Kuier

Voorblad: Odessa Swarts soek nuwe uitdagings

Ná jare van swaarkry en kinders grootmaak, sien sy daarna uit om haar eie drome na te volg.

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

Haar seun is dalk ’n Olimpiese held en wêreldreko­rdhouer, maar dís nie waarvoor sy bekend wil wees nie. Vir die afgelope 25 jaar het Odessa Swarts soos enige ma haar alles aan haar kinders en gemeenskap gegee, maar in haar eie reg is sy ’n geliefde afrigter en ook ’n uithaler-atleet in haar jongdae.

Maar nou, in haar veertigs, wil sy weer haarself vind en onthou word vir die verskil wat sy in ander se lewens gemaak het en nie net as die Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk se ma nie.

As Odessa (44) by ’n vertrek instap, is haar vriendelik­e glimlag die eerste ding wat jy raaksien. Dis dieselfde glimlag wat Suid-Afrika leer ken het toe sy onlangs aan M-Net se realiteits­dansreeks Dancing with the

Stars South Africa deelgeneem het. (Sy het in die vyfde episode uitgeval.)

Sy kom dalk skaam en teruggetro­kke voor, maar ná vyf minute in haar geselskap sal jy vinnig agterkom hierdie ma van drie is gemaklik in haar eie vel is eintlik baie snaaks en selfversek­erd.

Sy weet wat sy wil hê en watter doelwitte sy nog wil bereik. Dit is met hierdie houding dat sy alles in haar lewe aanpak, want Odessa kén van swaarkry. Sy is oorspronkl­ik van Kraaifonte­in in die Kaap, maar woon al vir die afgelope 11 jaar saam met haar gesin in Bloemfonte­in.

Sy vertel sy het jare lank saam met haar ma en suster in ’n kamer in ander mense se huis gewoon en dat hulle dikwels oorskietko­s wat haar ma van die werk af gebring het, vir aandete moes eet. Dinge was nie altyd maklik nie, maar dit het haar die mens gemaak wat sy vandag is en ook die ma en antie wat sy vandag vir haar kinders en hul vriende is.

Odessa is ’n trotse ma wat elke rugby-, atletiek- en hokkie-byeenkoms bywoon en vir ure langs die veld of baan op haar hardste vir haar kinders skree. Sy is ’n afrigter

wat haar kinders aanmoedig om nooit op te gee nie, want al is hulle nie so goed soos iemand anders nie, is die belangriks­te om die beste weergawe van hulself te wees.

En sy is ’n vrou wat met liefde by haar man, Steven, deur die goeie en moeilike tye staan. Odessa is ook daardie gemeenskap­smens wat elke dag met vrugte of ’n eetding in haar motor in die dorp rondry ingeval sy iemand op die pad kry wat honger is.

alles vir kinders

Min mense weet Odessa was self ’n goeie atleet in haar jong dae, maar dat sy weens apartheid nie destyds internasio­naal kon meeding nie. Maar al die uitdagings het haar vroeg in haar lewe laat besluit dat sy vir haar kinders, Wayde (25), Craig (21) en Kayla (15), meer geleenthed­e wil gee as wat daar vir haar was. Sy is glad nie spyt oor enige pad wat haar lewe gevolg het nie.

Sy glo die lewe het vir haar presies uitgewerk soos wat die Here dit beplan het en al het sy jare gelede daarmee gesukkel om in die Here te glo, het sy ná Wayde se geboorte baie krag en vertroosti­ng in die Here gevind.“Omdat ons so swaar grootgewor­d het en ek ook nie die beste ervaring op skool gehad het nie, het ek vir ’n baie lang tyd geglo dat die Here my verlaat het. Ek kon nie verstaan hoe die Here kon toelaat dat ’n mens so ongelukkig kan wees nie. Maar toe Wayde so vroeg gebore is en dokters nie veel hoop vir hom gehad het nie, het ek al my fokus op die Here gesit en hom gesmeek om my kind te red. Sommige dokters het nie eens gedink hy sal kan stap nie en vandag is hy die atleet wat hy is. So hoe kan ’n mens dan nie in die Here glo nie?”sê sy.

Nadat sy nader aan die Here begin leef het, het dinge vir Odessa verander. Sy het ’n werk gekry en haarself begin opbou. Sy het geweier om ’n statistiek te wees van meisies wie se lewe en drome ophou nadat hulle ’n tienerswan­gerskap gehad het.

Odessa glo wat jy insit, is wat jy uitkry en dat niks onmoontlik is nie en dít is die waardes wat sy vir haar kinders ook geleer het. Sy lag skaam wanneer sy erken dat sy dalk miskien te streng met haar seuns was en nou ’n bietjie te sag met haar dogter is. Dit is iets wat Odessa soms as ’n ma bekommer, want sy wil nooit hê haar dogter moet dinge te maklik kry en vergeet dat jy vir dinge in die lewe moet werk nie. Dis ook hoekom sy van kleins af klein dinge doen soos om vir haar kinders hul eie borde te laat skep sodat hulle besef hulle is gelukkig en daar baie mense is wat nie kos het om te eet nie.

“Ek was streng met die seuns en toe ek ’n meisie kry, het dinge ’n bietjie verander. Dit is anders om ’n meisie groot te maak en ek dink omdat ek self ’n tomboy is, was dit vir my maklik om seuns groot te maak,”sê sy.

“Ek het ’n spesiale verhouding met al drie my kinders en hulle is wonderlik, maar jou verhouding met ’n dogter verander en dit is hoekom ek soms bang is dat ek te sag is met haar. Ek wil hê sy moet nes haar broers weet hoe om mense te respekteer en hard te werk vir dit wat jy wil hê. Soms dink ek ons bederf haar te veel en ek dink die seuns sal saamstem,”sê sy terwyl sy lekker lag.

dinge vir haarself

Noudat haar kinders groot is en hul eie paadjies volg, wil sy graag dinge aanpak waarvoor sy nie altyd tyd voor gehad het nie of dinge doen wat haar uit haar comfort zone uit vat, soos haar onlangse deelname aan Dancing with the Stars South Africa.

Odessa wou aanvanklik nie deelneem nie en dit het baie praatjies van Steven en die kinders gekos om haar te oorreed. Maar selfs nadat Odessa besluit het om dit te doen, het sy begin twyfel omdat baie mense op sosiale media begin vra het hoekom sy deelneem as sy nie ’n“celeb”is nie.

“Dit is soms moeilik noudat ons familie in die kollig is om nie vir jou aan mense se negatiewe kommentaar te steur nie, maar my kinders het almal baie sterk persoonlik­hede en het vir my goed geleer hoe om dit te hanteer,”sê sy.

“Ek identifise­er nie met die woord‘celeb’nie. Maar toe ek regtig gaan kyk na die woord‘ster’, het ek daarmee geïdentifi­seer, want ek hoop om ’n ster te wees in die lewens van die mense na aan my en met wie ek in aanraking kom. Die show se naam is

Dancing with the Stars en nie‘celebs’nie en nadat ek dít besef het, het ek gevoel ek behoort daar. Dit was baie moeilik, maar dit was ’n ongeloofli­ke ervaring vir my. Ek dink as ’n ma vergeet ons soms om dinge vir onsself te doen. Dit was die eerste ding wat ek in ’n baie lang tyd vir myself gedoen het.”

Hulle is ’n baie private gesin en daarom sal jy nie sommer sien dat hulle mekaar in ’n post tag nie. Hulle deel ook nie graag foto’s of dinge van hul gesin nie. Hulle glo dis meer spesiaal om vir iemand iets persoonlik te sê as om dit te post. Odessa sê deesdae sien sy Craig maar min omdat hy altyd by ouboet Wayde se huis kuier, maar dit is vir haar ’n opwindende aanpassing om te sien hoe haar kinders grootword en hul eie ding begin doen.

Ten spyte van uitdagings het Odessa haarself as ma goed van haar taak gekwyt. Sy is nie ’n celeb nie, maar sy is ’n ster in haar gesin se lewe en dis wat regtig saak maak. Haar storie herinner ook alle vroue dat al is jy ’n ma verdien jy om vir jouself ook iets spesiaals te doen.

 ??  ?? HOOFFOTO: Odessa Swarts is trots op haarself en wil nuwe dinge aanpak.
HOOFFOTO: Odessa Swarts is trots op haarself en wil nuwe dinge aanpak.
 ??  ?? Odessa en haar dansmaat, Dylon Daniels. ONDER: Odessa se gesin by haar seun Wayde van Niekerk se troue verlede jaar.
Odessa en haar dansmaat, Dylon Daniels. ONDER: Odessa se gesin by haar seun Wayde van Niekerk se troue verlede jaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa