hoor wat hy as president alles gaan aanpak en anders gaan doen. En dan wag en sien of hy ’n man van sy woord is. WILHEMINA CHRISTINA JACOBS
Ek gaan nie (die staatsrede) kyk nie. Ek hoop hy gaan ’n beter president wees. Hulle is almal crooks. FATIMA ISAACS
Ek gaan definitief kyk en ek wens hom al die beste toe vir sy reis vorentoe. Ek wil altyd weet wat in ons land aangaan. GRACE OLIPHANT
Ek gee hom ook maar net ’n regverdige kans, al is DA in my bloed. Ek sê altyd vir my dogter ek hou daarvan om ’n persoon self te leer ken, en nie wat ek hoor van daai persoon nie. ANN JACKSON
En op ’n heel ander noot wou ons weet of Kuier- mense dink daar bestaan iets soos persoonlike ruimte op openbare vervoer soos treine, busse en taxi’s.
In die bank se ry kan ek so kwaad word as iemand so na aan my staan. Skuif ek, dan skuif die persoon ook. Ai weet julle, dis erg. Dan moet ek my net in toom hou of ek sê iets verkeerd. SUSAN ROBERTS
Ja, veral in oorvol treine waar mense staan en jy kan nie beweeg nie, want almal druk teen jou asof dit hulle reg is.
Ek ry lankal nie meer trein nie. En in taxi’s as jy gemaklik op jou seat sit, dan sê die sliding door operator jy moet op ’n laptop sit, maar dan moet jy volprys betaal vir die ongerief. Eish. GRACE SASS
Net gister vererg ek my so vir die man langs my op die bus. Sy elmboog is heeltyd in my ribbes en ek vroetel, maar hy gaan sit. Ek sê vir hom hy gaan my pap druk teen die ruit, maar hy sit! GERALDINE MARAIS