LIEFDE BEGIN BY OUMA
LAUREL GAAN TROUE TOE Dit is Rosie se groot dag en Laurel moet gelukkig vir haar suster wees al lê haar hart aan skerwe. Hoe sal sy dit deur dié dag maak? Deur cliffordene norman
Ouma Lenie kom by die agterdeur van die klein huis uitgestap toe Laurel agter die huis stop. Haar kierie sak op die grond neer voordat haar twee bene volg. Ouma Lenie is haar ouma en grootmaakma. Haar hart klop warm vir hierdie sterk vrou voor haar.
“Jy is laat. Die troue begin oor twee ure,” groet die matriarg terwyl sy na die motor toe aansukkel.
Ja, die troue van haar suster aan haar ekskêrel. Great! Sy het pas seshonderd kilometer ná ’n harde week by die werk gery, want Rosie trou en familie staan saam.
Laurel maak haar veiligheidsgordel los en maak die deur oop net toe haar ouma tot stilstand kom. Sy staan een oomblik en kyk af in haar ouma se sagte bruin oë voor sy afbuk en die klein lyf teen haar vasdruk. Van wanneer af is sy langer as haar grootmaakma? “Hallo, Mamma.” Ouma Lenie soen haar op die mond en druk haar styf teen die bors vas. Peperment en Rare Pearls-parfuum – kom die reuk van haar kindertyd terug.“Hallo, my kind. Ek is bly om weer jou gesig te sien.”
Skuldgevoelens spoel oor. Haar ouma vra haar gereeld om meer huis toe te kom, maar sy het elke keer ’n verskoning. Sy is al drie jaar in Johannesburg. Dit word makliker om weg te bly, daar is genoeg verskonings. Werk, ’n krisis hier, ’n projek daar.
“Ek mis jou, my kind. Die huis voel nie meer dieselfde sonder jou nie. Kom, kyk vir my.”’n Sagte hand vat aan Laurel se ken. Ouma Lenie se oë beweeg soekend oor haar kleinkind se gesig. Sy kyk dan in Laurel se oë en sug. “My kind, is jy oukei?”
Dit was dieselfde vraag wat haar ouma sewe maande gelede gevra het. Toe sy gebel het om te vertel Rosie en Malcolm gaan trou. Rosie is haar jongste sussie, selfs al is sy nie haar ma of pa se kind nie. En Malcolm is . . . was die man wat sy so seker was sy sou mee trou.
Sy onthou toe sy Malcolm die eerste keer gesien het. Hy is ’n mooi man. Nie aantreklik nie. Mooi! Maar hy was mooier aan die binnekant. Die soort mooi wat jou jou naam laat vergeet. Die soort man
wat sy nooit sou date nie. Toe sy hom die eerste keer sien, het sy haar wegneemkoffie laat val en gelukkig net haar naam met ’n plank geslaan.
“Trouman, sê ek jou. Hierdie man is myne. Hy is waarvoor ek gewag het,” het sy daardie aand aan haar twee susters gesê.
Hy is alles wat sy wou hê – slim, sensitief en vriendelik. Ná ’n klomp koffie dates by die werk, het hy haar begin uitneem. Sy was besig om lief vir hom te raak toe haar susters hom wou ontmoet.
“Komaan, ons moet hom ’n moeilike tyd gee, dreig met warm water en ouma Lenie se kierie sodat hy weet hy moenie met jou mors nie,”was Rosie se argument.
“Net omdat ons nie close neefs of broers het nie, moet hy nie dink hy kan jou kom rondjaag nie.”
Daisy het haar lag gekeer.“Ek is seker Malcolm is ’n nice ou en Rosie is net stout. Maar dit sal lekker wees om hom te ontmoet. Ek sal ouma Lenie se skaapkerrie en gebakte hoender maak. Hy sal sommer lief raak vir jou.”
“Wat is fout met my hande dat ek nie my eie resep kan kook nie, Daisy?”het hul ouma streng gevra.
Sy en Rosie wou keer, maar Daisy glo in goeie maniere en eerlikheid.
“Ouma is oud en dokter Schoeman het gesê Ouma moet dit rustiger vat. Ouma Lenie moet die rustyd geniet.”
“Oud?”het hul ouma begin. Laurel en Rosie het mekaar een kyk gegee en toe besluit om stilletjies na hul kamer te verdwyn.
Die aand van die ete het Malcolm almal beïndruk. Hy het vir ouma Lenie blomme gebring en ’n boks donkersjokolade vir elk van die susters. Hy was vriendelik, sjarmant en opreg. Maar ná die aand van die ete was hy afgetrokke. Hy was vriendelik, maar ook nét vriendelik. Flirt en romanse het die pad gevat en Laurel was seergemaak. Sy het dit met haar susters bespreek.
“Kom my kind, die troue begin oor twee ure en ons moet ons gaan mooimaak,”trek ouma Lenie haar uit haar verlede.“Almal is in my kamer. Rosie het iemand gekry om die make-up te doen en om foto’s te vat.”
“Is Rosie al hier?”Dit voel asof haar maag holderstebolder draai. Wat is dit met familie? Hulle het die vermoë om ’n mens so seer te maak, maar tog wil sy steeds haar suster sien.
“Ja, sy het ’n pragtige rok. Dit lyk soos ’n rok uit die vyftigs.”Haar ouma se oë draai na haar.“Ek vra weer, is jy oukei?”
“Ek is hier,”probeer sy die vraag ontwyk. Sy kon nooit vir haar ouma jok nie.
“Jy is hier, want jy doen altyd die regte ding.”Sy verskuif haar kierie na die ander hand.“Sê nou vir my, is jy oukei?”
Laurel sluk.“Ek voel skuldig, Mamma. Drie jaar en ek het nog nie vergewe en vergeet nie. Miskien het ek nie ’n hart vir vergifnis nie.”
“Vergifnis kom nie vanself nie, my kind. Dit kos werk.”Ouma Lenie vat haar om die middel vas.“Vat ’n rukkie, my kind, voel alles wat jy moet voel, want as jy hier ingaan, is dit Rosie se dag. Dis Rosie se troudag, my kind, en vir vandag moet jy jou gevoelens vergeet. Jy is vandag haar suster, nie Malcolm se eks nie. Hoor jy?” “Ja, Mamma.” Laurel druk haar gesig in haar ouma se nek en vind troos in haar arms.
Die kamer lyk soos iets uit ’n bruidstydskrif. Daar staan rose op die bedkassie en verskillende rokke hang teen die hangkas.
“Laurel!”Daisy hardloop in haar suster se arms. Sy ruik soos vars lenteblomme. “Hallo, Daize. Jy lyk mooi.” Sy staan terug en kyk na die bruid. Rosie lyk ongelooflik. Sy was nog altyd mooi met haar groot mond, melkkoffie-vel en kuiltjie in die ken. Maar vandag gloei haar gesig en vel. Haar oë blink en wie ook al haar make-up gedoen het, het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.
“Hallo, Laurel.”Rosie draai weg van die spieëlkas en staan op. Sy klink versigtig. “Hallo, Rosie. Jy lyk pragtig,” sê Laurel. “Dankie. Ek weet vandag is moeilik vir jou.”
Eerlikheid is die laaste ding wat Laurel verwag het. Toe sy uitgevind het Malcolm en Rosie het ’n verhouding aan, het dit gevoel asof haar hart in twee skeur. Ná weke van haar hart uitpraat en Rosie was die rede waarom Malcolm nie meer in haar belanggestel het nie. Haar suster was die ander vrou. Vir hulle was dit liefde met die eerste oogopslag. Vir haar was dit hartseer en verwerping. “Ek is jammer.” Daai drie woorde vat haar terug na die aand toe Rosie se selfoon gelui het. McDreamy het oor die skerm geflits en Laurel het geantwoord. Nuuskierig oor die man waarvan haar suster haar nie vertel het nie. “Hallo?” “Hallo, Rosie?” Vir ’n oomblik kon sy nie die stem plaas nie totdat hy weer gevra het.“Rose?” “Malcolm?” “Is dit Rosie?” “Nee, dis Laurel. Hoekom bel jy my suster?”
Dit was lank stil en Laurel het gewag vir ’n antwoord. Toe Rosie instap het sy haar daaroor gevra. “Hoekom bel Malcolm jou?” “Laurel,”met trane in haar oë, het haar suster na haar gedraai.“Ek wou nie hê jy moet só uitvind nie. Ek en Malcolm . . .”
Laurel het die selfoon in Rosie se hand gestop en weggestap. Rosie tree nou nader.“Ek het nooit die geleentheid gekry nie daarom wil ek vandag sê ek is jammer.”Laurel stoot die herinneringe weg en trek haar suster aan die skouers nader. “Ek is jou suster en vandag is jou dag. Kom ons vier dit.”
Haar suster is ’n pragtige bruid, dink Laurel toe Rosie en ouma Lenie na die kansel toe aangestap kom. Haar oë beweeg na die bruidegom. Malcolm is aantrekliker. In sy oë is ’n geluk en sekerheid wat sy weet hy nooit saam met haar sou ervaar nie. Sy soek dit, dink Laurel terwyl sy terugdraai na die bruid. Sy soek ook ’n liefde waarvoor sy alles sal waag.
* Lees die slothoofstuk in die uitgawe van 30 Mei.
Ek voel skuldig, Mamma. Drie jaar e nek het nog nie vergewe en vergeet nie. Miskien hete knie’ n hart virvergifnisnie.